Psalm 90:13-17
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
In die tweede deel van die Psalm bely Moses dat die geheim van die lewe afhanklik is van God se gawes, van sy ontferming, sy liefde, en die jare wat Hy ons gee. Dit is wanneer Hy elke dag sy liefde in oorvloed gee en Hy sorg dat sy werk en grootheid duidelik raak vir ons kinders dat die lewe sin begin maak en ons blydskap kan belewe. Daarom vra Moses dat hulle – dit kan aan enige tydperk in die woestyn gekoppel word (vgl. Eks. 34 bv.) – die goedheid van die Here ons God só sal belewe, dat Hy die werk van ons hande in stand sal hou. Watter ongelooflike insig in hoe die lewe werk, en watter belangrike gebed om te bid!
Bid die Psalm
“Kom terug, Here! Hoe lank gaan U nog uitstel? Ontferm U tog oor u dienaars! Vul ons met u genade in die oggend, dan sing ons van vreugde al ons dae. Gee ons vreugde na al ons lyding, na al die jare van onheil wat ons beleef het. Laat al u dienaars u werke sien, en hulle kinders u heerlikheid. En mag die Here ons God sy goedheid aan ons bewys, en die werk van ons hande bevestig. Ja, bevestig die werk van ons hande!” NLV
Boodskap en betekenis
Moses is baie bewus van twee goed: 1) hoe onbeduidendheid menslike lewe werklik is in vergelyking met God se grootheid en ewigheid; en 2) hoe afhanklik die mens is van God se ontferming, liefde, en goedheid. Daar is niks wat goed is wat nie van God af kom nie. Daarom is die enigste verwagting en hoop wat sin maak van die lewe, in God self en die gawes wat Hy gee, geleë. Daarom kan ek myself vind in hierdie aanhaling van Nicolas Herman, beter bekend as Brother Lawrence: “The time of business,” het hy gesê, “does not with me differ from the time of prayer and in the noise and clutter of my kitchen, while several persons are at the same time calling for different things, I possess God in as great tranquility as if I were upon my knees at the blessed sacrament.” (The Practice of the Presence of God the best rule of a Holy Life.) Die hele lewe is in God se hand en moet as sodanig deur jou gelewe word.
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar