Die laaste vier hoofstukke van Genesis brei uit oor die wyse waarop Jakob en sy seuns in Egipte vestig vir die fase van nasiebou, hoewel dit nie net ‘n lang tyd sou neem nie, maar ook groot ontberinge sou insluit. Die volgende temas word aangestip in die proses:
Jakob seën die farao met hulle eerste ontmoeting – Gen. 47:1-12
Josef verstewig die farao se greep op die mense en sy land – Gen. 47:13-26
Jakob seën Josef se twee seuns – Gen. 47:27-48:22
Jakob seën die res van sy seuns – Gen. 49:1-28
Josef stel sy broers gerus met Jakob se dood dat God steeds vir hulle sal sorg – Gen. 49:29-50:21
Josef herinner sy broers met sy eie dood dat God hulle sal terugneem na die beloofde land – Gen. 50:22-26
Ons lees die eerste drie temas as ‘n eenheid en daarna ook die laaste drie temas in die volgende bydrae.
Soos ek in die vorige bydrae gemeld het, sluit die boek Genesis in die laaste twee hoofstukke af met die volgende drie temas:
Jakob seën die res van sy seuns – Gen. 49:1-28
Josef stel sy broers gerus met Jakob se dood dat God steeds vir hulle sal sorg – Gen. 49:29-50:21
Josef herinner sy broers met sy eie dood dat God hulle sal terugneem na die beloofde land – Gen. 50:22-26
Dit is drie baie belangrike temas in die lig van die nuwe situasie waarin hulle hulle nou in Egipte bevind. Al drie temas vertolk die toekoms vir die groeiende Godsvolk.
Jakob lewer sy seën in die vorm van ‘n laaste testament waarin sy toekomsvisie vir sy kinders en hulle nageslagte uitgespel word.
Josef fokus ook op die toekoms. Aan die een kant fokus hy in die onmiddelike toekoms op sy lojaliteit aan sy broers. Hy begrond dit in God se sorg vir hulle. Hy sal hulle nie anders hanteer as wat God dit doen nie.
Josef fokus egter aan die ander kant ook op God se sorg in die verre toekoms, d.w.s. selfs ná hy dood is. Hy verklaar stellig dat God hulle sal terugbring in Kanaän as vervulling van sy belofte aan hulle.
Die hoop op ‘n land van hulle eie word daarmee brandende gehou. Al sou dié tydperk in die geskiedenis van die Godsvolk meer as vier eeue duur, sou daar ‘n dag aanbreek waarin die Here hulle sou uitlei. Daarvan vertel die boek Eksodus ons.
Ons lees in die verhaal van Abraham en Sarai in Egipte dat die Here Sarai beskerm van die belangstelling van die farao: “Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram.” (Gen 12:17). So vertaal die meeste vertalings dit.
Maar dit is nie al manier om dit te verstaan nie. In die Hebreeus staan daar dat die Here farao en sy huis met swaar plae getref het: “oor die woord (al-dabar) van Sarai“, die vrou van Abram.
Nou, die Hebreeuse dabar kan as “saak” vertaal word, soos dit gewoonlik in die tradisionale vertalings van die frase gedoen word. Dit wil sê, die Here tree dan op: “oor die saak van Sarai“. Sommige vertaal die frase dan ook net “oor Sarai” om dit eenvoudiger te stel.
Maar, die normale betekenis van die Hebreeuse dabar is eintlik “woord“. Indien dié vertaling gekies word, verander dit nogal die betekenis van wat hier gebeur! Dan gaan dit oor iets wat Sarai gedoen het, ‘n woord van haar, óf in gebed voor die Here óf in opdrag van Hom aan die farao.
As dié vertaling van dabar gekies word, was Sarai nie ‘n passiewe deelnemer in die vergryp van farao nie. Trouens, die enigste passiewe een was dan Abram wat niks gedoen het aan die dreigende situasie wat die belofte van die Here vir ‘n nageslag uit Sarai in die gevaar sou stel.
Die optrede van die Here kan dus taalkundig verbind word aan óf Sarai se woord (gebed) aan die Here oor haar situasie, óf Sarai se woord (profesie) van die Here af aan farao wat hulle met plae getref het.
Laasgenoemde interpretasie is veral aantreklik vir my in die lig van die feit dat dieselfde frase gebruik word deur Moses waar dit duidelik met die plaag van paddas geassosieer word. Hy bid daar (letterlik vertaal): “En Moses het uitgeroep na die Here oor die woord (al-dabar) van die paddas wat Hy oor farao gebring het.” (Eks 8:12).
Hierdie interpretasie word uiteraard nie deur ander gegewens gesteun nie wat ‘n mens versigtig moet maak om te veel daarin te lees. Maar, as dit ‘n geldige interpretasie is, beteken dit ten minste die volgende:
Sarai was nie ‘n passiewe deelnemer in die aartsvaderverhale nie. Soos ons immers later sien in die ontvouing van die vervulling van die Here se beloftes ook aan haar.
Sarai was ‘n verskuilde voorloper van die verlossing wat God deur Moses vir die volk deur plae uit Egipte sou verskaf eeue later.
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar