2 Petrus 3 – Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van Jesus Christus

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasDie vorige hoofstuk het nou al reeds uitvoerig gehandel oor die gevare van die leer en lewe van die dwaalleraars. Hulle kan uitgeken word aan hulle verloëning van die Here Jesus Christus, hulle losbandigheid en onsedelikheid, hulle gierigheid en hebsug, asook hulle gebrek aan respek vir die gesag van God se Woord.

In hierdie hoofstuk fokus Petrus op ‘n verdere aspek van hulle leer en lewe – hulle lering oor die wederkoms van die Here Jesus Christus en hulle lewenshouding daaroor. Hy wil die geloofsgemeenskap daarteen waarsku, hulle nie net help om reg daaroor te dink nie aan die hand van die geskrifte van die OT profete en die prediking van die NT apostels nie, maar hulle ook motiveer tot ‘n lewende verwagting daarvan.

Hy behandel dit as volg:

  • Die gevaar van Spotters oor die Wederkoms – 3:1-4
  • Spotters ignoreer die voorbeeld van die geskiedenis – 3:5-7
  • Spotters ignoreer God se tydsberekening – 3:8-10
  • Ons verwag ‘n nuwe hemel en aarde – 3:11-16
  • Sorg dat julle nie meegesleur word deur dwaling nie – 3:17-18

Hy sluit sy brief af met ‘n enkele vers wat die interessante verwysing het na God aan wie die heerlikheid behoort: “nou en ook tot op die dag van die ewigheid.” ‘n Manier om op nóg ‘n wyse uit te spel dat die dag van die Here oneindig lank is.

3:1-4 – Die gevaar van Spotters oor die Wederkoms

Petrus verwys hier na sy eerste brief en herhaal dat die doel van sy skrywes is om hulle te help om helder te dink oor sake. Daarom wakker hy hulle geheue aan sodat hulle die twee belangrikste bronne van God se openbaring in herinnering kan roep en kan inspan in hulle manier van dink en lewe.

Die twee bronne van God se openbaring is die woorde van die heilige profete, d.w.s. die opgetekende getuienis wat in die Bybel van hulle tyd beskikbaar was, sowel as die prediking van die apostels wat gebaseer was op die opdragte van die Here Jesus, die Verlosser.

Dit is aan die hand van dié boodskap wat hulle gevaar van die spotters sal kan herken, omdat hulle die duidelike boodskap van die profete en apostels sal teenstaan en betwyfel met die vraag: “Wat het geword van die belofte van sy koms?” Hulle motivering sal wees hulle eie misplaaste idee oor die gewaande uitgestelde wederkoms – “alles bly steeds soos dit van die begin van die skepping af was” – sowel as die behoefte om hulle lewens: “volgens hulle eie drange in (te) rig.”

3:5-7 – Spotters ignoreer die voorbeeld van die geskiedenis

Petrus wys dan in twee perikope op die twee sleutelfoute wat die spotters maak. Hulle lees die geskiedenis met die verkeerde bril. En hulle misgis hulle met God se tydsberekening.

Petrus verwys na die drie voorbeelde uit die geskiedenis:

  • Hy verwys na die Skepping wat deur God se besluit tot stand gekom het, en wat Hom nie net die reg gee om soewerein op te tree nie, maar ook die mag illustreer wat Hy het om dit inderdaate doen.
  • Hy verwys ook na die Sondvloed in Noag se tyd, waaroor hy in die vorige hoofstuk ook geskryf het, wat God se ingrype in die geskiedenis bewys. En onthou, min of meer alle volke het verhale hieroor wat die wydverspreide kollektiewe geheue van ‘n vloed van een of ander aard veronderstel.
  • En hy verwys ook na die voorspellings van ‘n oordeelsdag wat wyd in die profete uit die OT voorkom.

Dit gee dus vir die gelowiges teenargumente wat uit hulle eie geloofstradisies kom waarmee hulle die spotters kan troef.

3:8-10 – Spotters ignoreer God se tydsberekening

Die spotters misreken hulle ook met God se tydsberekening. Hy haal nóg ‘n Skrifgedeelte aan, uit Psalm 90:4, dat by die Here is een dag soos ‘n duisend jaar en ‘n duisend jaar soos een dag. God se tydsbegrip werk dus nie soos die spotters s’n nie. Daarom maak hulle spottery eintlik net geen sin nie.

Die wonder is dat dié gewaande uitstel eintlik louter genade is, omdat dit God se geduld illustreer met mense. Hy wil hulle alle kans gee om tot bekering te kom, sodat hulle nie saam met die aarde in die komende transformasie vergaan nie.

Tóg sal dié dag wel kom, soos ‘n dief in die nag, dít moet die spotters tog ook weet. Die bekende hemel en aarde sal tot ‘n einde kom en die dinge “wat daarop gedoen is, ontbloot sal word.” Alles sal dus aan die lig kom, die goeie en die kwade, ook die dade van die dwaalleraars.

3:11-16 – Ons verwag ‘n nuwe hemel en aarde

Petrus vervolg nou om ‘n prentjie te skets van hoop, dié hoop wat die gelowiges moet vertroetel, en waaraan hulle moet vashou. Die hemel en aarde sal van gedaante verander om ‘n plek te wees “waar geregtigheid woon.” Dit is waarop hulle hulle gedagtes moet rig.

Dit sluit in dat hulle in die eerste plek ernstig daarna streef om in vrede met God te lewe (NIV se vertaling is “at peace with Him“). Dit sluit ook in die tweede plek in dat hulle hulle: “vlekkeloos en onberispelik” in leer en lewe sal gedra, sodat hulle saam met Hom dié nuwe hemel en aarde van geregtigheid kan betree. God se geduld is dus ‘n geleentheid tot verlossing, ‘n aanbod aan alle mense, maar veral aan die geloofsgemeenskap.

Petrus verwys hier na die briewe van Paulus waarin hy ook oor hierdie sake praat – ‘n mens dink bv. aan die briewe aan die Tessalonissense – hoewel dit nie altyd so maklik is om te verstaan nie, sê Petrus! Onkundige en onstandvastige mense verdraai dit tot hulle eie skande en skade.

3:17-18 – Sorg dat julle nie meegesleur word deur dwaling nie

Petrus som sy brief op met die oproep dat hulle dus nie moet toelaat dat hulle meegesleur word deur die dwaalleraars se leringe nie. Hy het hulle in sy brief goeie raad gegee waarmee hulle die dwaasheid van die dwaalleraars kan troef. Daaraan moet hulle vasklou sodat hulle nie meegesleur word en hulle eie standvastigheid verloor nie.

Hulle moet sorg dat hulle aanhou groei in die genade en kennis van die Here en Verlosser, Jesus Christus.

Boodskap

Die klem op die Skrif en die prediking in dié laaste hoofstuk van Petrus val my op. Die klem op die gesag van die mense wat daaragter sit, die profete van die OT en die apostels van die NT, val my ook op. Dít is immers waarom ons vandag ‘n kanon het wat ook die NT insluit, die evangelies, briewe en geskrifte van die apostels, want hulle skriftelike nalatenskap is versamel en het die outentieke uitdrukking van God se Woord in mensetaal vir ons geword.

Daarom is die Woord van God só belangrik, die skriftuurlike neerslag van sy woorde aan ons. Dít is die bron wat ons help om te onderskei tussen waarheid en dwaling, wat ons help om ‘n lewe te bou op die genade en kennis van die Here Jesus Christus. Daaraan moet ons vasklou sodat ons nie weggeskeur word en ons geloof in God verloor nie. Dít sal ons doen, want die Here weet hoe om mense wat aan Hom toegewy wil lewe, vir die lewe te behou. “Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. Amen.

2 Petrus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Ek is `n lidmaat by Overkruin gemeente in Pretoria. Daar bestaan talle skrywes oor die “Tussentoestand” Hiervolgens skei liggaam en siel met die dood en is gesê dat die siel voortleef terwyl die verheerlikte liggaam later sal opstaan. Wat presies is die verklaring t.o.v. bogenoemde.
    Baie dankie
    Johan

    • Hi Johan, jy het dit reg. In die NT gaan die dooies na Hades (ᾅδης) soos dit reeds in die OT uitgespel is (Hand 2:27, 31). Hades is die Onderwêreld wat met die hemel gekontrasteer word (Matt 11:23; Luk 10:15). In die gelykenis van Jesus van die ryk man en Lasarus, is Hades ‘n plek van pyniging vir die arrogante ryk man (Luk 16:23–25) na die dood, terwyl Lasarus aan Abraham se kant versorg word (Luk 16:22, 25). Die goddelose en regverdige dooies bly dus op verskillende plekke na hulle dood. Hades word ook soms die plek van pyniging en straf vir die goddelose dooies genoem, en soms Gehenna (γέεννα – Matt 5:29-30), die bodemlose put (ἄβυσσος – Luk 8:31) of Tartarus (2 Pet 2:4) genoem en beskryf as ‘n plek van ewige vuur (Matt 25:41; Judas 7), waar gehuil en gekners word op die tande (Matt 13:42). Die regverdige dooies daarenteen geniet ‘n hiernamaals in die paradys (παράδεισος – Luk 23:43) met Christus (2 Kor 5:8; Fil 1:23) totdat hulle aan die einde van die tyd verenig word met ‘n verheerlikte liggaam en die ewige lewe saam met God betree. (Benjamin Austin in Afterlife, Lexham Theological Wordbook, 2014)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: