Skip to main content

Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C.

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Dit is Woensdag 14 Augustus 591 v.C. Esegiël is nou al net meer as twee jaar besig om die woord van die Here aan die volk deur te gee. Min of meer ‘n jaar gelede het ‘n aantal leiers van Israel (in ballingskap) na Esegiël gekom om die Here te raadpleeg. Hulle het waarskynlik ‘n verwagting gehad dat die terugkeer na Israel naby was, omdat sommige profete dit voorspel het.

Dié hoop was moontlik onder andere gegrond op profesieë, soos dié van die profeet Gananja wat ‘n twee-jaar ballingskap voorspel het reeds in 594 v.C. Jeremia het hom sterk teëngestaan (vgl. Jeremia 28), maar die leiers het waarskynlik gehoop dat Gananja eerder as Jeremia reg sou wees. Die leiers moes by dié geleentheid egter onverrigter sake weggaan. Die Here wou hulle nie eers te woord staan nie (Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie).

Hulle kom egter nou weer ‘n jaar later voor Esegiël sit in die verwagting dat daar tóg ‘n woord van die Here sal wees. Dit het waarskynlik begin duidelik word dat mense soos Gananja vals profete was, omdat die voorspelling van ‘n twee-jaar ballingskap nie waar geword het nie. Maar, die vraag was waarskynlik steeds, is daar nie tog hoop nie? Moet ons regtig sewentig jaar wag, soos Jeremia voorspel het?

Die Here antwoord Esegiël in vers 1-3 egter weer onomwonde dat Hy Hom nie deur hierdie leiers sal laat raadpleeg nie. Die vorige keer (hfst. 14) het die Here vir Esegiël immers gewaarsku om nie eers namens dié leiers met Hom te praat nie, want die Here sal nie en wil nie na hulle luister nie, weens hulle afgodediens. Hulle moet eers tot bekering kom, vóór die Here sal luister.

Hierdie keer gee die Here vir Esegiël egter tóg ‘n opdrag in vers 4-44 om as profeet met hulle in gesprek te gaan. Die Here vra van hom om die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het vir hulle uit te spel. Hy vra dat Esegiël vir hulle inderwaarheid ‘n geskiedenisles sal gee in die afgodery en afvalligheid van die volk, selfs nou hier in die ballingskap, om hulle oë oop te maak vir die voortgaande verbreking van die verbond. Daardeur hoop die Here dat daar tóg insig sal kom. Hy hoop dat hulle die dwaasheid van verset teen sy voorskrifte vir die lewe sal insien, selfs hier in ballingskap. En dat hulle die hoop op ‘n terugkoms op God se terme sal omhels.

‘n Mens kan die geskiedenisles as volg opsom:

  • 20:4-9 – Verset van die uitverkore geslag deur afgodery in Egipte
  • 20:10-17 – Verset van die eerste generasie deur afgodery en afvalligheid in die woestyn
  • 20:18-26 – Verset van die tweede generasie deur afgodery en afvalligheid in die woestyn
  • 20:27-29 – Verset van die volk deur afgodery in die Beloofde Land
  • 20:30-31 – Verset van die volk deur afgodery selfs in ballingskap!
  • 20:32-39 – God oordeel die opstandiges selfs in ballingskap!
  • 30:40-44 – God sal sy eer beskerm deur ‘n goedgunstige terugkeer na die land

Continue reading

Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

In drie perikope word die nabye oordeel oor Juda en Jerusalem verder uitgespel.

  • In die eerste perikoop word die metafoor van ‘n bosbrand gebruik – 20:45-49. Esegiël vra egter dat die Here duideliker moet praat, want die mense sê hy praat in raaisels. Soos Peterson dit vertaal: “‘He just makes up stories.”
  • In die tweede perikoop word die metafoor van ‘n swaard gebruik – 21:1-17. Dit is ontstellend dat almal wat leef daardeur getref word, “dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen.” Geen wonder dat Esegiël in opdrag van die Here hieroor bitterlik moet kreun nie. Dié slagting sal eers bedaar as die Here sy hande inmekaar slaan en sy toorn tot bedaring bring.
  • Die derde perikoop identifiseer die koning van Babel as die swaard van die Here wat die leiers sowel as die volk gaan straf weens hulle opstandigheid – 21:18-27.

Continue reading

Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete

In ‘n kort profesie word die oordeel van die Here ook teen die Ammoniete voltrek. Die boodskap is dat al het die swaard by die vurk in die pad Jerusalem getref, dit nie beteken dat die Ammoniete vry sal kom nie.

Die Here sal hulle oordeel weens hulle gespot van Israel en aan wrede mense oorgee wat weet hoe om uit te roei. Hulle sal as volk ophou bestaan.

In hoofstuk 25 sal dié oordeel en die oorsake daarvan verder uitgespel word.

Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”!

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Die fokus skuif terug na Jerusalem en die naderende ballingskap. Esegiël formuleer die boodskap in drie punte, telkens ingelei met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom.” (22:1, 17, 23).

  • In die eerste deel brei Esegiël uit oor ‘n hele aantal van die redes vir die ballingskap – 22:1-16. “Hulle maak of Ek nie daar is nie.”!
  • In die tweede deel gebruik hy die metafoor van ‘n smeltoond om God se houding teenoor hulle as een van oordeel te tipeer – 22:17-22.
  • In die derde deel word die gevolge van God se oordeel uitgespel. Dit is daarom hul verdiende loon – 22:23-31.

Continue reading

Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Op soortgelyke wyse as in hoofstuk 16 word die twee ryke van Israel – met die hoofstede Samaria en Jerusalem – op afgryslik metaforiese wyse as die twee owerspelige susters, Ohola en Oholiba, beskrywe. Dié twee het aan die Here behoort, maar hulle het gesmag na ander minnaars en só ontrou aan die Here geraak. Daarom het die Here hulle gestraf as voorbeeld wat ander moes afskrik.

Die kru en onkuise taal getuig van Esegiël se passie vir die eer van God en sy afgryse aan die verbondsverbreking van beide dele van die volk. Die metafoor ontvou in vier dele:

  • 23:1-10 – Ohola (Samaria) is in die mag van haar minnaars, die Assiriërs oorgegee
  • 23:11-21 – Oholiba (Jerusalem) het eers gesmag na die Babiloniërs en toe na die Egiptenare
  • 23:22-35 – Die Here straf Oholiba vir haar aanstootlike gedrag en onsedelikheid
  • 23:36-49 – Albei volke dra die straf vir hulle sonde met afgode

Continue reading

Onlangse kommentaar