Esegiël 7 – Die einde kom vir die land

In opvolg van hfst. 6 se uitspel van die implikasie van die vyf simboliese handelinge van hfst. 4-5 word in hfst. 7 verder daarop uitgebrei in meer digterlike taal. Waar in hfst. 6 die “Berge van Israel” aangespreek is, word hier op soortgelyke wyse die “land Israel” aangespreek en gefokus op die verwoesting wat dwarsoor die land die inwoners van die land sal tref, maar met spesiale verwysing na die verwoesting van die stad Jerusalem en die heiligdom.
Waar in hfst. 6 veral die ongehoorsaamheid in aanbidding – die plekke van aanbidding sowel as die persone in aanbidding – aangespreek is, fokus Esegiël hier ook op die magsmisbruik in die land. Die probleem is: “Soos die mag toegeneem het, het die eiegeregtigheid ook toegeneem.” (7:10b). Interessant genoeg gaan die opstand téén die magsmisbruik nie kom van die kant van die inwoners van die land nie: “nie deur hulle verset, hulle protes nie, nie deur ‘n klag van hulle kant nie”, maar van die toorn van die Here wat op almal in die land rus. (7:11).

Onlangse kommentaar