Psalm 102:1-12
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Psalm 102 is ’n roerende klaaglied van iemand wat magteloos en kragteloos voel, waarskynlik saam met sy mense in ballingskap, want hy praat oor die puin en die herbou van Jerusalem. In ’n metafories ryk gebed stort hy sy hart uit voor die Here, soos die titel in vers 1 aandui, in die hoop dat God sy lot, die lot van sy mense en dié van hulle nageslag sal verander. ’n Mens kan die treffende gebed van die Psalm in drie dele opdeel (en onthou, dit is altyd ook ’n model vir ons eie gebede!): 1) HULPGEROEP: Ek voel so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn – vers 2–12; 2) BELYDENIS: God luister na die gebed van dié wat alles verloor het – vers 13–23; 3) HOOP: Ons nageslag sal die land bly bewoon – vers 24–29. Ons lees dit in drie dele.
Bid die Psalm
“’n Gebed van iemand wat oorweldig is met probleme en nou voor die Here kla. Here, luister na my gebed! Hoor my smeking om hulp! Moenie van my wegdraai wanneer ek in nood is nie. Luister tog wanneer ek U aanroep en antwoord my tog gou, want my dae verdwyn soos rook, my bene brand soos gloeiende kole. My hart is verdor, verlep soos gras; ek het vergeet hoe om te eet. As gevolg van my versugting is ek net vel en been. Ek is soos ’n uil in die woestyn, soos ’n naguil tussen murasies. Ek lê wakker, soos ’n eensame voël op ’n dak. My vyande beledig my dag na dag. Hulle spot en vloek my. Ek eet as in plaas van kos. My trane meng met wat ek drink weens u gramskap en u toorn. Ja, U het my opgetel en my weggegooi. My lewe is soos ’n skaduwee wat langer word. Ek is verskrompel soos gras.” NLV
Boodskap en betekenis
Die Psalmis wend hom in sy nood tot die Here en skets in dertien uitsonderlike metafore en vergelykings die ellende van sy toestand, beskrywings waarin ons maklik ons eie situasie, of die situasie van mense om ons, kan raak lees. Hy vra dat die Here tog gou sal antwoord, want uiteindelik is ook dié situasie een waaraan God op intieme wyse deel het – “Ja, U het my opgetel en my weggegooi.” In die deel wat kom, blyk dit dat sy eie persoonlike ervaring van ellende verweef is met die lot en pyn van sy mense wat in ballingskap is.
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar