1 Johannes 5 – Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe
Dit is eintlik só logies wat Johannes se aanpak in hierdie laaste hoofstuk van sy “preek” is. Hy het tot dusvêr uitvoerig uitgebrei oor God se liefde en die wyse waarop dit gestalte kry in ons liefde vir mekaar binne die geloofsgemeenskap. In ’n laaste nadenke daaroor bind hy die liefde vir God en mekaar aan ons geloof in Jesus Christus.
Oor hierdie geloof skryf hy dan uit drie perspektiewe.
Vers 1-6 – Ons is uit God gebore
Dit is omdat ons in Jesus Christus glo dat ’n mens kan weet dat jy uit God gebore is. Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe. Dit is soos die spreekwoordelike leë hand waarmee ons God se gawe in ontvangs neem. Dit is dié geloof wat ons motiveer om nie net almal lief te hê wat soos ons uit God gebore is nie, maar ook God in alles te gehoorsaam, omdat dit binne ’n liefdesverhouding met God nie swaar is om te doen wat Hy vra nie. En dit is hierdie oortuiging van God se keuse vir ons, wat dit moontlik maak om in hierdie lewe oorwinnend, ten spyte van die aanslae van die wêreld wat God nie wil aanvaar nie, te lewe.
Vers 7-12 – Die Heilige Gees getuig in ons lewe oor die betekenis van Jesus Christus se bediening en kruisdood vir ons
Hierdie geloof word bewerk deur die Heilige Gees se getuienis in elke gelowige, in samewerking met die getuienis van die water (Jesus se doop as die begin van sy bediening, waar God Hom met Jesus as sy geliefde Seun geïdentifiseer het – Mark. 1:9-11; Joh. 1:32-34) en die bloed (Jesus se kruisdood – Joh. 19:33-37). Ons moet dit helder verstaan, sê Johannes. Dit is God wat geloof in ons hart werk deur die getuienis van die Heilige Gees op grond van die werk van die Here Jesus Christus. Elkeen wat in Jesus Christus glo, het daarom dié getuienis in hom- of haarself. En die inhoud daarvan is dat die ewige lewe in Jesus Christus vir ons gegee is as geskenk. “Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”
Hierdie perspektief op geloof en die werk van die Heilige Gees is iets wat ons deeglik ter harte moet neem. Dit beteken dat dié getuienis van die Heilige Gees iets dinamies en lewend is, gebaseer op die historiese feite van Jesus se bediening en kruisdood. Die Gees se werk in ons is die persoonlike kant van God se werk, soos Jesus se bediening en kruisdood die publieke kant daarvan was. Dit beteken ook dat die herkenning van die gesag van die Woord ’n dinamiese persoonlike werk van die Heilige Gees is. Dit is iets waarvan Hy ons oortuig.
Om die Bybel as die Woord van God te aanvaar, is nie soseer iets wat deur die kerk van die eeue in besluite vasgelê is nie, maar eerder iets wat ons herken as die werk van God. Kerkvergaderings het die konsensus op grond van die getuienis van die Heilige Gees in die geloofsgemeenskappe oor die wêreld heen verwoord in die wyse waarop hulle die kanon erken het. Die gesag van die Woord is dus afgeleide gesag, gebaseer op die getuienis van die Gees in die harte van God se mense oor Jesus se bediening en betekenis vir ons.
Vers 13-21 – Ons sekerheid oor God gee ons groot vrymoedigheid voor Hom
Hierdie geloof gee daarby ’n helder sekerheid in ons verhouding met God. Ons kan weet dat ons die ewige lewe het, omdat ons in die Seun van God glo. Dit gee ons ook ’n ongelooflike stuk vrymoedigheid teenoor God wanneer ons in gebed voor Hom kom. Ons het die versekering: “Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.” Dit gee ons ook vrymoedigheid om vir medegelowiges te bid dat God hulle vergewe as hulle sonde doen of onreg pleeg (vgl. Jak 5:19-20 waar spesifiek gebid moet word vir mense wat van die waarheid afgedwaal het).
Die enigste uitsondering is die “sonde tot die dood”. Johannes dink hier waarskynlik aan gevalle soos dié waarvan Paulus skryf in 1 Kor. 5:1-5 (growwe onsedelikheid) en 11:30 (swakkes, sieklikes en dié wat sterf) waarin dié gelowiges steeds gered word, al lei hulle sonde of lewenstyl tot hul dood. Let op dat daar nie hier gesê word dat só ’n sonde nie vergewe kan word nie of dat ’n mens nie daarvoor kan bid nie. Johannes sê net dat daar nie ’n verpligting is op ons om sodanige gebed te bid nie.
Johannes praat hier dus nie oor van die ander nog erger sondes nie, wat bv. opsetlik gedoen word om God te tart (vgl. Hebr. 6:4 vv – waar die skrywer praat oor die feit dat iemand wat die gawe van die Heilige Gees en die goeie woord van God leer ken het en nogtans afvallig geword het, nie weer tot bekering sal kom nie), óf om die Heilige Gees te laster (Matt. 12:31 – waar die werk van die Heilige Gees weerstaan word deur daarteen op te staan).
Hy sluit af met die vertroue dat mense wat uit God gebore is in elke geval nie sal aanhou met sonde doen nie. Daarvoor sorg die Seun van God, die ander Een wat uit God gebore is, sodat die duiwel nie ’n houvas op gelowiges kan kry nie. Omdat ons die waarheid ken, die ware God (in die oorspronklike word die woord “Waaragtige” gebruik), kan ons verseker leef van die ewige lewe en onsself beskerm teen die afgode.
View all posts in this series
- Inleiding op die briewe van Johannes - November 17, 2013
- 1 Johannes 1 – Die vleesgeworde Seun van God reinig ons van elke sonde - November 18, 2013
- 1 Johannes 2:1-27 – Leef met en in God se liefde in hierdie wêreld - November 19, 2013
- 1 Johannes 2:28-3:24 – Kinders van God doen wat reg is en het mekaar lief - November 20, 2013
- 1 Johannes 4 – Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle - November 21, 2013
- 1 Johannes 5 – Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe - November 22, 2013
- Geloofsekerheid - June 25, 2017