Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Psalm 102:1-12

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 102 is ’n roerende klaaglied van iemand wat magteloos en kragteloos voel, waarskynlik saam met sy mense in ballingskap, want hy praat oor die puin en die herbou van Jerusalem. In ’n metafories ryk gebed stort hy sy hart uit voor die Here, soos die titel in vers 1 aandui, in die hoop dat God sy lot, die lot van sy mense en dié van hulle nageslag sal verander. ’n Mens kan die treffende gebed van die Psalm in drie dele opdeel (en onthou, dit is altyd ook ’n model vir ons eie gebede!): 1) HULPGEROEP: Ek voel so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn – vers 2–12; 2) BELYDENIS: God luister na die gebed van dié wat alles verloor het – vers 13–23; 3) HOOP: Ons nageslag sal die land bly bewoon – vers 24–29. Ons lees dit in drie dele.

Bid die Psalm

“’n Gebed van iemand wat oorweldig is met probleme en nou voor die Here kla. Here, luister na my gebed! Hoor my smeking om hulp! Moenie van my wegdraai wanneer ek in nood is nie. Luister tog wanneer ek U aanroep en antwoord my tog gou, want my dae verdwyn soos rook, my bene brand soos gloeiende kole. My hart is verdor, verlep soos gras; ek het vergeet hoe om te eet. As gevolg van my versugting is ek net vel en been. Ek is soos ’n uil in die woestyn, soos ’n naguil tussen murasies. Ek lê wakker, soos ’n eensame voël op ’n dak. My vyande beledig my dag na dag. Hulle spot en vloek my. Ek eet as in plaas van kos. My trane meng met wat ek drink weens u gramskap en u toorn. Ja, U het my opgetel en my weggegooi. My lewe is soos ’n skaduwee wat langer word. Ek is verskrompel soos gras.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis wend hom in sy nood tot die Here en skets in dertien uitsonderlike metafore en vergelykings die ellende van sy toestand, beskrywings waarin ons maklik ons eie situasie, of die situasie van mense om ons, kan raak lees. Hy vra dat die Here tog gou sal antwoord, want uiteindelik is ook dié situasie een waaraan God op intieme wyse deel het – “Ja, U het my opgetel en my weggegooi.” In die deel wat kom, blyk dit dat sy eie persoonlike ervaring van ellende verweef is met die lot en pyn van sy mense wat in ballingskap is.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 101

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 101 besing God se troue liefde en sy geregtigheid wat as standaard dien vir die koning se persoonlike lewe, sowel as vir dié wat diens doen in die amptenary. Daardeur sal die ganse lewe integriteit uitstraal. Dawid mik dus met alles in hom na ’n lewe van integriteit. Hoekom? Want God se troue liefde en geregtigheid het die hom só geïnspireer, dat hy hom volledig wil toespits op ’n onberispelike lewenswyse. Hy wil daarom met ’n opregte hart leef in sy paleis. Dit sluit in dat hy slegte dinge nie voor sy oë verdra nie, dat hy ’n weersin het in die pleeg van wandade, sodat dit nie ’n houvas op hom kry nie: “dit mag nie aan my kleef nie.” (vers 3 letterlik vertaal). Maar, sy persoonlike integriteit moet aangevul word met publieke keuses. Daarom neem die Psalmis hom voor om arrogante hoogmoediges nie te verdra nie, en op die uitkyk te bly vir amptenare wat betroubaar is, sodat hulle die koning in sy innerlike verknogtheid aan integriteit kan ondersteun. Allen praat van “circles of integrity” wat Dawid doelbewus rondom skep (Word kommentaar reeks). Bedrog en leuens sal dus nooit deug in die paleis nie, en die koning onderneem om goddelose mense op ’n daaglikse basis uit te sorteer in die stad van die Here. Hoe waar en noodsaaklik is dit nie ook in ons land in die publieke sfeer nie!

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Ek wil sing van u trou en geregtigheid. Here, ek wil U met liedere prys. Ek wil my daaraan toewy om opreg te lewe, maar wanneer kom U na my toe? In my huis wil ek lewe met ’n opregte hart. Ek steur my nie aan bose dinge nie. Ek haat alle valsheid; dit sal nie op my ’n houvas kry nie. Ek sal verkeerde gedagtes verwerp en wegbly van alles wat boos is. Iemand wat sy naaste beskinder, sal ek tot swye bring. Iemand met ’n trotse hart, vol eiewaan, sal ek nie duld nie. Ek let op die getroues in die land, en laat hulle by my woon. Net dié wat opreg lewe, net húlle sal my dien. Bedrieërs sal nie in my huis woon nie, en leuenaars sal nie by my bly nie. Soggens sal ek regspreek, die goddeloses in die land uitroei, en al die bewerkers van kwaad afsny van die stad van die Here.” NLV

Boodskap en betekenis

Psalm 101 fokus op die noodsaak van integriteit in alle sfere van die lewe. Die koning wy hom op persoonlike vlak toe aan ’n onberispelike lewe, verbind hom daartoe om dit op alle sosiale vlakke na te streef, en hom te omring in die publieke lewe met mense van integriteit, “circles of integrity.” Maar, let op in vers 2 dat Dawid vra: “Wanneer kom U na my toe?” Daarmee verwys hy na sy behoefte en verwagting dat God sy teenwoordigheid by hom sal laat geld soos Hy belowe het in die wet dat Hy na elkeen wat Hom aanroep, sal kom en hulle sal seën (Eks. 20:24). Jesus het nog verder gegaan en aan sy dissipels die belofte gegee dat: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” (Joh. 14:23) ‘n Belofte wat ons nog steeds kan aangryp waar ons ons harte op God, en op Hom alleen, rig.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 100

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 100 is seker een van die bekendste lofpsalms wat steeds gesing word in ons kerke. Die titel van die Psalm is nie verniet nie: “’n Psalm. Vir lofprysing.” (2020-vertaling) en “’n Dankpsalm” (NLV en 1983-vertaling). Albei titels is verantwoorde vertalings van die oorspronklike, omdat die woord tôdâ vir baie betekenisse gebruik kan word: lofprysing, danklied, verklaring, en selfs vir belydenis (vgl. bv. Jos. 7:19; Esra 10:11). Dit is ’n kort Psalm en daarom wil ek net drie perspektiewe uitlig wat jy in jou gebed kan gebruik: 1) Die Here is God. Jahwe (Here) word as God geteken en alle mense op aarde opgeroep om Jahwe as God te erken. Hy moet gedien word met blydskap; Hy moet erken word as God; Hy moet geprys word, omdat Hy goed is vir ewig en deur die geslagte. 2) Die ganse aarde moet hom prys. Let op dat dié lofpsalm vir die hele aarde bedoel is: “Juig die Here toe, o ganse aarde.” (2020-vertaling). Dit beteken dat hier ’n universele oproep is aan almal wat leef en beef op die aarde om die Here met blydskap en vreugde te dien. Meer nog, hulle almal word geteken as begunstigdes van God se versorgende hand, want hulle almal is sy kleinvee wat Hy laat wei. Uiteraard gee almal nie hieraan gehoor nie, en gaan hulle nie almal deur die poorte van die tempel – die gemeenskap van die gelowiges vandag – in met dankliedere en lofsange nie, maar die feit dat hulle in God hulle oorsprong het, dat Hy vir hulle sorg, word nie daarmee verminder nie. Met sewe opdragte word dié dinamiese karakter van hierdie lof uitgedruk: juig, dien, gaan (kom), erken, gaan, dank, prys. Die Here moet met blydskap gedien word. 3) Erken God se goedheid en troue liefde. Die inhoud van ons lof aan God word gekoppel aan die erkenning dat Hy God is, dat Hy ons gemaak het, dat ons aan Hom behoort, dat Hy ons soos ’n kudde kleinvee versorg, dat sy goedheid en troue liefde van geslag tot geslag duur, vir ewig. Dit is waarom die styl van ons lof geteken word as een van blydskap en vreugde. In die tempel moet sy poorte – by wyse van spreke – met lofprysing binnegegaan word, sy voorhowe met ’n loflied. Hy moet geloof word. Sy Naam moet geprys word.

Bid die Psalm

“’n Dankpsalm. Almal op aarde, juig tot eer van die Here! Dien die Here met blydskap. Kom voor Hom en sing met vreugde. Erken dat die Here God is! Hy het ons gemaak, en ons is Syne, sy volk, die skape van sy weiveld. Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en prys sy Naam. Want die Here is goed. Sy troue liefde hou aan vir altyd, sy trou is van geslag tot geslag.” NLV

Boodskap en betekenis

Psalm 100 onderstreep dat Jahwe God is, en niemand meer. Alle mense moet Hom dus loof. En dit is baie belangrik: wanneer ons in die kerk hierdie lied sing, het dit betekenis vir die hele mensdom. Ons moet hulle die hele tyd in gedagte hou as ons dié lied uit volle bors sing. As jy dus weer sing: “Juig almal tot Gods lof en eer, kom dien met blydskap God die Heer.” (of soos dit vroeër was: “Juig al wat leef, juig voor die Heer, dien God met blydskap gee Hom eer!”), dan dui dit nie net op dié wat langs jou in die kerkbanke sit of staan nie. Jy sluit elke mens op aarde in by jou loflied! Daarom sing ek ook vandag: “Juig al wat leef, juig voor die Heer, dien God met blydskap, gee Hom eer. Kom nader voor Sy aangesig en prys Hom met ’n lofgedig!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 99

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 99 is een van die prima aanbidding Psalms. Twee keer loop die beskrywing van God se wese en werk uit op ’n gelykluidende oproep om God te aanbid: “Loof die Here ons God! Aanbid Hom by sy voete, want Hy is heilig!” (vers 5 en 9). Dit is dan ook die indeling van die Psalm: vers 1–5 en vers 6–9. Die Psalmis teken in die eerste deel ’n prentjie van God wat regeer vanaf die Allerheiligste deel van die tempel in Sion. Die Psalmis sê: “Hy troon oor die gerubs” (vers 1). Dit dui aan die eenkant op die twee gerubs (hemelse wesens soos die engele en die serafs) van goudbeslag wat op die deksel van die verbondsark in die Allerheiligste van die tabernakel, die tent van ontmoeting, aangebring is (vgl. Eks. 25:18). Dit is die plek vanwaar God met Moses gepraat het op hulle reis deur die woestyn (Num. 7:89), en waar die hoëpriester Aäron (en ander later) een keer ’n jaar versoening vir die sondes van die volk gedoen het (Lev. 16). God is egter nie net in Sion nie. Dit is maar net sy “voetbank” (vgl. 1 Kron. 28:2 waar Dawid juis van die verbondsark “as rusplek vir die voete van ons God” praat; vgl. ook Ps. 132:7). Hy is ook: “hoog verhewe bokant al die volke.” Daarom kan die Psalmis alle mense oproep om sy groot en gevreesde Naam te prys: “U is heilig.” Die fokus van die Psalmis skuif na drie gebedshelde van weleer, Moses, Aäron en Samuel wat sy Naam aangeroep het en ervaar het dat Hy hulle gebed geantwoord het (interessant, al drie word priesters genoem, want hulle was natuurlik almal uit die stam van Levi). Samuel verbind homself interessant genoeg ook aan Moses en Aäron wat ’n aanduiding is dat hy sy lewe op dié van Moses en Aäron geskoei het (1 Sam. 12:6). In die vertaling staan daar dat Hy die gebed verhoor het, maar eintlik staan daar net dat Hy geantwoord het. Ons dink te maklik dat verhoring ’n ja–antwoord is. Dit is nie wat die drie se ervaring was nie. God het altyd geantwoord, maar soms ook nee geantwoord, soos wat ons eksplisiet van Moses (Eks. 32), en Samuel (1 Sam. 16) lees.

Bid die Psalm

“Die Here is koning! Laat die nasies bewe! Hy sit op die gerubs! Laat die hele aarde bewe! Groot is die Here in Sion, hoog verhewe bokant al die volke. Hulle moet u Naam verheerlik; dis groot en ontsagwekkend. Heilig is Hy! U is die magtige koning wat die reg liefhet. U het opregtheid gevestig, en reg en geregtigheid in Jakob. Loof die Here ons God! Aanbid Hom by sy voete, want Hy is heilig! Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel het sy Naam aangeroep. Hulle het die Here om hulp geroep en Hy het hulle gebed verhoor. In ’n wolkkolom het Hy gepraat, en sy bevele en voorskrifte wat Hy gegee het, het hulle gehoorsaam. Here ons God, U het hulle geantwoord. U was vir hulle ’n God wat vergewe, maar ook Een wat hulle oortredings straf. Loof die Here ons God! Dien Hom op sy heilige berg, want die Here ons God is heilig!” NLV

Die boodskap van die Psalm

Psalm 99 roep ons op om God te aanbid. Daar is twee redes daarvoor. Eerstens is God die Heilige Heerser wat oor alles troon. Tweedens is God die een wat gebede beantwoord. Dit pas ons dus om aan die eenkant Hom met ontsag te aanbid. Terselfdertyd nooi Hy ons aan die ander kant uit om soos Moses, Aäron en Samuel met Hom in gesprek te tree oor alles in ons lewe. Hy sal antwoord. Daarop kan ons vertrou. Maar, dit sluit in dat Hy soewerein bly in die tipe antwoord wat Hy gee. Trouens, die Here waarsku vir Jeremia op ’n punt in sy eie worsteling met die Here, dat selfs al was Moses en Samuel in gesprek met Hom oor die situasie van die volk net voor die ballingskap, sou Hy nie van sy plan afwyk nie (Jer. 15:1). God se besluit is soewerein. En ’n nee–antwoord is ook ’n Goddelike antwoord. Laat ons dit nooit vergeet nie. Wat ons ook moet raaksien van dié drie gebedshelde, is dat hulle God se bepalings nagekom het, die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het. Gehoorsaamheid is belangriker as gebedsverhoring. ’n Les wat ons weer ter harte kan neem in ons eie worstelinge met die Here oor allerlei. Let ook op dat die antwoord op hulle gebede ingesluit het dat God hulle vergewe het, en soms ook hulle sondes gestraf het – al drie het dit ervaar: Moses kon nie die Beloofde Land in nie (Num. 16), Aäron ook nie (Num. 12; 16) en Samuel is deur die Here tereggewys oor sy hartseer oor Saul (1 Sam. 16). God se dissipline was dus werksaam in hulle lewe. Die Psalmis gebruik dus dié drie gebedshelde se lewens om ons op te roep om dié God te aanbid, sy leiding in ons lewens te aanvaar, want Hy is heilig!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 98

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 98 toon groot ooreenkomste met Psalm 96. Dieselfde tipe struktuur en grotendeels dieselfde inhoud word gebruik: Al die nasies van die aarde word opgeroep tot lof aan die Here; Dit sluit die skepping in; Die rede daarvoor is dat die Here oor die wêreld kom heers met regverdigheid en billikheid. Daar is egter ook ’n hele paar duidelike verskille. Byvoorbeeld: In die eerste 6 verse is dit God wat oor Homself getuig, eerder as die volk; In die laaste verse kom God se Heerskappy meer na vore, en nie soseer sy Regterskap nie. Die Psalm is ook in twee dele verdeel: 1) Sing tot eer van die God wat wonderdade doen – vers 1–6; 2) Juig voor die Here, want Hy kom om met regverdigheid en billikheid te heers – vers 7–9.

Bid die Psalm

“Sing vir die Here ’n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen. Hy het verlossing bewerk met sy krag en Goddelike mag. Die Here het sy redding aangekondig. Voor die oë van die nasies het Hy sy regverdigheid getoon. Hy het sy liefde en trou teenoor die huis van Israel onthou. Ons God se redding was sigbaar tot aan die uithoeke van die aarde. Laat die hele aarde die Here loof. Breek uit in sang, sing van vreugde! Bring lof aan die Here met die lier, met lier en met sang, met trompette en ramshoring. Juig tot eer van die Here, die Koning. Die see en alles daarin moet druis, die wêreld en almal wat daarin woon. Die riviere moet hande klap, die berge moet jubel voor die Here. Want Hy kom om die aarde te oordeel. Hy sal die wêreld regverdig oordeel, en die volke met billikheid.” NLV

Boodskap en betekenis

God se krag en Goddelike mag staan voorop in dié Psalm. Wat interessant is, is dat Hy ook voorop staan in die bekendmaking van sy oorwinnings en dat Hy sy reddingsdade openbaar maak. Dié reddingsdade is ’n bewys van sy liefde en trou wat Hy telkens aan sy mense bevestig as ’n getuienis aan die hele wêreld. Dit is ’n baie belangrike insig. Getuienis is primêr die werk van God self. Hy is die een wat Homself aan mense openbaar. Ons is altyd sekondêre getuies wat praat oor wat God alreeds besig was om te doen. Daarom is ons getuienis altyd ’n proses van aansluit by wat God alreeds gedoen het of besig is om te doen. Dit beteken natuurlik dat lofprysing ook getuienis is. Dit beteken verder dat ons primêre taak eintlik is om bewus te word van wat God doen, Hom daarvoor te loof, en daarby aan te sluit deur ander daarvan te vertel. Lofprysing moet dus met oorgawe gedoen word, met die begeleiding van die lier, met sang, en met die blaas van trompette en die ramshoring (die shophar – gebruik as aankondiging van God se teenwoordigheid – vgl. Eks 19:16). Kortom, enige instrument wat ons kan help om die Here te loof. By hierdie lofprysing moet die stemme van die hele skepping gevoeg word om die Here te loof en prys, om saam voor die Here te juig, Hoekom? Want, Hy is op pad om sy heerskappy te vestig sodat daar regverdigheid en billikheid op aarde sal wees vir almal.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar