Daar is min verhale in die Bybel wat ‘n mens tegelykertyd só diep roer op ‘n menslike vlak en só fundamenteel uitdaag op teologiese vlak. Abram word beproef op ‘n manier wat nie net elke ouerhart sal laat saamtrek nie, maar ‘n venster word na die misterie van God self wat ons ‘n vooruitskou gee na wat op dieselfde plek met sy eie Seun aan die kruis op Golgota net oorkant dié berg sou gebeur.
Ek gaan in respek vir die boodskap van die verhaal ‘n preek plaas wat ek onlangs in die gemeente Somerstrand gelewer het wat die implikasies van dié verhaal uitspel in terme van die tipe geloof en gehoorsaamheid wat van elkeen van ons gevra word.
Ses en dertig jaar ná Sara aan Isak geboorte gegee het (2066 v.C.), is sy oorlede in Kirjat-Arba (2030 v.C.), dit is Hebron, die stad waar Dawid later koning sou word. Sy het egter nie haar seun Isak se huwelik met Rebekka meegemaak nie. Dit sou wel Abraham se voorreg wees soos ons in hoofstuk 24 lees. Abraham, wat nege jaar ouer was as Sara (Gen. 17:1, 17) sou nog nege en dertig jaar leef en selfs weer trou met Ketura en ses kinders by haar verwek voordat hy in 1991 v.C. oorlede is (Gen. 25).
Abraham onderhandel met die Hetiete oor die stuk grond van Efron sodat hy haar in die Makpelagrot kan begrawe. Ons sien in die onderhandelinge ‘n tipiese Midde-Oosterse transaksie waarin waar Efron die stuk grond eers gratis aanbied en dan half terloops die prys aankondig: “Moenie dat ons stry oor ‘n stukkie grond wat vier en ‘n half kilogram silwer werd is nie”, waarop Abraham dan die vier en ‘n half kilogram silwer vir hom afgeweeg het en die enigste eiendom bekom wat hy ooit in die land Kanaän sou besit, behalwe vir die enkele waterput wat hy gegrawe het, die enkele boom wat hy geplant het, sowel as die vier altare wat hy opgerig het.
Dit is ‘n heerlike vrou-soek verhaal, want Abraham besluit ná Sara se dood dat die tyd gekom het om vir Isak ‘n maat, ‘n metgesel, te soek. Die skrywer herinner ons aan die seën wat hy ervaar het in sy verhouding met die Here. Hy wou nou van dié seën vir sy seun aangee.
Maar dit is ook duidelik ‘n verhaal van God wat in dit alles die leiding neem en ‘n vrou vir Isak gee wat by hom kan pas sodat hy die rol kan speel wat God in die heilsgeskiedenis vir hom beplan het. Soos Abraham die gasvrye een gewees het in die vorige geslag sou Rebekka dit nou wees in die volgende geslag. Haar gasvryheid sou verseker ook haar skoonpa se goedkeuring weggedra het! Haar naam rym ook met die Hebreeuse woord vir seën, bē·rǎḵ, wat in die eerste vers van Abraham gebruik word.
Met hierdie hoofstuk kom ons aan die einde van die Abraham verhaal. Abraham het die roeping van God enduit omhels. Hoewel hy twee keer gefaal het voor die versoeking om te lieg oor sy vrou se skoonheid in Egipte en Gerar, en dit sy roeping en die belofte van God vir sy nageslag in gevaar gestel het, het die diepte van sy verbintenis aan die Here ‘n stygende lyn getoon. Hy het met onderskeiding die wedloop van die geloof gehardloop en enduit gehoorsaam volhard.
Die skrywer rond die verhaal van sy lewe af met twee mededelings. Die eerste is die verwysing na die begin van ‘n groot aantal nasies wat uit sy verbintenis met Ketura voortgespruit het. Dit is egter ook duidelik dat hy hulle wegstuur met geskenke om nie die grondgebied van Isak te bedreig nie. Die meeste van die name van sy nasate word met Arabië geassossieer.
Die ander mededeling is sy sterwe en begrafnis in die enigste plek wat hy ooit besit het, die grot by Makpela. Abraham het oud geword en ‘n vol lewe gehad, herinner die skrywer ons. Dit is ook opmerklik dat die twee seuns, Isak en Ismael, hom saam begrawe. Trouens, al die aartsvaders en hulle vrouens is in die Makpelagrot begrawe (23:1-20; 25:9; 35:27-29; 49:29-32). Dié grot kan ‘n mens vandag nog besoek waar ses monumente vir die aartsvaders en aartsmoeders opgerig is.
Ons kom by die derde fase van die verbond met die aartsvaders, die verhaal van Isak. Die eerste fase was die uitgebreide verhaal van Abraham met die tweede fase die kort geslagsregister van Ismael met twee kort opmerkings oor hom in die vorige perikoop.
Soos dit die geval was met Abraham se verhaal wat as deel van sy pa Tera se storie vertel is, is dit ook nou weer die geval. Jakob se verhaal word van die begin af as deel van Isak se storie vertel. Dit wys net hoe integraal die verhale van die groot Godsfigure met dié van hulle families en geloofsgemeenskappe verweef is.
Getrou aan die aard van die wyse waarop die boek Genesis die verhale van die aartsvaders aanbied, is dit weereens duidelik dat die verhaal van Isak, Jakob en uiteindelik Josef die verhaal van die “verkose” families is. Die hele verhaal van die “verkose” families met al sy intriges word vertel, soos dit ook die geval was met die verhaal van Abraham. Net die geslagslyste van die “verwerpte” families word egter vertel, soos dit in die vorige perikoop die geval was met die verhaal van Ismael.
Die verkose families raak deel van God se storie met hierdie wêreld. Die verwerpte families staan God se storie met die wêreld teë.
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar