Skip to main content

2 Petrus – Hou vas aan die ware evangelie

Inleiding op 2 Petrus

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasAfskeidsboodskap van Petrus

Hierdie brief is ‘n afskeidsboodskap van die apostel Petrus aan die geloofsgemeenskap in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Betinië (1 Pet. 1:1), hoewel Petrus hulle nie eksplisiet in die brief noem nie. Dit lei ons af uit die feit dat Petrus wel sê dat dit die tweede brief is wat hy aan hierdie “geliefdes” rig (2 Pet. 3:1). Dit dateer dus ook uit die vroeë tot middel sestigjare van die eerste eeu n.C., en is ook waarskynlik uit Rome geskryf in die tyd van keiser Nero.

Uitdaging van dwaalleraars

Waar die eerste brief gerig is aan hierdie gelowiges om hulle te bemoedig om standvastig in geloof te bly, midde in intimidasie, vervolging en “allerhande beproewings”, word die tweede brief aan hulle gerig om die uitdaging van dwaalleraars die hoof te bied. Petrus is baie bewus van die feit dat die geloofsgemeenskap net: “met moeite (sal) ontkom aan dié wat in dwaling leef“ (2 Pet. 2:18).

Hy waarsku hulle dat die vals leraars vernietigende ketterye sal insmokkel in hulle geloofsgemeenskap wat nie net tot losbandigheid kan lei nie, maar hulle selfs kan verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak onder andere deur die wederkoms te ontken (2 Pet. 3:4). Hierdie ketterye was waarskynlik die voorlopers van die Gnostiese leringe wat ‘n onderskeid tussen die gees en liggaam gemaak het, en geleer het dat losbandigheid aanvaarbaar is, omdat dit volgens hulle nie jou gees kan besoedel nie.

Petrus wys die hebsug uit waarmee hulle die geloofsgemeenskap vir eie gewin sal uitbuit (2 Pet. 2:3,14), sowel as die verdraaidheid van hulle argumente deur veral op die regte interpretasie van die Skrif en hulle eie geloofstradisie klem te lê in hfst. 2, ‘n hoofstuk wat groot ooreenkomste toon met die brief van Judas.

Hou vas aan die ware evangelie

Petrus wil hulle daarmee aanmoedig om vas te hou aan die ware evangelie: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet. 3:18). Hulle geloof is net te kosbaar (2 Pet. 1:1) dat hulle deur roekelose en arrogante mense (2 Pet. 2:10) op ‘n dwaalspoor gelei mag word.

Hy wil daarom met hierdie tweede brief hulle geheue verfris (2 Pet. 1:12) en hulle denke verhelder (2 Pet. 3:1), sodat hulle met die oog op die wederkoms van die Here Jesus Christus op hulle hoede kan wees vir hierdie beginsellose dwaalleraars en nie die gevaar loop om hulle standvastigheid te verloor nie (2 Pet. 3:17), ‘n tema waaroor hy uitvoerig in sy eerste brief aan hulle geskryf het.

Trinitariese onderbou

Petrus is ook baie bewus van sy naderende dood (2 Pet. 1:14) en wil vir oulaas met hierdie skrywe hulle help om die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is, te ontvlug (2 Pet. 1:4). Hy wil hulle help om te bly fokus op God se goddelike krag wat hulle alles gegee het wat hulle nodig het vir ‘n toegewyde lewe (2 Pet. 1:3). Dan sal hulle nie struikel voor die uitdaging van die dwaalleraars nie (2 Pet. 1:10).

Benewens hierdie sterk klem op God se krag, fokus Petrus op die rol van die Heilige Gees wat deur die profetiese woord uit die Skrif hulle tot helder begrip van God se wil sal bring, uitgedruk met die metafoor van “die môrester (wat moet) opgaan in julle harte.” (2 Pet. 1:19). Hy maak ook baie van die wederkoms van die Here Jesus, ‘n dag waarna hulle moet uitsien “en dit probeer bespoedig” (2 Pet. 3:12)!

Dit is dus duidelik dat die brief gedra word deur ‘n sterk Trinitariese onderbou. Hulle kan staatmaak op:

  • die krag van God die Vader wat in en vir alles voorsien (2 Pet. 1:3),
  • die woord van die Skrif wat deur die Heilige Gees gebruik word om hulle tot helder begrip te lei (2 Pet. 1:21), en
  • die genade en vrede waaraan hulle deur hulle kennis en ervaring van die Here Jesus Christus, hulle Verlosser, deel kry (2 Pet. 1:8; 1:16; 3:18).

Omdat hierdie God dus op só ‘n kragtige manier in hulle werk, hét hulle die vermoë om nee te sê vir die uitdaging van die dwaalleraars, kán hulle ‘n heilige lewe lei wat aan God toegewy is, en sál hulle nie hulle standvastigheid verloor nie. “Die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus,” sal daarvoor sorg (2 Pet. 1:16).

Die verband tussen Judas en 2 Petrus 2

Daar is redelike verskil van mening oor hoe die verband tussen hoofstuk 2 van die 2de brief van Petrus en die brief van Judas verklaar moet word. Vyftien verse uit die brief van Judas se vyf en twintig verse kom in sy geheel of gedeeltelik ook in hierdie tweede hoofstuk van Petrus voor.

Sommige geleerdes dink dat Judas staatmaak op Petrus, omdat dit uit Petrus se brief lyk asof die uitdaging van die dwaalleraars nog net begin het (“omdat daar onder julle vals leraars sal wees” – 2 Pet. 2:1), terwyl dit uit Judas se brief lyk asof die uitdaging in volle swang is (“sekere mense … het julle geledere binnegesypel” – Jud. 4).

Die meerderheid geleerdes dink egter dat dit eerder Petrus is wat Judas se brief gebruik, omdat Petrus nie nét in die toekomstige tyd oor hulle skryf nie (“Hulle is roekelose arrogante mense” – 2 Pet. 2:10), en dit lyk asof Petrus se gebruik van die toekomstige tyd meer ‘n retoriese skryfstyl is. Uit Judas se brief blyk dit immers ook duidelik dat die uitdaging nog maar so pas begin het. Judas moes sy planne om oor hulle gemeenskaplike verlossing te skrywe, verander en is weens die skielike uitdaging van die dwaalleraars genoodsaak om eers daaroor te skrywe (Jud. 3).

Dié mening word verder ondersteun deur die feit dat Petrus se brief ook meer uitgebreid is as die brief van Judas. Dit maak meer sin dat die korter weergawe eerste is, en die langer weergawe tweede. Daarby is dit duidelik dat Petrus wel dieselfde temas uit die Joodse pseudepigrafiese werke aanhaal, maar sonder om dit, soos Judas wel doen, direk aan te haal. Sommige sê dat dit Juda se prioriteit aandui, maar ‘n mens kan dit natuurlik andersom ook argumenteer!

Die ander moontlikheid is dat Petrus en Judas onafhanklik van mekaar ‘n ander en gemeenskaplike bron gebruik, bv. ‘n bestaande stuk kategetiese onderrigmateriaal, maar elkeen op sy eie manier. So ‘n moontlikheid is waarskynlik die eenvoudigste verklaring, maar ons sal nooit volle sekerheid oor enigeeen van die drie standpunte kan hê nie.

Petrus en Paulus

Die brief getuig ook van ‘n goeie verhouding tussen Petrus en Paulus, hoewel Petrus ook duidelik is daaroor dat Paulus se briewe nie altyd maklik is om te verstaan nie, en sommige mense juis hulle onkunde en gebrek aan standvastigheid ten toon stel in die verdraaide interpretasies wat hulle aan Paulus se leringe tot hulle eie ondergang heg (2 Pet. 3:15-16). Daaruit lei ons ook af dat die vroeë kerk hierdie briewe van Paulus as van groot en gesaghebbende belang geag het en begin het om dit te versamel en versprei. Dit wys ook op die vroeë begin van die proses van die samestelling van die kanon soos ons dit vandag in die NT (saam met die OT) het.

Indeling

Ons lees die tweede brief van Petrus as volg:

Hoofstuk Tema Datum
Inleiding Hou vas aan die ware evangelie 30-Nov
Hfst. 1 Lê julle daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig 1-Des
Hfst. 2 Wees versigtig vir vals profete en leraars 2-Des
Hfst. 3 Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van Jesus Christus 3-Des

2 Petrus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar