Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word

Esegiël sluit met dié kort gelykenis aan by ‘n baie bekende tradisie onder die profete, die beskrywing van Israel as die wingerd van die Here: Jesaja 5; Hosea 10; Jeremia 2 (vgl. ook Jakob se verwysing na dié metafoor in sy gebed vir sy nageslag in Gen. 49:22). Die metafoor van Israel as die wingerd van die Here vorm ook die basis van die gebed vir herstel uit ballingskap in Psalm 80.
In teenstelling met die positiewe beskrywing van Israel as die wingerd van die Here, noem die Here hulle egter nou ‘n afgesnyde wingerdhout wat nie beter is as enige ander kreupelhout in die bos nie. Terloops, ‘n kreupelbos bestaan uit laag, deurmekaar groeiende houtagtige struike en bome. Dit is dus ‘n bos wat van baie minder waarde as ‘n aangeplante goedversorgde wingerd is.
Maar as die wingerd afgekap is, deug die wingerdhout vir niks meer as die kreupelhout nie. Net soos kreupelhout deug wingerdhout dan vir niks beter as vuurmaakhout nie. Jy kan dit nie gebruik om iets van te maak of iets aan op te hang nie. Die enigste nut daarvan is om daarmee vuur te maak.
En dít is presies wat die Here nou met die inwoners van Jerusalem gaan doen. Hy gooi hulle soos wingerdhout in die vuur, die vuur van God se toorn, die vuur van God se teenstand. Dit hét al gebeur met die vorige wegvoerings – “hulle kom uit die vuur” – en sal nou wéér gebeur – “maar die vuur sal hulle verteer”. Hulle land sal verlate word, omdat hulle in ballingskap weggevoer sal word. Dán sal hulle besef dat Hy die Here is.
Boodskap
Onlangse kommentaar