Psalm 105:1-11
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Psalm 105 is ’n besondere beskrywing van God se dade in die verlede wat in dankbare herinnering geroep word om, belangrik, as getuienis aan die nasies te dien. Dieselfde dade van God is immers ook bedoel vir mense wat Hom aanroep uit hulle eie kontekste van verdrukking. Soos die Psalm dit illustreer in die lewe van Israel, Hy gaan in verhouding met mense (met sy verbond), Hy verlos hulle en vestig hulle in ’n leefbare ruimte waar hulle tot hulle reg kan kom. Dit is immers wat Psalm 104 reeds gesê het van wat ’n mens van God se werk in die skepping en geskiedenis van die hele wêreld kan agterkom. God se magtige dade het daarom beslissende betekenis vir die hele aarde, want dié God is bekend daarvoor dat Hy die onmoontlike doen vir dié wat by Hom hulp en beskerming soek, soos bevestig deur die hou van sy beloftes aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob, dít waaroor Psalm 105 dit het. In Psalm 106 hierna word hierdie waarheid juis die basis van die gebed om verlossing uit die ballingskap as afsluiting van die vierde Psalmboek. Ons tref die eerste 15 verse van Psalm 105 ook aan in 1 Kronieke 16 waar dit as ’n keurspel van lofliedere – saam met die hele Psalm 96 en twee verse uit Psalm 106, vers 47-48 – gebruik word in die feesviering met die tuiskoms van die ark in Jerusalem in die tyd van Dawid. Psalm 105 kan in vier breë dele opgedeel word wat eintlik die hele geskiedenis van Israel beskryf. Dit vorm die kernsake waarvoor die Psalmis die geloofsgemeenskap oproep om die Here te loof en Hom aan te roep as ’n getuienis aan die nasies: 1) VERBOND: God se belofte van land en nageslag aan die aartsvaders – vers 1–11; 2) VERDRUKKING: Die trek na en verdrukking van die volk in Egipte – vers 12–23; 3) VERLOSSING: Die verlossing van die volk deur die plae in Egipte – vers 24–36; 4) VESTIGING: Die vestiging van die volk deur die Uittog, woestyntyd en Intog terug in die beloofde land – vers 37–45. Ons lees dit in hierdie vier dele.
Bid die Psalm
“Dank die Here, maak sy Naam bekend! Maak sy dade bekend aan die nasies. Sing vir Hom, sing tot sy eer! Vertel van sy wonderdade aan almal. Roem sy heilige Naam. Wees bly, dienaars van die Here! Vra na die Here en sy krag, hou aan om Hom te soek. Dink aan sy wonderdade, sy tekens en sy regspraak. Kinders van Abraham, sy dienaar, nakomelinge van Jakob, God se uitverkorenes. Hy is die Here ons God. Sy uitsprake is oor die hele aarde. Hy sal sy verbond altyd onthou, die bepalings wat Hy beveel het vir duisend geslagte, die verbond met Abraham gesluit en sy eed aan Isak. Hy het dit aan Jakob bevestig as ’n vaste bepaling, aan Israel as ’n voortdurende verbond: “Ek gee die land Kanaän vir jou as jou eie besitting.”” NLV
Boodskap en betekenis
Let op die entoesiasme waarmee die lofprysing beskryf word: “Dank die Here… Sing vir Hom… Roem sy heilige Naam… Wees bly…”Dit is hoe lofprysing altyd moet wees. Die Here se krag en teenwoordigheid moet voortdurend opgesoek word onder andere deur sy wonders en tekens in herinnering te roep. Die soeke na God se krag herinner my aan Jesus se belofte in Handelinge 1:8 dat ons krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en dat dit ons in staat sal stel om Sy getuies te wees regoor die wêreld. Daarby moet die uitverkore volk onthou, sê die Psalmis, dat dié Here hulle God is. Trouens, wat Hy doen, geld vir die hele aarde. Dié God hou sy verbond altyd in stand in terme van die vervulling van sy beloftes, in Israel se geval, die belofte van land aan die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob.
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar