Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat is die Heilige Gees? – Matteus 3:7-12

Toe Johannes besef hoeveel Fariseërs en Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, het hy hulle soos volg berispe: “Julle broeisel slange! Wie het julle wysgemaak dat julle God se dreigende oordeel kan vryspring? Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. En moet tog nie julleself mislei nie met die gedagte: ‘Ons is veilig. Ons is mos die nageslag van Abraham.’ Weet verseker, God kan selfs die klippe wat hier rondlê in kinders van Abraham verander. Die byl van God se oordeel lê al teen die bome se wortel, gereed om julle heeltemal uit te kap. God gaan elke boom wat nie gesonde vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi. Ek doop julle wel met water as teken van julle bekering. Maar ná my kom daar Iemand wat baie belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers goed genoeg is om soos ’n slaaf sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy oesvurk is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak. Hy sal sy koring in sy skuur bymekaarmaak, maar die kaf sal Hy in die vuur verbrand wat nooit geblus sal word nie. (NLV)

1. Johannes die Doper praat in dieselfde asem van die doop met die Heilige Gees en met vuur. Wat dink jy bedoel hy?

2. Die Heilige Gees is die Reinigende Vuur van God wat nie net nou gelowiges skoonmaak nie, maar uiteindelik ongelowiges in die ewige vuur sal verbrand. Hoe ervaar jy sy reinigende werk in jou lewe?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die reinigende werk van die Heilige Gees in jou lewe en wy jou opnuut toe aan Hom.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Matteus 3 en my bydrae daaroor: Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur.

Wat is die Heilige Gees? – Johannes 16:5-15

Nou is Ek op pad terug na Hom toe wat My gestuur het; tog vra niemand van julle vir My: ‘Waarheen gaan U?’ nie. Omdat Ek dit egter vir julle gesê het, het hartseer julle harte oorweldig. Laat Ek julle egter die waarheid vertel: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Raadgewer, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek die Raadgewer na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sy sonde, van God se regverdige oordeel, en dat die oordeel hier is. Van sonde, omdat die wêreld nie in My glo nie; van God se regverdige oordeel, omdat Ek teruggaan na die Vader toe en julle My nie meer sien nie; van veroordeling, omdat die regeerder van hierdie wêreld reeds veroordeel is. Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal meedeel. Alles waaroor die Vader beskik, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: “Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle meedeel.” (NLV)

1. Die Heilige Gees word hier die Raadgewer (ander vertalings het Trooster) en Waarheid genoem. Hoe beoefen die Heilige Gees hierdie funksies of rolle in die lewe?

2. Die Heilige Gees gee nie raad of begeleiding uit sy eie nie. Wat bedoel Jesus as Hy sê dat die Gees net sê wat Hy hoor? Hoe werk dit?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die feit dat die Heilige Gees jou Raadgewer en Begeleier is.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Johannes 16 lees en my bydrae daaroor: Johannes 16:1-33 – Die Heilige Gees is ons inspirasie.

Vraag 38: Wat is die Heilige Gees?

1. Wie en wat is die Heilige Gees?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag van God. Hy is saam met die Vader en die Seun ware en ewige God.Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy is ook aan my gegee sodat Hy my deur ’n ware geloof deel kan laat kry aan Christus en al sy weldade, my kan troos en ewig by my bly.

3. Lees Lukas se verduideliking van wat met Pinksterdag gebeur het in Handelinge 2:1-21. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

Die Heilige Gees word uitgestort op al die gelowiges

Op Pinksterdag was al die gelowiges saam. Skielik was daar ’n geluid van ’n geweldige stormwind. Dit het die hele huis gevul. Tonge soos vuurvlamme het op elkeen van hulle gaan sit. Almal is met die Heilige Gees vervul. Soos die Gees hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat. Die ander Jode was heeltemal uit die veld geslaan. Petrus verduidelik toe vir hulle dat God se Gees uitgestort is soos die profeet Joël voorspel het. Elke mens – seuns en dogters, jongmense en oumense, mans en vroue – wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.

5. Lees die Geloofsbelydenis van Nicea 8, die Nederlandse Geloofsbelydenis 11, en die Heidelbergse Kategismus 53. Dink na oor die betekenis van die Heilige Gees.

Geloofsbelydenis van Nicea 8

Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek.

Nederlandse Geloofsbelydenis 11

DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES

Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon in die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.

Gen 1:1; Heb. 1:3; 11:3; Joh. 1:3; Ps. 33:6; Jer 32:17; Mal. 2:10; Joh. 1:3; 16:26; Ps. 104; Amos 4:13; Joh. 14:16, 26.

Heidelbergse Kategismus 53

53 Vraag: Wat glo jy van die Heilige Gees?

Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God (a). Ten tweede is Hy ook aan my gegee (b) sodat Hy my deur ‘n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, (c) my troos (d) en ewig by my bly (e).

(a) 1 Joh 5:7; Gen 1:2; Jes 48:16;1 Kor 3:16; 6:19; Hand 5:3, 4. (b) Gal 4:6; Matt 28:19, 20; 2 Kor 1:22 ; Ef 1:13. (c) Gal 3:14;1 Pet 1:2;1 Kor 6:17. (d) Joh 15:26; Hand 9:31. (e) Joh 14:16;1 Pet 4:14.

Die gelykenis van die onkruid in die land – Matteus 13

Jesus is hier besig om sy derde toespraak in Matteus af te sluit met die koninkryksrede.  Hy gebruik agt gelykenisse om te fokus op die koninkryk en veral op die wyse waarop mense op die evangelie van die koninkryk gaan reageer. 

Twee van dié gelykenisse is baie prominent.  Die gelykenis van die Saaier en die gelykenis van die onkruid tussen die koring

En laasgenoemde gelykenis handel spesifiek oor die vraag na die onderskeid tussen die ware en die valse kerk, soos dit ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis van Guido de Bres, artikel 29, een van ons kerk se geloofsbelydenisse, beskryf word.

Continue reading

Wat gebeur ná die dood met mense wat nie in Christus glo nie? – Die belydenisskrifte

1. Lees die Geloofsbelydenis van Athanasius 41-44, die Nederlandse Geloofsbelydenis 37, die Heidelbergse Kategismus 11, 52, en 84, en die Westminster Geloofsbelydenis 33. Wat leer jy oor die betekenis van die oordeelsdag vir alle mense? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.