Skip to main content

2 Petrus 3 – Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van Jesus Christus

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasDie vorige hoofstuk het nou al reeds uitvoerig gehandel oor die gevare van die leer en lewe van die dwaalleraars. Hulle kan uitgeken word aan hulle verloëning van die Here Jesus Christus, hulle losbandigheid en onsedelikheid, hulle gierigheid en hebsug, asook hulle gebrek aan respek vir die gesag van God se Woord.

In hierdie hoofstuk fokus Petrus op ‘n verdere aspek van hulle leer en lewe – hulle lering oor die wederkoms van die Here Jesus Christus en hulle lewenshouding daaroor. Hy wil die geloofsgemeenskap daarteen waarsku, hulle nie net help om reg daaroor te dink nie aan die hand van die geskrifte van die OT profete en die prediking van die NT apostels nie, maar hulle ook motiveer tot ‘n lewende verwagting daarvan.

Hy behandel dit as volg:

  • Die gevaar van Spotters oor die Wederkoms – 3:1-4
  • Spotters ignoreer die voorbeeld van die geskiedenis – 3:5-7
  • Spotters ignoreer God se tydsberekening – 3:8-10
  • Ons verwag ‘n nuwe hemel en aarde – 3:11-16
  • Sorg dat julle nie meegesleur word deur dwaling nie – 3:17-18

Hy sluit sy brief af met ‘n enkele vers wat die interessante verwysing het na God aan wie die heerlikheid behoort: “nou en ook tot op die dag van die ewigheid.” ‘n Manier om op nóg ‘n wyse uit te spel dat die dag van die Here oneindig lank is.

3:1-4 – Die gevaar van Spotters oor die Wederkoms

Petrus verwys hier na sy eerste brief en herhaal dat die doel van sy skrywes is om hulle te help om helder te dink oor sake. Daarom wakker hy hulle geheue aan sodat hulle die twee belangrikste bronne van God se openbaring in herinnering kan roep en kan inspan in hulle manier van dink en lewe.

Die twee bronne van God se openbaring is die woorde van die heilige profete, d.w.s. die opgetekende getuienis wat in die Bybel van hulle tyd beskikbaar was, sowel as die prediking van die apostels wat gebaseer was op die opdragte van die Here Jesus, die Verlosser.

Dit is aan die hand van dié boodskap wat hulle gevaar van die spotters sal kan herken, omdat hulle die duidelike boodskap van die profete en apostels sal teenstaan en betwyfel met die vraag: “Wat het geword van die belofte van sy koms?” Hulle motivering sal wees hulle eie misplaaste idee oor die gewaande uitgestelde wederkoms – “alles bly steeds soos dit van die begin van die skepping af was” – sowel as die behoefte om hulle lewens: “volgens hulle eie drange in (te) rig.”

3:5-7 – Spotters ignoreer die voorbeeld van die geskiedenis

Petrus wys dan in twee perikope op die twee sleutelfoute wat die spotters maak. Hulle lees die geskiedenis met die verkeerde bril. En hulle misgis hulle met God se tydsberekening.

Petrus verwys na die drie voorbeelde uit die geskiedenis:

  • Hy verwys na die Skepping wat deur God se besluit tot stand gekom het, en wat Hom nie net die reg gee om soewerein op te tree nie, maar ook die mag illustreer wat Hy het om dit inderdaate doen.
  • Hy verwys ook na die Sondvloed in Noag se tyd, waaroor hy in die vorige hoofstuk ook geskryf het, wat God se ingrype in die geskiedenis bewys. En onthou, min of meer alle volke het verhale hieroor wat die wydverspreide kollektiewe geheue van ‘n vloed van een of ander aard veronderstel.
  • En hy verwys ook na die voorspellings van ‘n oordeelsdag wat wyd in die profete uit die OT voorkom.

Dit gee dus vir die gelowiges teenargumente wat uit hulle eie geloofstradisies kom waarmee hulle die spotters kan troef.

3:8-10 – Spotters ignoreer God se tydsberekening

Die spotters misreken hulle ook met God se tydsberekening. Hy haal nóg ‘n Skrifgedeelte aan, uit Psalm 90:4, dat by die Here is een dag soos ‘n duisend jaar en ‘n duisend jaar soos een dag. God se tydsbegrip werk dus nie soos die spotters s’n nie. Daarom maak hulle spottery eintlik net geen sin nie.

Die wonder is dat dié gewaande uitstel eintlik louter genade is, omdat dit God se geduld illustreer met mense. Hy wil hulle alle kans gee om tot bekering te kom, sodat hulle nie saam met die aarde in die komende transformasie vergaan nie.

Tóg sal dié dag wel kom, soos ‘n dief in die nag, dít moet die spotters tog ook weet. Die bekende hemel en aarde sal tot ‘n einde kom en die dinge “wat daarop gedoen is, ontbloot sal word.” Alles sal dus aan die lig kom, die goeie en die kwade, ook die dade van die dwaalleraars.

3:11-16 – Ons verwag ‘n nuwe hemel en aarde

Petrus vervolg nou om ‘n prentjie te skets van hoop, dié hoop wat die gelowiges moet vertroetel, en waaraan hulle moet vashou. Die hemel en aarde sal van gedaante verander om ‘n plek te wees “waar geregtigheid woon.” Dit is waarop hulle hulle gedagtes moet rig.

Dit sluit in dat hulle in die eerste plek ernstig daarna streef om in vrede met God te lewe (NIV se vertaling is “at peace with Him“). Dit sluit ook in die tweede plek in dat hulle hulle: “vlekkeloos en onberispelik” in leer en lewe sal gedra, sodat hulle saam met Hom dié nuwe hemel en aarde van geregtigheid kan betree. God se geduld is dus ‘n geleentheid tot verlossing, ‘n aanbod aan alle mense, maar veral aan die geloofsgemeenskap.

Petrus verwys hier na die briewe van Paulus waarin hy ook oor hierdie sake praat – ‘n mens dink bv. aan die briewe aan die Tessalonissense – hoewel dit nie altyd so maklik is om te verstaan nie, sê Petrus! Onkundige en onstandvastige mense verdraai dit tot hulle eie skande en skade.

3:17-18 – Sorg dat julle nie meegesleur word deur dwaling nie

Petrus som sy brief op met die oproep dat hulle dus nie moet toelaat dat hulle meegesleur word deur die dwaalleraars se leringe nie. Hy het hulle in sy brief goeie raad gegee waarmee hulle die dwaasheid van die dwaalleraars kan troef. Daaraan moet hulle vasklou sodat hulle nie meegesleur word en hulle eie standvastigheid verloor nie.

Hulle moet sorg dat hulle aanhou groei in die genade en kennis van die Here en Verlosser, Jesus Christus.

Boodskap

Die klem op die Skrif en die prediking in dié laaste hoofstuk van Petrus val my op. Die klem op die gesag van die mense wat daaragter sit, die profete van die OT en die apostels van die NT, val my ook op. Dít is immers waarom ons vandag ‘n kanon het wat ook die NT insluit, die evangelies, briewe en geskrifte van die apostels, want hulle skriftelike nalatenskap is versamel en het die outentieke uitdrukking van God se Woord in mensetaal vir ons geword.

Daarom is die Woord van God só belangrik, die skriftuurlike neerslag van sy woorde aan ons. Dít is die bron wat ons help om te onderskei tussen waarheid en dwaling, wat ons help om ‘n lewe te bou op die genade en kennis van die Here Jesus Christus. Daaraan moet ons vasklou sodat ons nie weggeskeur word en ons geloof in God verloor nie. Dít sal ons doen, want die Here weet hoe om mense wat aan Hom toegewy wil lewe, vir die lewe te behou. “Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. Amen.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

2 Petrus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.