Skip to main content

2 Petrus 2 – Wees versigtig vir vals profete en leraars

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus is baie bewus van die feit dat die evangelie bedreig word deur dwaalleraars. Dit is natuurlik nie iets nuuts nie, maar iets wat al dateer uit die OT tydvak waar daar ook telkens vals profete opgetree het en baie gelowiges mislei is (vgl. bv. Jeremia in sy stryd met die vals profete: Jeremia 23 – Ellende wag vir julle leiers). Die dwaalleraars sal dus ‘n groot uitdaging vir die geloofsgemeenskap wees. Die gelowiges sal net: “met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef“ (2 Pet. 2:18).

Petrus waarsku hulle reeds in die eerste drie verse om op die uitkyk te wees vir vier kenmerke van die dwaalleraars se leer en lewe – verloëning van die Here Jesus, allerlei losbandighede, hebsug, en ‘n gebrek aan Skrifgesag: “versinde argumente”.

Hy behandel dié vier kenmerke dan agtereenvolgens in die res van die hoofstuk:

  1. Verloëning in vers 4-9, waarin hy ook die losbandigheid daarvan beklemtoon soos in die verlede geïllustreer in die tyd van Noag en Lot;
  2. Losbandigheid in vers 10-14, waarin hy die losbandigheid van die hede uitlig;
  3. Hebsug in vers 15-16, waarin hy weer teruggryp na ‘n voorbeeld uit die verlede om sy punt te illustreer, Bileam;
  4. Gebrek aan Skrifgesag in vers 17-22, geïllustreer in hulle afwyking: “van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is”.

As die geloofsgemeenskap dié vier kenmerke in gedagte hou, sal dit hulle help om weerstand te bied teen die dwaalleraars.

Petrus gebruik dus bekende temas uit die Joodse geskiedenis, waarin ‘n mens drie OT temas (Vloedverhaal, Lot en Sodom en Gomorra, Bileam), kan herken (Judas het ook dié temas, maar verwys ook nog na die temas van die Eksodus, Kain en Korag) om sy punt te maak. ‘n Mens kan ook ‘n verskuilde verwysing na die pseudepigrafiese werk Hemelvaart van Moses in vers 11 agterkom waar Petrus verwys na die engele wat nie sover gegaan het om ‘n “klag van laster voor die Here in (te) bring” nie, wat waarskynlik verwys na die stryd tussen Migael en die duiwel. Judas verwys heel eksplisiet daarna (vers 9) asook na ‘n tema uit ‘n ander pseudepigrafiese werk Henog 1 (vers 14-15).

Pseudepigrafiese werke is Joodse werke uit dié tyd wat toegeskryf is aan historiese persoonlikhede om daaraan gesag te verleen, maar nie deur hulle geskryf is nie. Die woord pseudepigrafies beteken letterlik “valse geskrifte”, wat egter nie beteken dat die inhoud vals is nie, maar dat die titel daarvan misleidend is.

2:4-9 – Versigtig vir mense wat die Here Jesus verloën

Perus waarsku hulle dat vals leraars, soos die valse profete van vroeër, vernietigende ketterye sal insmokkel in hulle geloofsgemeenskap wat in die eerste plek hulle kan verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak deur Hom te verloën. Dit is iets waaraan Petrus natuurlik self skuldig was voor die kruisiging, hoewel dit net die ontkenning van die Here Jesus ingesluit het en geen onsedelikheid nie, en wat die Here natuurlik ná die opstanding hom vergewe het.

Petrus gebruik die goddelose tyd van Noag en later van Lot met die verwoesting van Sodom en Gomorra as voorbeelde van die gevare wat die verloëning van God inhou soos dit in seksuele grensoorskryding (engele) en geweld (Sodom en Gomorra) na vore kom, soos dit in die “onsedelike leefwyse van beginsellose mense” manifesteer.

Die belangrikste boodskap wat hy aan hulle in die proses gee, is dat die Here Jesus self vir hulle intree: “dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat ‘n toegewyde lewe lei, uit versoeking te red.” Dit is iets om op staat te maak, wat jou moet aanmoedig om weerstand te bied teen versoekings, terwyl ‘n mens ook die ander kant van die Here se teenwoordigheid in gedagte moet hou: “maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou sodat hulle gestraf kan word.” Jesus is Verlosser en Here. Hy red en Hy kan bestraf. Daarmee moet ‘n mens rekening hou, soos in Openbaring nog helderder uitgespel sal word.

2:10-14 – Versigtig vir mense wat losbandig lewe

‘n Mens sal in die tweede plek die dwaalleringe kan uitken aan die losbandighede wat daarmee gepaard sal gaan. Hulle is roekelose en arrogante mense. Daardeur sal die “pad van die waarheid belaster word.” Ook nie net dit nie, maar ook die mense wat dié pad wil bewandel.

Hierdie dwaalleraars misbruik hulle vryheid om op onbehoorlike lasterlike maniere op te tree deur hulle nie aan die Here se leiding te onderwerp nie. Hulle matig hulle aan om dinge te belaster wat selfs die engele sidder om te doen, geïllustreer op verskuilde manier met verwysing na die verhaal van Migael en die duiwel in die Hemelvaart van Moses.

Die losbandigheid word op twee maniere gesien. Een, in die beginselloosheid van hulle optrede en verwerping van gesag. Hulle is wetteloos en steur hulle aan geen riglyn wat deur enige morele kode aan hulle voorgelê word nie. Twee, in die ongehinderde navolging van liggaamlike begeertes. Dit is mense wat “agter die besoedelende begeerte van die natuurlike liggaam aanloop en wat gesag verag.” Petrus verwys hier na hulle fuifery helder oordag, sowel as na owerspel. Hulle doen dit ook nie net self nie, maar mislei en verlei ander om dieselfde te doen.

Hierdie tipe ketterye was waarskynlik die voorlopers van die Gnostiese leringe wat ‘n onderskeid tussen die gees en liggaam gemaak het, en geleer het dat losbandigheid aanvaarbaar is, omdat dit volgens hulle nie jou gees kan besoedel nie. Genoeg rede om ver van die Gnostiek te bly!

2:15-16 – Versigtig vir mense wat hebsugtig is

Petrus wys ook in die derde plek die hebsug uit waarmee hulle die geloofsgemeenskap vir eie gewin sal uitbuit (2 Pet. 2:3,14), waarin hy die voorbeeld van Bileam aanhaal wat skuldig was daaraan dat hy ‘n wins probeer maak het uit sy profesieë (Num. 22). Hulle het die regte pad van die waarheid verlaat en lief geraak vir onregmatige loon. Bileam is egter deur sy donkie tereggewys waardeur ‘n einde aan sy waansin gekom het!

Gierigheid is en bly een van die kernsondes wat gelowiges se toewyding aan die Here bedreig.

2:17-22 – Versigtig vir mense wat die Skrifgesag afswak

In die vierde plek wys Petrus ook die verdraaidheid van hulle argumente uit. Dit is nie gebaseer op die Skrifte nie – die Bybel dra dus nie die nodige gesag nie. Dit is waarom hy self reeds in hoofstuk 1 met sy eie argumente oor die kosbaarheid van die geloof en die wyse waarop ware kennis in die Here Jesus Christus hulle lewens kan verander, so baie moeite gedoen het om dit in die Skrifte te veranker. Hier in hoofstuk twee het hy dit nog sterker beklemtoon in sy gebruik en verwysing na die drie OT gedeeltes, soos ons vroeër gesien het.

Hy gebruik ‘n hele paar afgryslike metafore om dié dwaalleraars te beskryf: “opgedroogte fonteine”, en “miswolke voortgedryf deur ‘n stormwind”. Hulle is mense vir wie die diepste duisternis gereed staan, omdat hulle nie net self dié onsinnige pad ingeslaan het nie, maar baie mense mislei en met hulle saam neem. Hulle het die waansinnige idee dat hulle vryheid vir mense bied, maar in wese is hulle slawe van hulle eie begeertes en het die krag van die Here Jesus in hulle eie lewe misken en verloor.

Hulle einde is slegter as hulle begin. Dit sou beter gewees het as hulle liewer nooit van die Here Jesus gehoor het nie. Hulle afwyking van die waarheid wat aan hulle verkondig is – hier dink Petrus ook aan die Skrifte in sy verwysing na die “heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is” – maak die twee gesegdes op hulle van toepassing: “’n Hond keer terug na sy eie braaksel” en “’n Gewaste vark gaan rol weer in die modder.” Dit was waarskynlik bekende gesegdes uit daardie tyd.

Boodskap

Hierdie vier kenmerke van die dwaalleraars se lewens en leringe is steeds ‘n handige manier om dwaalleraars in die Christelike gemeenskap vandag uit te ken – in die plek wat die Here Jesus in hulle lewens inneem, in die sedelike gehalte van hulle lewens, in die rol wat winsbejag in hulle lewens speel, en in die rol wat die Skrifte in hulle argumentasie en leringe speel. Leer en lewe – dit bly ‘n belangrike toetsteen vir enige leraar van die waarheid.

Wat my tref is die wyse waarop Petrus die Here Jesus se rol in dit alles uitspel. Die belangrikste boodskap wat ons moet hoor, is dat die Here Jesus self vir ons intree: “dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat ‘n toegewyde lewe lei, uit versoeking te red.” Dit is iets om op staat te maak, wat jou moet aanmoedig om weerstand te bied teen versoekings, en ‘n toegewyde lewe lei, terwyl ‘n mens ook die ander kant van die Here se teenwoordigheid in gedagte moet hou: “maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou sodat hulle gestraf kan word.” Jesus is Verlosser en Here. Hy red en Hy kan bestraf.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

2 Petrus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda