Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Psalm 94:12-23

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalmis rig hom vervolgens op diegene wat bereid is om te luister na wat hy te sê het, dié wat hulle deur God wil laat vermaan. Dié onderrig kom uit die “gebooie”, waarin die tweede deel van Psalm 19 in herinnering geroep word. Sulke mense sal nie net gelukkig wees nie, maar ook rus kry na tye van teëspoed as die Here optree teen dié wat goddeloos opgetree het. Ná die interne aanspreek van die onverstandiges en die bemoediging van die opregtes, wend die Psalmis hom teen dié plek waar onreg die meeste gedy, die korrupsie van dié wat verantwoordelik is vir die regspraak, die regters. Dit is diegene: “wie se wette ellende bring.” Dit is net God self wat kan en sal help. Anders was die stilte van die graf immers lankal reeds sy tuiste.

Bid die Psalm

“Geseënd is hulle vir wie U vermaan, Here, vir wie U uit u gebooie onderrig. U gee hom verligting in moeilike tye, maar vir die goddelose wag ’n graf. Die Here sal sy volk sekerlik nie verlaat nie, en sy erfdeel nie laat vaar nie. Regspraak sal kom vir die regverdiges en al die opregtes sal dit soek. Wie beskerm my teen goddeloses? Wie staan my by teen boosdoeners? As die Here my nie gehelp het nie, was die stilte van die graf my lot. Toe ek sê: “My voet gly!” het u trou my ondersteun, Here. Wanneer twyfel my oorweldig, het u troos my verbly. Kan ’n bose regeerder aan U verbind wees, iemand wie se wette ellende bring? Hulle span saam teen regverdiges, veroordeel onskuldiges tot die dood. Maar die Here is my toevlug; my God is ’n rots waar ek kan skuil. Hy sal hulle sondes vergeld, hulle vernietig oor hulle boosheid. Die Here ons God sal hulle uitwis.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm bring groot rus in my gemoed. Net soos God die reg in die heelal handhaaf, só doen Hy dit op aarde. Ons mag dus die gebed in die Ons Vader bid: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” (Matt. 6:10b). En ons mag God vertrou dat Hy dit in spesifieke sake sal doen, bv. in hoe regspraak uitgeoefen word. Selfs as dinge op die korttermyn nie uitwerk nie, bly Hyself vir ons ’n toevlug en gee Hy rus van die ontstellende gedagtes wat in ons binneste vermenigvuldig, en beur ons op deur sy vertroosting, NT-gesproke deur Die Vertrooster, die Heilige Gees. Die vrede van God sal oor ons gevoelens en gedagtes die wag hou, belowe Paulus ons in Filippense 4:7.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 94:1-11

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 94 was voorgeskryf om deur die Leviete op Woensdae met die daaglikse brandoffer gesing te word. Die Psalm is bedoel as ‘n versekering en bemoediging vir die geloofsgemeenskap wat smag na reg en geregtigheid op aarde. Die Psalm kan in vier dele opgedeel word: 1) Belydenis oor God se Regterskap as appèl dat Hy moet optree – vers 1–7; 2) Appèl op die onverstandiges en dwase – vers 8–11; 3) Bemoediging van dié wat op God se woord bly vertrou – vers 12–15; 4) Gebed dat God teen korrupte regters sal optree– vers 16–23. Ons lees dit oor 2 dae.

Bid die Psalm

“God wat onreg oordeel, Here, God van oordeel, vertoon tog Uself! Kom, Regter van die aarde! Vergeld die hoogmoediges volgens wat hulle verdien. Hoe lank, Here, sal die goddeloses, hoe lank sal die goddeloses seëvier? Hulle borrel oor met astrante woorde; al die boosdoeners spog daarmee. Hulle vertrap u volk, Here, en verdruk dié wat aan U behoort. Weduwees en vreemdelinge bring hulle om die lewe, en weeskinders maak hulle dood. Hulle sê: “Die Here sien dit nie; die God van Jakob bemerk dit nie.” Dink weer, julle onnoseles! Wanneer word julle wys, dwase? Is Hy wat die ore gemaak het, doof? Is Hy wat die oë gevorm het, blind? Sou Hy wat die nasies straf, dan nie straf nie? Sou Hy wat onderrig, aan kennis ontbreek? Die Here ken mense se gedagtes, Hy weet dat dit niks werd is nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm begin met die belydenis oor en appèl op God: “God wat onreg oordeel, Here, God van oordeel, vertoon tog Uself! Kom, Regter van die aarde!” Daarin lê die boodskap en krag van die Psalm. Dit is omdat God die reg oor die hele aarde het as Skepper, dat Hy vir die handhawing van die reg oor die hele aarde gevra kan word. Dié gebed maak dus staat op die uitvoering van God se regsheerskappy oor alles wat leef en beef. Die Psalm is daarom gemik téén dié mense wat God se reg dwarsboom, dié wat hulle teen Hom verhef en vir die weerloses in die samelewing: die weduwees, vreemdelinge, en weeskinders (vaderloses). Dit is mense wat óf hulle versorgingsisteem verloor het – weduwees en weeskinders – óf dié wat inkommers is en sukkel om deel van die gemeenskap te word – vreemdelinge (weens politieke of ekonomiese redes – lees wat Lev. 19:34 daaroor te sê het). Let ook op die solidariteit na beide kante toe. Dié weerloses skaar hulle by die volk van God en die Psalmis reken hulle as deel van die volk van God. Belangrik!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 93

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 93 vier God se heerskappy oor die chaosmagte wat stabiliteit gebring het oor die wêreld (vers 1–4) sowel as sekuriteit in die geloofsgemeenskap (vers 5). Dit resoneer met die gedagte van die rus waarvan Gen. 2:1 praat wat beide ’n Goddelike dimensie as ’n menslike dimensie het. Dit is waarom dié Psalm dan ook met die “lied vir die dag” in die Joodse tempel tradisie geassosieer is. Dit is op Vrydae deur die Leviete in die tempel gesing by die bring van die brandoffer. Let op hoe God se koningskap van ouds af geteken word: “U troon is gevestig van altyd af. U bestaan van ewigheid af.” Die gedruis van die “riviere” en van “baie waters” roep die oerchaos waaruit God geskep het, in herinnering (vgl. Gen. 1:2). Dit is dié God wat die Koning in die geloofsgemeenskap is. Daarom kan ’n mens sy bepalings vir die lewe navolg, want nie net is dit onveranderlik nie, dit is ook betroubaar tot in lengte van dae.

Bid die Psalm

“Die Here is Koning! Hy is met majesteit beklee. Inderdaad, die Here beklee Homself; Hy omgord Homself met krag. Die wêreld is stewig gevestig; dit kan nie wankel nie. U troon is gevestig van altyd af. U bestaan van ewigheid af. Die riviere het hulle verhef, Here. Die riviere het hulle stem verhef. Die riviere verhef hulle met gedruis. Maar bo die gedreun van baie waters, bo die geraas van die golwe van die see, bo alles is die mag van die Here! U bepalings is onveranderlik. Heiligheid versier u woning, Here, tot in lengte van dae.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm leer my dat God vir stabiliteit in die wêreld en sekuriteit in die geloofsgemeenskap sorg. Daarvoor kan ’n mens Hom vertrou. Dit kan ’n mens ook van Hom vra. Daarom kan ek ook myself gee vir sy riglyne vir die lewe, want dit is in sy teenwoordigheid wat ek self en die geloofsgemeenskap betekenis en sin vind. En dit is ’n boodskap wat dié wêreld moet hoor.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 92

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die titel van Psalm 92 val op: ”ʼn Lied vir die Sabbatdag.” In die Joodse tradisie (Mishna) is daar ‘n Psalm vir elke dag van die week voorgeskryf om deur die Leviete tydens die daaglikse brandoffer in die tempel as die “lied van die dag” te sing: Psalm 24 op Sondag; Psalm 48 op Maandag; Psalm 82 op Dinsdag; Psalm 94 op Woensdag; Psalm 81 op Donderdag; Psalm 93 op Vrydag; en dan Psalm 92 op die Sabbatdag. Elkeen van die Psalms het op ‘n aspek van die skeppingsweek gefokus. In Psalm 92 se geval het dit die boodskap gedra dat dit goed is om elke môre God se goedheid en elke aand sy getrouheid aan te kondig, want sy groot dade maak ons bly. Die Psalm kan in drie dele opgedeel word: 1) Vers 1-7 – ‘n Danklied: “Dit is goed om die Here te dank/loof.” 2) Vers 8-12 – ‘n Belydenis: “Alle boosdoeners sal verstrooi word. U maak my sterk soos ’n buffel.” 3) Vers 13-16 – ‘n Verwagting:Maar regverdiges sal blom soos ’n palmboom… Die Here is regverdig.” Weereens gee dié indeling ‘n mens ‘n handige struktuur vir jou eie gebede: dank, belydenis, verwagting. Ons lees dit as ‘n eenheid.

Bid die Psalm

“Dit is goed om die Here te dank, om u Naam te loof, Allerhoogste; om soggens u goedheid aan te kondig, en in die aand u getrouheid, met snaarinstrumente, met die harp en die begeleiding met die lier. U groot dade maak my bly, Here! Ek juig oor u handewerk. Hoe groot is u werke, Here! Hoe diep is u gedagtes! Net ’n onkundige sal dit nie weet nie! Net ’n dwaas sal dit nie verstaan nie! Die goddeloses floreer soos onkruid, en boosdoeners woeker met sukses; tog sal hulle vir goed vernietig word. Maar U is hoog verhewe. U, Here, bestaan vir ewig. Maar u vyande, Here, u vyande sal sekerlik vergaan. Alle boosdoeners sal verstrooi word. U maak my sterk soos ’n buffel. U salf my met vars olie. Ek sal die einde van my vyande sien. Ek sal hoor sonder om te vrees wanneer boosdoeners teen my opstaan. Maar regverdiges sal blom soos ’n palmboom, en welig groei soos ’n seder van die Libanon. Geplant in die Here se huis, groei hulle weelderig in die voorhowe van ons God. Al is hulle oud, sal hulle steeds vrugte dra; hulle is vars en lewenskragtig. Hulle sal sê: “Die Here is regverdig. Hy is my rots. By Hom is daar geen onreg nie.”” NLV

Boodskap en betekenis

Daar is min dinge wat ‘n mens meer bewus maak van die teenwoordigheid van die Here as om in lofprysing en danksegging voor die Here te verkeer. Wie dit nie besef nie, sê die Psalm, is onnosel. Wie dit nie insien nie, het geen insig nie. Sulke mense sal daarom uitgewis word, al lyk dit asof hulle voorspoedig is (onthou Ps. 73!). Die lof en dank lei vanselfsprekend tot ‘n belydenis dat God se koningskap vir ewig is en dat Hy dit sal bewys in die feit dat aan die een kant onreg en dié wat onreg pleeg, God se vyande, uitgewis sal word. Aan die ander kant sal God dit ook bewys dat Hy gelowiges deel sal hê aan die oorwinning oor God se vyande, wat ook die gelowiges se teëstanders is. Vir hulle hoef gelowiges dus nie in vrees te lewe nie. Hulle dreigemente sal tot niks kom nie. Daarom kan ons rus in die verwagting dat God in beheer is. Die Psalm gebruik die twee metafore van die krag van die palmbome sowel as die hoë seders van Libanon om hulle oorlewing en lewenskrag te beskryf. Omdat regverdiges die Here ken, sal hulle selfs in hulle ouderdom nog toeneem in krag, sodat ook dié getuienis sal aankondig dat die Here regverdig is. Hy bly vir ons die onbeweeglike rots.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 91

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is asof Psalm 91 eenvoudig die gedagtegang van Psalm 90 voorsit, beide in terme van die fokus op die idee dat God ons toevlug is, asook in terme van die feit dat daar nie ’n opskrif vir dié Psalm is nie. Die Griekse vertaling, die LXX, het wel ’n opskrif “’n Loflied van Dawid.” Die Psalm se belydenis dat God dáár is vir dié wat Hom vertrou, is ’n fundamentele vertrekpunt vir die lewe van geloof. Dit is in die “skadu van die Almagtige” waar ’n mens veilig kan oornag. God se hulp is egter nie net vir wanneer ’n mens fisies naby Hom is nie, maar ook in die oopte waar die voëlvanger se wip – enigiets wat jou kan verstrik – en dodelike siekte – enigiets wat skade kan aanrig – jou kan tref, want sy vleuels strek ook tot daar. Só beskerm Hy ons van alle kante. Daarom hoef ’n mens nie te vrees vir verskrikking in die nag of vir ’n pyl in die dag (vyande), ’n pessiekte in die nag of ’n epidemie in die dag (siekte) nie. Selfs in die oorlog sal daar vir jou oorwinning wees. Dieselfde geld die belofte dat die Here jou skuilplek is; dat Hy jou beskut Hy van onheil en plae; dat Hy sy engele opdrag gee tot beskerming. Hy beskerm jou selfs in doodsgevaar in die natuur (leeus en slange). Sterk metaforiese taal wat die beskutting en beskerming van die Here belowe met alles wat Hy tot sy beskikking het – natuurlik en bo–natuurlik – aan dié wat Hom vertrou – waar hulle hul ook al mag bevind en in alle omstandighede. Die Psalm kan in twee dele opgedeel word: Vers 1–13 – ’n Beskrywing van die beskutting en beskerming wat die Here is en gee as motivering om op Hom te vertrou; Vers 14–16 – ’n Belofte van bevryding en beskerming van die Here af. Maar, ons lees dit as ‘n eenheid.

Bid die Psalm

“Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige. Ek sal vir die Here sê: “U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou.” Verseker sal Hy jou red uit die strik van die voëlvanger, en van die plaag wat vernietig. Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ’n skild. Jy sal nie bang wees vir die skrik van die nag, of die pyle van die dag; vir die plaag wat in die donker kom, of die ramp wat teen die middag verwoes nie. Al sou duisend langs jou val, of tienduisend om jou sterf, naby jou sal dit nie kom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou, en die straf van die goddelose sien. As die Here jou toevlug is, as die Allerhoogste jou skuilplek is, sal geen kwaad jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie. Want Hy sal sy engele beveel om jou te beskerm oral waar jy gaan. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie jou voet teen ’n klip stamp nie. Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom verlos; omdat hy my Naam ken, sal Ek hom beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel. Ek sal hom ’n lang lewe gee, en hy sal my verlossing sien.”” NLV

Boodskap en betekenis

Wat my tref, is dat die boodskap van Psalm 91 nie as’t ware ’n argument vir God se beskerming is nie. Dit is nie asof die Psalmis iemand probeer oortuig dat God vir beskerming vertrou kan word nie. God se beskerming word eenvoudig as ’n realiteit geskets waarmee gelowiges tot vertroue in God aangemoedig word. Niemand hoef daaroor te twyfel nie. God kan vertrou word. Dié vertroue kan ook vasgehou word, selfs al het ons verskillende ervarings van God se beskerming. Soos in die verhaal van Corrie en Casper ten Boom. Met hulle inhegtenisneming deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog, omdat hulle Jode in hulle huis in Haarlem, Nederland, weggesteek het, het hy vers 1 en 2 uit dié Psalm vir sy familie aangehaal, en sonder vrees die beproewing van die aanhouding aanvaar: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Allerhoogste geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’” Sy weerstand teen die Nazi’s het tot op daardie stadium reeds vir ongeveer 800 Jode ’n skuiling en bevryding gebied, maar hy is egter tien dae later in aanhouding dood, ’n ander soort “bevryding”, soos Corrie dit later in terme van dié Psalm beskryf, omdat hy in God se wêreld inbeweeg het. Een van die tekste in Psalm 91 wat vir Corrie self van besondere betekenis was, was die belofte in vers 16: “Met ’n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.” Dié vers het vir haar betekenis gekry toe sy in solitêre aanhouding opgesluit was op haar 52ste verjaarsdag in die Nazi konsentrasiekamp in Ravensbruck. Sy het daarin die belofte van die Here gehoor dat dié gevangenis nie die einde vir haar was nie, soos dit inderdaad uiteindelik die geval was. Daar is ook ’n rolprent gemaak oor haar lewe The Hiding Place. Sy het die rype ouderdom van 91 jaar bereik – net so oud soos die Psalm se getal – en ’n invloed regoor die wêreld gehad met optredes in meer as 60 lande waar sy veral oor vergifnis en versoening gepraat het. ’n Geseënde lewe, 11 jaar langer as die kragtige lewe waarvan Psalm 90 praat! Corrie het dus ‘n lang lewe gehad in haar vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Casper het ‘n korter lewe gehad, maar steeds ook in sy eie vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Twee teenoorgestelde ervarings – een boodskap: die Here is vir hulle ‘n skuilplek. En ek gebruik doelbewus die teenswoordige tyd… Dit is ook wat Jesus vir ons oor dié teks geleer het. Dit is nie ’n magiese belofte van fisiese beskutting, beskerming en bevryding in alle omstandighede nie. Toe die duiwel met die versoeking in die woestyn voorgestel het dat Jesus van die tempel afspring, omdat die Here in Psalm 91:11 belowe dat die engele Hom op hulle hande sal dra en sal sorg dat Hy nie sy voet teen ’n klip sal stamp nie, het Jesus dit getroef met ’n aanhaling uit Deut. 6:16: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Matt. 4:5–7). Tog bly God se bewaring ‘n werklikheid! Ook fisies! Dit is wat Jesus ervaar het. Jesus het wel fisies aan die kruis gesterwe, maar dit het nie beteken dat God Hom in die steek gelaat het nie. Hy het ook weer fisies uit die dood opgestaan, want God het Hom nie in die steek gelaat nie. Daarin lê die evangelie van Psalm 91 opgesluit, ook vir ons. Jy kan dus weet: God sal jou ook nie in die steek laat nie. Of jy nou lewe en of jy nou sterwe: “Ja, U, Here, is my skuilplek!”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar