Skip to main content

2 Petrus 3 – Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van Jesus Christus

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasDie vorige hoofstuk het nou al reeds uitvoerig gehandel oor die gevare van die leer en lewe van die dwaalleraars. Hulle kan uitgeken word aan hulle verloëning van die Here Jesus Christus, hulle losbandigheid en onsedelikheid, hulle gierigheid en hebsug, asook hulle gebrek aan respek vir die gesag van God se Woord.

In hierdie hoofstuk fokus Petrus op ‘n verdere aspek van hulle leer en lewe – hulle lering oor die wederkoms van die Here Jesus Christus en hulle lewenshouding daaroor. Hy wil die geloofsgemeenskap daarteen waarsku, hulle nie net help om reg daaroor te dink nie aan die hand van die geskrifte van die OT profete en die prediking van die NT apostels nie, maar hulle ook motiveer tot ‘n lewende verwagting daarvan.

Hy behandel dit as volg:

  • Die gevaar van Spotters oor die Wederkoms – 3:1-4
  • Spotters ignoreer die voorbeeld van die geskiedenis – 3:5-7
  • Spotters ignoreer God se tydsberekening – 3:8-10
  • Ons verwag ‘n nuwe hemel en aarde – 3:11-16
  • Sorg dat julle nie meegesleur word deur dwaling nie – 3:17-18

Hy sluit sy brief af met ‘n enkele vers wat die interessante verwysing het na God aan wie die heerlikheid behoort: “nou en ook tot op die dag van die ewigheid.” ‘n Manier om op nóg ‘n wyse uit te spel dat die dag van die Here oneindig lank is.

Continue reading

2 Petrus 2 – Wees versigtig vir vals profete en leraars

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus is baie bewus van die feit dat die evangelie bedreig word deur dwaalleraars. Dit is natuurlik nie iets nuuts nie, maar iets wat al dateer uit die OT tydvak waar daar ook telkens vals profete opgetree het en baie gelowiges mislei is (vgl. bv. Jeremia in sy stryd met die vals profete: Jeremia 23 – Ellende wag vir julle leiers). Die dwaalleraars sal dus ‘n groot uitdaging vir die geloofsgemeenskap wees. Die gelowiges sal net: “met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef“ (2 Pet. 2:18).

Petrus waarsku hulle reeds in die eerste drie verse om op die uitkyk te wees vir vier kenmerke van die dwaalleraars se leer en lewe – verloëning van die Here Jesus, allerlei losbandighede, hebsug, en ‘n gebrek aan Skrifgesag: “versinde argumente”.

Hy behandel dié vier kenmerke dan agtereenvolgens in die res van die hoofstuk:

  1. Verloëning in vers 4-9, waarin hy ook die losbandigheid daarvan beklemtoon soos in die verlede geïllustreer in die tyd van Noag en Lot;
  2. Losbandigheid in vers 10-14, waarin hy die losbandigheid van die hede uitlig;
  3. Hebsug in vers 15-16, waarin hy weer teruggryp na ‘n voorbeeld uit die verlede om sy punt te illustreer, Bileam;
  4. Gebrek aan Skrifgesag in vers 17-22, geïllustreer in hulle afwyking: “van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is”.

As die geloofsgemeenskap dié vier kenmerke in gedagte hou, sal dit hulle help om weerstand te bied teen die dwaalleraars.

Petrus gebruik dus bekende temas uit die Joodse geskiedenis, waarin ‘n mens drie OT temas (Vloedverhaal, Lot en Sodom en Gomorra, Bileam), kan herken (Judas het ook dié temas, maar verwys ook nog na die temas van die Eksodus, Kain en Korag) om sy punt te maak. ‘n Mens kan ook ‘n verskuilde verwysing na die pseudepigrafiese werk Hemelvaart van Moses in vers 11 agterkom waar Petrus verwys na die engele wat nie sover gegaan het om ‘n “klag van laster voor die Here in (te) bring” nie, wat waarskynlik verwys na die stryd tussen Migael en die duiwel. Judas verwys heel eksplisiet daarna (vers 9) asook na ‘n tema uit ‘n ander pseudepigrafiese werk Henog 1 (vers 14-15).

Pseudepigrafiese werke is Joodse werke uit dié tyd wat toegeskryf is aan historiese persoonlikhede om daaraan gesag te verleen, maar nie deur hulle geskryf is nie. Die woord pseudepigrafies beteken letterlik “valse geskrifte”, wat egter nie beteken dat die inhoud vals is nie, maar dat die titel daarvan misleidend is.

Continue reading

2 Petrus 1 – Lê julle daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus begin sy brief in vers 1 met ‘n baie belangrike beskrywing van homself – dienskneg en apostel – waarna hy twee belangrike temas van die inhoud van sy brief aankondig. Hy skryf eerstens oor die kosbare geloof wat hulle van die Here ontvang het en tweedens oor die feit dat hulle in hulle kennis van Hom moet toeneem – vers 2. Dit is die boustene van ware geestelike groei wat hulle in staat stel om aan die ware evangelie vas te hou.

  • Hy behandel vervolgens die tweede bousteen – kennis – eerste en moedig hulle aan om hulle te beywer om geestelik te groei – vers 3-15.
  • Hy behandel die eerste bousteen – geloof – tweede en bevestig op drie maniere dat die geloofsinhoud wat hulle van die Here Jesus Christus ontvang het, betroubaar is. Dit is betroubaar vanweë die kragtige teenwoordigheid van die Here Jesus (2 Pet. 1:16), vanweë Petrus se eie ooggetuie ervaring daarvan (2 Pet. 1:17-18), en vanweë die getuienis van die Skrifte, onder leiding van die Heilige Gees (2 Pet. 1:19-20) – vers 16-21.

Continue reading

2 Petrus – Hou vas aan die ware evangelie

Inleiding op 2 Petrus

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasAfskeidsboodskap van Petrus

Hierdie brief is ‘n afskeidsboodskap van die apostel Petrus aan die geloofsgemeenskap in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Betinië (1 Pet. 1:1), hoewel Petrus hulle nie eksplisiet in die brief noem nie. Dit lei ons af uit die feit dat Petrus wel sê dat dit die tweede brief is wat hy aan hierdie “geliefdes” rig (2 Pet. 3:1). Dit dateer dus ook uit die vroeë tot middel sestigjare van die eerste eeu n.C., en is ook waarskynlik uit Rome geskryf in die tyd van keiser Nero.

Uitdaging van dwaalleraars

Waar die eerste brief gerig is aan hierdie gelowiges om hulle te bemoedig om standvastig in geloof te bly, midde in intimidasie, vervolging en “allerhande beproewings”, word die tweede brief aan hulle gerig om die uitdaging van dwaalleraars die hoof te bied. Petrus is baie bewus van die feit dat die geloofsgemeenskap net: “met moeite (sal) ontkom aan dié wat in dwaling leef“ (2 Pet. 2:18).

Hy waarsku hulle dat die vals leraars vernietigende ketterye sal insmokkel in hulle geloofsgemeenskap wat nie net tot losbandigheid kan lei nie, maar hulle selfs kan verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak onder andere deur die wederkoms te ontken (2 Pet. 3:4). Hierdie ketterye was waarskynlik die voorlopers van die Gnostiese leringe wat ‘n onderskeid tussen die gees en liggaam gemaak het, en geleer het dat losbandigheid aanvaarbaar is, omdat dit volgens hulle nie jou gees kan besoedel nie.

Petrus wys die hebsug uit waarmee hulle die geloofsgemeenskap vir eie gewin sal uitbuit (2 Pet. 2:3,14), sowel as die verdraaidheid van hulle argumente deur veral op die regte interpretasie van die Skrif en hulle eie geloofstradisie klem te lê in hfst. 2, ‘n hoofstuk wat groot ooreenkomste toon met die brief van Judas.

Hou vas aan die ware evangelie

Petrus wil hulle daarmee aanmoedig om vas te hou aan die ware evangelie: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet. 3:18). Hulle geloof is net te kosbaar (2 Pet. 1:1) dat hulle deur roekelose en arrogante mense (2 Pet. 2:10) op ‘n dwaalspoor gelei mag word.

Hy wil daarom met hierdie tweede brief hulle geheue verfris (2 Pet. 1:12) en hulle denke verhelder (2 Pet. 3:1), sodat hulle met die oog op die wederkoms van die Here Jesus Christus op hulle hoede kan wees vir hierdie beginsellose dwaalleraars en nie die gevaar loop om hulle standvastigheid te verloor nie (2 Pet. 3:17), ‘n tema waaroor hy uitvoerig in sy eerste brief aan hulle geskryf het.

Continue reading

Bybelskool 4de kwartaal 2014

Bybelskool.com bydrae grafikaIndeling van die leeswerk

Die laaste vyf boeke van die NT kom hierdie kwartaal aan die beurt by www.bybelskool.com.  Ons lees die brief-boodskap van een van die leiers van die huisgemeentes van Rome, Hebreërs.  Ook die briewe van twee broers van Jesus, Jakobus en Judas.  Daarby kom die twee briewe van Petrus, die apostel en leier van die vroeë kerk.

  • HEBREËRS’n Boodskap van bemoediging
  • JAKOBUSPraktiese Christenskap
  • 1 PETRUSVolhard vol vreugde in vervolging en lyding
  • 2 PETRUSHou vas aan die ware evangelie
  • JUDASBestry dwaalleer en bou julle lewe op julle heiligste geloof

Elke weeksdag plaas ek ’n bydrae by www.bybelskool.com van 21 Oktober tot 25 November.  Skryf daar in met jou e-posadres.  Dit is gratis.  Ek sal DV dit mettertyd ook as e-boeke beskikbaar stel (ePub en mobi).  Ek bespreek ook die briewe en van die kwessies wat daarin aangeraak word in byeenkomste in Somerstrand gemeente: Hoe praat God vandag,  watter rol speel buitengewone tekens en gawes, hoe moet ons dink oor die doop en verwante sake, hoe lyk praktiese Christenskap, hoe hanteer ons vervolging en lyding, watter plek het dogma en hoe hanteer ons dwaalleer.

NOTA: Ek het Hebreërs se indeling verander wat beteken dat daar twee bydraes bykom.  Die datums van al die bydraes is daarom aangepas.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda