Skip to main content

Esegiël 7 – Die einde kom vir die land

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

In opvolg van hfst. 6 se uitspel van die implikasie van die vyf simboliese handelinge van hfst. 4-5 word in hfst. 7 verder daarop uitgebrei in meer digterlike taal. Waar in hfst. 6 die “Berge van Israel” aangespreek is, word hier op soortgelyke wyse die “land Israel” aangespreek en gefokus op die verwoesting wat dwarsoor die land die inwoners van die land sal tref, maar met spesiale verwysing na die verwoesting van die stad Jerusalem en die heiligdom.

Waar in hfst. 6 veral die ongehoorsaamheid in aanbidding – die plekke van aanbidding sowel as die persone in aanbidding – aangespreek is, fokus Esegiël hier ook op die magsmisbruik in die land. Die probleem is: “Soos die mag toegeneem het, het die eiegeregtigheid ook toegeneem.” (7:10b). Interessant genoeg gaan die opstand téén die magsmisbruik nie kom van die kant van die inwoners van die land nie: “nie deur hulle verset, hulle protes nie, nie deur ‘n klag van hulle kant nie”, maar van die toorn van die Here wat op almal in die land rus. (7:11).

Continue reading

Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C.

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Meer as ‘n jaar na Esegiël se eerste gesig, terwyl hy in sy huis op ‘n Maandag met die leiers van Juda op 17 September 592 v.C. sit en gesels, het die mag (hand) van die Here weer van hom besit geneem. Hy word in hierdie gesig na die tempel en die stad Jerusalem geneem om nie net die geestelike toestand van die mense wat tot die oordeel gely het, te sien nie, maar ook hoe God se magtige teenwoordigheid uit die stad uit weggeneem word. Daar is ‘n sprankie hoop vir die ballinge dat God “vir hulle ‘n heiligdom” sal bly in die lande waarheen hulle verstrooi is, sowel as ‘n belofte van terugkeer in die toekoms.

Jy kan dié vier hoofstukke in een sitting lees en daarna my bydrae, óf jou leeswerk oor vier dae versprei en my bydraes op soortgelyke wyse lees. Hoofstuk 12 kom dus aan die einde van die week.

  • 8:1-18 – Die leiers dink die Here sien nie hulle afgodediens nie
  • 9:1-11 – Die straf is naby vir die stad Jerusalem
  • 10:1-22 – Die Here maak gereed om die stad te verlaat
  • 11:1-25 – Die Here verlaat die stad met die belofte van ‘n terugkeer

Continue reading

Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur

http://www.prophetasartist.com/about-the-artist/
http://www.prophetasartist.com/about-the-artist/

Die boodskap van hierdie hoofstuk is opgebou rondom die opdrag aan Egesiël om ‘n teken van ballingskap vir die volk te word. Dit behels twee aksies:

  • Die eerste aksie is Esegiël se dramatiese uitbeelding van die naderende ballingskap (12:1-7). “Miskien sien hulle dit raak …” Die Here het steeds die hoop dat die volk sal luister, hoewel Hy besef hulle is ‘n weerbarstige volk.
  • Die tweede aksie is Esegiël wat sy kos al bewende eet en sy water met ontsteltenis en kommer drink asof hy in balingskap is (12:17-20). Die teken onderstreep die rede vir die ballingskap. God straf hulle weens hulle gewelddadigheid teenoor mekaar.

Daaraan word drie verklarende woorde van die Here gekoppel wat die onafwendbare nabyheid van die ballingskap uitspel. Die ballingskap gaan NOU gebeur. Dit is aan drie gehore gerig:

  • Aan Sedekia en Jerusalem waarin hulle lotgevalle uitgespel word, dinge wat op ontstellende wyse presies só gebeur het (12:8-16),
  • aan die ballinge om die stelligheid van wat gaan gebeur te onderstreep, waarskynlik spesifiek gerig aan die valse profete met hulle “gladde waarsêerpraatjies” wat sy boodskap as wensdenkery afgemaak het (12:21-25) en,
  • aan dié in Jerusalem wat gedink het dat sy boodskap net op ‘n verre toekoms dui (12:26-28). Dit Here se boodskap aan hulle is egter duidelik: “Niks van wat Ek gesê het, sal meer uitgestel word nie.”

Continue reading

Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Esegiël spreek in dié hoofstuk twee groepe profete aan: “Mense wat as profete optree uit hulle eie verbeelding” (13:2), en “die vroue van jou volk, dié wat as profete optree uit hulle eie verbeelding” (13:17). Die vroue wat hier genoem word, was boonop moontlik eerder towenaresse, omdat hulle met toorbande en sluiers teen betaling geprofeteer het (13:18-19).

Hierdie valse profete was waarskynlik profete onder die ballinge waar Esegiël homself bevind het, sowel as dieselfde profete waarteen Jeremia homself en sy boodskap ook moes verdedig (Jeremia 23 – Ellende wag vir julle leiers; Jeremia 27 – Ek gee al die lande in die mag van Nebukadnesar; Jeremia 28 – Die Here vee Gananja van die aarde af weg; Jeremia 29 – Ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie).

Die Here roep Esegiël op om aan hulle die ellende te verkondig wat Hy oor sulke mense sal gebied. Die ellende sluit in dat hulle hulle vertroulike posisie sal verloor by die volk, sowel as om lid te wees van die Godsvolk (“nie opgeskryf word in die boek van Israel nie”), en op die koop toe ook nie die terugkeer en herstel van Israel sal meemaak nie (13:9).

Continue reading

Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Die volgende woord van die Here is indirek gerig aan die leiers van Israel onder die ballinge wat na Esegiël toe gekom het en voor hom gaan sit het om die Here te raadpleeg. Die Here praat in respons daarop eintlik met Esegiël en waarsku hom om nie namens dié leiers met God te praat nie, want die Here sal nie en wil nie na hulle luister nie, weens hulle afgodediens.

Die hoofstuk is in drie dele opgedeel:

  • 14:1-11 – Moet My nie raadpleeg namens die afvallige leiers nie
  • 14:12-20 – Die drie groot voorbidders van ouds sou nie die oordeel kon afwend nie
  • 14:21-23 – Die lot van die oorblyfsel sal begrip bring dat die ballingskap hulle verdiende loon was

Continue reading

Onlangse kommentaar