Genesis in sy ontstaanswêreld
Die versoeking is daar om Genesis te lees vanuit ‘n moderne paradigma en vrae aan die teks te vra wat die teks nie bedoel was om op te antwoord nie.
Genesis sal egter enigiemand teleurstel wat antwoorde soek op vrae oor die kosmologie, evolusie, geskiedenis en ander moderne wetenskaplike navorsing. Genesis en die res van die verhale van die Pentateug is nie geskryf om moderne wetenskaplike navorsingsvrae te bevredig nie. Ek gaan dus ook nie daaroor uitbrei nie, en net soms in die verbygaan kommentaar daarop lewer.
Wat ‘n mens wel kan en moet doen, is om Genesis se verhale binne die konteks van sy eie ontstaanswêreld te plaas en die boodskap binne die kultuur en konteks van die tyd te lees. As ‘n mens dit só lees, is dit uiters interessant dat Genesis ‘n baie duidelik alternatiewe wêreldbeeld verskaf as wat in die res van die Ou Nabye Ooste die geval was.
Dit sal jy self kan raaksien in drie van die verhale wat ek hier kortliks beskrywe; twee van die antieke skeppingsverhale: die Enuma Elisj en die Epos van Atrakhasis sowel as een van die antieke vloedverhale: die Epos van Gilgamesj.

Onlangse kommentaar