Skip to main content

Wees bly – 1 Petrus 1:3-9

My boodskap vanoggend by NG Kerk Walmer 25 Junie 2023 09:00

Die eerste brief van Petrus

Petrus skryf hierdie eerste brief van hom in die vroeë sestigerjare van die eerste eeu nC uit Rome, aangedui as Babilon in die brief (1 Pet 5:13).

Petrus rig sy brief aan die vreemdelinge van die Diaspora (1 Pet 1:1), die term wat normaalweg gebruik is om Jode buite Palestina aan te dui en wat nou op Christene van toepassing gemaak word. Hulle is vreemdelinge binne die politieke bedeling van die streke waar hulle woon, maar hulle is ook deel van die een volk van God wat verspreid is oor die aarde.

Hy skryf aan die gemeentes van Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet 1:1). Dit is provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye, interessant genoeg juis dele wat nie deur Paulus op sy sendingreise besoek is nie, toe hy verhinder is deur die Heilige Gees om daar te gaan werk (Hand. 16:6-7).

Dit wil dus lyk of dit juis gebiede was wat Petrus besoek het en waar hy die evangelie verkondig het. Hy praat immers van homself ook as ‘n sendeling na die heidene en verwys daarna as iets wat aan die vroeë kerk bekend was (Hand. 15:7-8).

Wat ons wel weet, is dat die wyse waarop die vyf gebiede genoem word ‘n natuurlike roete van opeenvolgende besoeke sou kon beteken, omdat ‘n mens by een van Pontus se hawens sou kon aandoen in die noordooste, die roete deur Galasië kon volg (die noordelike provinsie – Paulus se brief aan die Galasiërs is waarskynlik aan die suideliker etnies-geografiese streek in Turkye gerig, wat ook Galasië genoem is), dan afswaai meer na die binneland in Kappadosië en die roete verder wes na die provinsie Asië kon volg, en dan weer opswaai na die noordweste in Bitinië om weer die reis per boot na Rome te kon voortsit.

Hoe dit ook al sy, dat Petrus ‘n band met hulle gehad het, is duidelik. Hy skryf dus vir hierdie noordelike deel van Turkye.

Continue reading

1 Petrus 5 – Versorg mekaar en wees voorbeelde vir mekaar

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus rond sy brief af deur te fokus op die laaste twee aspekte van hulle gemeentelike lewe wat hulle standvastigheid in die geloofstryd in die wêreld sal gee. Die eerste het te make met die leierskap in die gemeente en die absolute belang van vrywillige, geesdriftige versorging wat gewortel is in die voorbeeld wat hulle stel. Die tweede het te make met die navolging van die leiers se toesig en voorbeeld, terwyl almal saam op die kragtige hand van God sal vertrou. Hoekom? “Want Hy gee vir julle om!”

Ons lees die laaste hoofstuk dus aan die hand van dié indeling, waarna die slot van Petrus se brief aan die orde sal kom (vers 12-14):

  • Versorg die geloofsgemeenskap – 5:1-4
  • Volg die leierskap na en vertrou op die kragtige hand van God – 5:5-11

Continue reading

1 Petrus 4 – Bo alles moet julle mekaar innig liefhê

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasIn die verdere ontwikkeling van Petrus se lering oor geestelike groei fokus hy nou op die interne en eksterne uitdagings wat hierdie geloofsgemeenskappe sal moet trotseer. Hulle sal vervreemding ervaar beide in terme van die verleiding van hulle eie menslike begeertes sowel as in die versoekings van ‘n samelewing wat losbandig lewe. Selfs wanneer hulle dié verleiding en versoeking weerstaan, sal dit nie die druk van hulle afhaal nie. Vurige beproewings en lyding – net omdat hulle Christene is – is deel van die pad van verlossing wat vir hulle voorlê.

Hy fokus daarom in die volgende twee hoofstukke op vyf sake wat hulle staande kan hou en laat volhard:

  • Laat julle lei deur die wil van God – 4:1-6
  • Bedien mekaar met julle genadegawes – 4:7-11
  • Verheerlik God in lyding en doen wat goed is – 4:12-19
  • Versorg die geloofsgemeenskap – 5:1-4
  • Volg die leierskap na en vertrou op die kragtige hand van God – 5:5-11

Dít is die dinge wat hulle standvastigheid in hulle geloofstryd in die wêreld sal gee. Ons lees vandag net hoofstuk 4 se drie dele en sal môre hoofstuk 5 se laaste twee lees.

Continue reading

1 Petrus 3 – Wees mense wat seën, sodat julle seën as erfdeel kan verkry

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus voltooi die vyfde sirkel van sy lering oor geestelike groei in hierdie hoofstuk waarin hy uitspel hoe dit in die huwelikslewe tot sy reg sal kom deur in eerbied en begrip vir mekaar te lewe – vers 1-7. Ten slotte gee hy aandag aan ‘n paar algemene riglyne – ‘n mens kan dit ook as ‘n sesde sirkel van geestelike groei formuleer – vir hulle gedrag waarin hy op sekere temas uit die vyf sirkels van geestelike groei uitbrei – vers 8-22.

Regdeur is die voorbeeld van Christus steeds die maatstaf vir geestelike groei in al die verskillende dimensies van hulle verhoudinge met ander mense, uitgedruk met die algemene stelreël: “Wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.” Aan die einde van die hoofstuk raak Petrus ook die impak van die evangelie aan op dié wat reeds dood is.

Continue reading

1 Petrus 2 – Groei geestelik deur Jesus Christus se voorbeeld te volg

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasIn hierdie hoofstuk fokus Petrus op vier sirkels van geestelike groei waarop elkeen wat in Jesus Christus glo, moet fokus:

  1. Sorg dat jyself geestelik groei deur die “melk van die woord” – 2:1-3
  2. Laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis vir die Here – 2:4-10
  3. Dien God in die gemeenskap deur goed te doen – 2:11-17
  4. Respekteer jou werkgewer en volhard in goeddoen in die navolging van Christus – 2:18-25

Hy sal in die volgende hoofstuk nog verder uitbrei oor geestelike groei in die huwelik (3:1-7) waarna hy ook nog ‘n aantal riglyne vir hulle sal gee wat gebaseer is op die beginsel dat hulle tot ‘n seën vir die geloofsgemeenskap sowel as die breër gemeenskapslewe moet wees (3:8-17).

Dit alles word as ingebed in die navolging van die voorbeeld van die Here Jesus Christus verwoord: “Julle is immers hiertoe geroep … Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat sodat julle in sy voetspore kan volg” (2:21).

Dit is belangrik dat ‘n mens hierdie vier sirkels – vyf sirkels as ‘n mens die volgende hoofstuk in gedagte hou – nie só beskou dat jy hulle opeenvolgend moet bemeester nie. Jy begin nie by jou persoonlike lewe, vorder dan na inskakeling in die geloofsgemeenskap, en dan eers werk jy aan jou betrokkenheid in die gemeenskap, jou werksverhoudinge en jou huwelik nie. Wat vir die een sirkel van God se impak in jou lewe geld, geld eintlik ook vir die ander.

Wat ‘n mens wel moet onthou, is dat ‘n gebrek in die een sirkel sal impakteer op die ander. Slegte verhoudinge kan jou persoonlike geestelike lewe omkrap en omgekeerd. Gelukkig, ‘n vordering in die een sirkel sal ook altyd ‘n impak hê op die ander. Waar ek in my persoonlike geestelike lewe gevoed word deur die woord van die Here, sal dit ‘n impak hê op my inskakeling in die geloofsgemeenskap en hoe ek teenoor my werkgewer optree. En inskakeling in die geloofsgemeenskap sal my persoonlike geestelike groei bevorder, omdat ander my sal aanspoor en verantwoordelik hou om dit te doen. Só is dit met al vyf hierdie dimensies van die geestelike lewe. Al vyf dra by tot integrasie en integriteit in my geestelike volwassewording. Ons het al vyf nodig!

Continue reading

Onlangse kommentaar