Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat gebeur ná die dood met mense wat nie in Christus glo nie? – Openbaring 21:1-8

Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan en die see het nie meer bestaan nie. Ek het ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerkom. Die nuwe Jerusalem was soos ’n bruid wat vir haar eggenoot mooigemaak is. Ek het toe ’n kragtige stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God. Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het verbygegaan.” Hy wat op die troon sit, het toe gesê: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut.” En Hy sê verder: “Teken dit aan, want hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar.” Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Iemand wat dors het, sal Ek verniet laat drink uit die fontein met lewegewende water. Die een wat aanhou oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n kind wees. Maar vir die oneerlikes, onbetroubares, korruptes, moordenaars, persone wat seksuele sondes doen, towenaars, afgodsdienaars en al die leuenaars wag die poel wat met vuur en swael brand. Dit is die tweede dood. (NLV)

1. Die nuwe hemel en nuwe aarde bring ‘n totale nuwe en mooigemaakte bestel tot stand. Wat beteken dit vir jou?

2. Die poel wat met vuur en swael brand wag egter vir mense wat nie volhard het daarin om die Here te dien nie. Watter effek het dié deel van die boodskap op jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan om te volhard om die Here te dien, al kos dit jou ook baie opofferings. Jou toekoms is nie net verseker nie, maar dit is totaal nuut en mooigemaak.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Openbaring 21 sowel as my bydrae daaroor: Openbaring 21 – God skep hemel op aarde vir sy volk, die Nuwe Jerusalem.

Wat gebeur ná die dood met mense wat nie in Christus glo nie? – 2 Petrus 2:1-10

Maar daar was ook vals profete onder die volk Israel, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal dwaalleer oor God insmokkel, en selfs draai teen hulle Eienaar wat hulle gekoop het. Hulle hoop om met hulle dwaalleer alles te vernietig, maar só bring hulle ’n skielike vernietiging oor hulleself. Baie mense sal agter hulle aanloop op hulle wilde paaie, en hulle sal veroorsaak dat mense sleg praat van die enigste ware Pad. In hulle gejaag na rykdom sal hulle julle uitbuit met stories wat hulle uit die duim suig. Maar hulle vonnis, waarop God lankal besluit het, wag om uitgevoer te word. Ja, hulle vernietiging wag. Julle weet mos: God het selfs die engele nie gespaar toe hulle gesondig het nie. Hy het hulle na die onderwêreld toe gestuur en hulle in donker tronkselle laat hou vir die oordeel. Hy het ook die wêreld van lank gelede nie gespaar nie, maar slegs vir Noag en sy gesin van sewe bewaar. Noag het gepreek oor hoe mense reg voor God moet lewe en oor hoe Hy regverdig straf. Toe het God die hele wêreld vol goddelose mense met ’n vloed vernietig. Later het Hy die stede Sodom en Gomorra tot as verbrand en hulle totaal vernietig. Hy het hulle ’n voorbeeld gemaak van wat met goddelose mense gaan gebeur. En tog het God vir Lot gered, ’n man wat reg voor God gelewe het. Lot was siek en sat van die wilde leefstyl van mense wat hulle aan geen wette steur nie. ’n Mens kan jou dit indink: Vir iemand wat reg voor God gelewe het, moes dit ’n marteling wees om tussen hulle te bly en dag vir dag soveel van hulle gruweldade te aanskou en aan te hoor. Die Here weet om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ’n verkeerde lewe lei, te straf en vir die oordeelsdag te bêre. Hy gaan veral húlle straf wat toegee aan die vuil begeertes van hulle natuurlike drange en wat geen respek vir gesag het nie. (NLV)

1. Petrus skets ‘n ontstellende prentjie van die vernietigende effek van dwaalleringe op die mensdom. Wat leer die twee verhale van die oordeel oor die engele in die tyd van Noag en die oordeel oor die mense van Sodom en Gomorra in die tyd van Lot jou van God se reaksie op sonde? Hoe beïnvloed dit jou denke oor God? En oor dwaalleringe?

2. Die evangelie van die gedeelte is dat die Here op twee maniere reageer op dwaling. Hy red dié wat naby Hom leef. Hy straf dié wat ‘n verkeerde lewe lei. Watter troos is daarin vir jou? Wat vra dit van jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat God dié red wat naby Hom leef. Wy jouself opnuut toe aan die Here.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 2 Petrus 2 sowel as my bydrae daaroor: 2 Petrus 2 – Wees versigtig vir vals profete en leraars.

Wat gebeur ná die dood met mense wat nie in Christus glo nie? – 2 Tessalonisense 1:3-12

Broers en susters, dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sal sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter! Gevolglik vertel ons self met trots in God se gemeentes hoe julle volhard en glo onder al die vervolging en swaarkry wat julle verduur. God sal die dinge wat julle deurmaak, gebruik om te wys dat Hy regverdig oordeel. Dit sal daarop uitloop dat julle waardig beskou sal word om in God se koningsheerskappy te deel. Dit is hiervoor dat julle ly. God is inderdaad regverdig: Hy sal julle verdrukkers met verdrukking terugbetaal. Hy sal rus gee aan julle wat verdruk word – en ook aan ons. Dit sal gebeur wanneer die Here Jesus met sy magtige engele vanuit die hemel verskyn. In ’n vlammende vuur sal Hy die mense straf wat God nie ken nie; dit is húlle wat hulle nie gesteur het aan die Goeie Nuus van ons Here Jesus nie. Hulle sal met ewige vernietiging gestraf word, weg van die Here se teenwoordigheid en sy heerlike mag af. Op daardie dag kom Hy om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort en om bewonder te word deur almal wat tot geloof gekom het – ook deur julle, want julle het ons getuienis geglo! Met dit in gedagte bid ons altyd vir julle. Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het. Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot volkome uitvoering bring. So sal die Naam van ons Here Jesus verheerlik word deur wat julle doen. En júlle sal deur Hom verheerlik word op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus. (NLV)

1. Hoe help Paulus jou in dié gedeelte om God se regverdigheid in die straf van sy oordeel raak te sien?

2. Watter Goeie Nuus is daar vir jou in hierdie gedeelte?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan aan die Goeie Nuus nie net van God se oordeel nie, maar van die ewige lewe waartoe Hy jou geroep het.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 2 Tessalonisense 1 en my bydrae daaroor: 2 Tessalonisense 1 – God is regverdig en betroubaar.

Wat gebeur ná die dood met mense wat nie in Christus glo nie? – Johannes 3:31-36

Hy wat van bo kom, troon bo almal uit. Hy wat uit die aarde ontspring het, is deel van die aarde en praat as deel van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, troon bo almal uit. Wat Hy gesien en gehoor het, daaroor getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie. Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur verseël dat God regtig God is. Hóm het God gestuur om die woorde van God mee te deel, want God gee Hom sy Gees sonder om dit af te meet. Die Vader het die Seun lief en Hy het Hom gesag oor alles gegee. Wie aanhou glo in die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom. (NLV)

1. Wat leer Jesus jou hier oor die gesag waarmee Hy praat en die volmag wat Hy oor die ewige lewe en die dood het?

2. Watter rol speel geloof en gehoorsaamheid in die ervaring van die ewige lewe? Wat is die lot van dié mense wat aan Jesus ongehoorsaam is en dus nie in Hom bly glo nie?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die feit dat jy die ewige lewe in Jesus het en dat die Gees aan jou gegee is om jou daaraan te herinner.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Johannes 3 lees en my bydrae daaroor: Johannes 2:23–3:36 – As iemand nie van bo-af gebore word nie.

Vraag 37: Wat gebeur ná die dood met mense wat nie in Christus glo nie?

1. Wat gebeur ná die dood met mense wat nie in Christus glo nie?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Hulle sal hulle eie skuld erken en verwyder word van God se teenwoordigheid om regverdig gestraf te word vir altyd. Die wat glo in Jesus Christus sal vir altyd lewe in God se teenwoordigheid. Dié wat aan Hom ongehoorsaam is, sal nooit die ewige lewe ervaar nie. Die ontsettende vonnis van veroordeling sal op die laaste oordeelsdag oor hulle voltrek word.

3. Lees Jesus se verduideliking van die oordeelsdag in Matteus 13:24-30, 36-43. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

Die onkruid word verbrand; die koring word in die skuur bymekaar gemaak

Jesus het ’n ander gelykenis vertel. God se koningsheerskappy is soos ’n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Sy vyand het onkruid tussen die koring gesaai. Die man laat albei toe saamgroei tot oestyd. Met die oestyd maak hy eers die onkruid bymekaar om verbrand te word. Die koring word bymekaar gemaak in sy skuur. Só sal die ongelowiges ná hulle dood hulle eie skuld erken en verwyder word van God se teenwoordigheid om regverdig gestraf te word vir altyd. Dié wat aanhou glo in Jesus, sal vir ewig saam met God lewe.

5. Lees die Heidelbergse Kategismus 11, 52, en 84. Dink na oor die betekenis van die oordeelsdag vir alle mense.

11 Vraag: Is God dan nie ook barmhartig nie?

Antwoord: God is wel barmhartig (a); maar Hy is ook regverdig (b). Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.

(a) Eks 34:6, 7; 20:6. (b) Ps 7:10; Eks 20:5; 23:7; 34:7; Ps 5:5, 6; Nah 1:2, 3.

52 Vraag: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?

Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).

(a) Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16. (b) Matt 25:41; 2 Tess 1:6. (c) Matt 25:34; 2 Tess 1:7.

84 Vraag: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ‘n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.

(a) Joh 20:21-23; Matt 16:19.

Onlangse kommentaar

  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן