Dit is duidelik uit hierdie verhaal dat dieselfde tipe uitdagings vir Isak tref as vir Abraham. Hongersnood tref ook vir Isak. Hy word ook versoek om sy eie bas te red deur voor te gee Rebekka is sy suster, soos Abraham dit met Sara ervaar het. Hy ervaar ook die uitdaging wat voorspoed bring, soos dit die geval was met Abraham met Lot. Hy ervaar ook konflik rondom sy kinders, hoewel die situasie effens anders is. Met Abraham was dit Sara teen Hagar. Met Isak is dit Esau teen Jakob met Rebekka aan Jakob se kant.
“Life is difficult!”
Dit is egter ook duidelik dat die Here op ‘n heel ander manier met Isak werk as met Abraham. Isak het immers ‘n heeltemal ander tipe persoonlikheid as Abraham. Maar God vorm ook vir Isak in die proses sodat hy van “rusies” beweeg na die “ruimte” wat die Here vir hom verskaf. Isak raak só self een van die geloofshelde van die OT, al is dit ‘n enkele vers in die Hebreërbrief (11:20).
Die vorige hoofstuk het afgesluit met die uitdaging wat konflik rondom ‘n mens se kinders vir jou bring. Die skrywer het ons ‘n kykie gegee spesifiek in die bitterheid van gees wat hulle skoondogters, die Hetitiese vrouens van Esau, vir Isak en Rebekka gebring het.
Dit wil egter voorkom asof hierdie konflik minder van ‘n probleem vir Isak was as vir Rebekka, want hulle reageer op heeltemal verskillende maniere teenoor Esau. Nie net trek Isak vir Esau, “sy seun”, steeds voor en Rebekka vir Jakob, “haar seun”, nie, maar Isak roep slegs vir Esau om hom te seën en vergeet skoon van Jakob. Dit was binne die tradisionele gebruike van daardie tyd regtig ongehoord. Jakob seën bv. nie net ál sy seuns nie, maar selfs sy kleinkinders, die twee seuns van Josef! (Gen. 48-49).
Daarby sal ons in die volgende gedeelte lees dat Rebekka só siek en sat was vir die Hetitiese vroue van Esau dat sy vir Isak gevra het om Jakob na Laban te stuur om met ‘n dogter van hulle familie te trou. Dit is nou benewens die feit dat sy Jakob só die gramskap van Esau wil spaar. Dit is egter duidelik dat Esau se lewenskeuses haar teen die bors gestuit het en sy het nie geskroom het om agteraf te konkel om Jakob te bevoordeel en Esau te benadeel nie.
Dit bly darem maar hartseer dat Rebekka juis dié een wat haar só lief gehad het, dat sy juis vir Isak bedrieg. Sy neem eintlik die voortou in die misleiding van haar wederhelf.
Maar niemand is eintlik in dié deel van die verhaal te verskone nie. Isak tree wederregtelik op deur nie sy twee seuns saam te seën nie. Rebekka tree wederregtelik op deur doelbewus haar geliefde te bedrieg en Jakob voor te trek. Esau het reeds sy kaarte gewys deur sy eersgeboortereg prys te gee en daarby met plaaslike heidense meisies te trou. Jakob speel saam met sy ma ter wille van die voordeel wat hy dink hy daaruit sal kry.
‘n Tragiese vertroebeling van die geloofsgemeenskap in hulle onderlinge verhoudinge. Die bedrog bedreig hulle voortbestaan.
Die bedrog van die vorige episode in die lewe van die aartsvaders Isak en Jakob het die voortbestaan van die geloofsgemeenskap in die gedrang gebring. Nie net het almal seergekry in die groot konflik rondom die seën van Isak nie. Die gebrek aan ‘n onberispelike wandel vóór God het hulle bedenklike moraliteit en spiritualiteit aan die kaak gestel.
Die dieper vraag na hoe dit die heilsgeskiedenis gaan raak, het nou krities belangrik geword. Het Rebekka en Jakob se bedrog God se belofte aan Abraham en Isak in gedrang gebring? Sal God die pad met Jakob verder stap al is hy iemand wat met uitbuiting (Esau) en bedrog (Isak) die seën verkry het? Trouens, kan ‘n seën wat só bekom is enigsins van krag bly?
Jakob se verhaal in Haran by Laban en sy twee dogters, Lea en Ragel, word in drie episodes verspreid oor twee hoofstukke vertel. In die eerste episode word die verhaal van Jakob se troue met twee vroue, Lea en Ragel, vertel weens Laban se bedrog – 29:1-20. In die tweede episode word die verhaal van Jakob se kinders by dié twee vroue van hom vertel ten spyte van die hewige onderlinge konflik tussen die vroue – 29:21-30:24. In die derde episode word Jakob se stryd om Laban se bedrog in ‘n voordeel vir homself om te swaai, vertel – 30:25-43. Ek gaan dit dus as ‘n eenheid hanteer in drie episodes.
Na twintig jaar in die vreemde raak die verlange na sy vaderland vir Jakob te veel. Laban se seuns het ook al hoe meer jaloers geraak op Jakob se vermoë om slegte situasies om te keer in ‘n voordeel vir homself. Jakob het net te ryk en te sterk geword vir hulle. Ook Laban het ongemaklik geraak met Jakob se sukses.
In dié situasie hoor Jakob die roepstem van die Here: “Gaan terug na jou vaderland, na jou familie toe.” Weereens herhaal die Here die belofte van vroeër by Bet-El: “Ek sal by jou wees.”
Let op hoe effektief Jakob telkens Laban se houding teenoor hom kontrasteer met wat God vir hom gedoen het as ‘n motivering vir sy twee vroue, Ragel en Lea, dat hulle moet trek. Laban, sê Jakob, voel nie meer soos voorheen oor my nie. Maar, die God van my vader was by my. Laban het my bedrieg, maar God het hom nie toegelaat om my te benadeel nie. Laban, sê Jakob, het my met die kleinvee probeer bedrieg, maar God het Laban se besittings vir my gegee.
Dit dek egter net die tafel vir die eintlike beweegrede vir sy trek terug na sy land toe. Die Engel van God het in ‘n droom aan hom verskyn en opdrag gegee om terug te trek. Dit is duidelik uit die inhoud van die gesprek met Jakob dat dit God self is wat met hom kommunikeer, dieselfde God wat by Bet-El aan hom verskyn het.
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar