Skip to main content

Tag: Wie is God?

Moet jy nog goeie werke doen en God se Woord gehoorsaam? – 2 Tessalonisense 2:13-17

Maar, broers en susters, geliefdes van die Here, dit pas ons om God altyd oor julle te dank. God het julle immers gekies om as eerstes verlos te word. Hy verlos julle deur die Gees wat julle aan Hom toewy en deur geloof in die waarheid. Deur die Goeie Nuus wat ons verkondig, het God julle hiertoe geroep sodat julle die heerlikheid van ons Here Jesus Christus kan verkry. Met dit in gedagte, broers en susters, staan vas! Hou by al die oorgelewerde geloofswaarhede wat julle geleer het, of dit nou deur ons woorde of briewe was. Verder, mag ons Here Jesus Christus en God ons Vader – Hý wat ons liefgehad het en wat ons deur sy genade ’n ewige troos en ’n goeie vooruitsig gegee het – mag Hy self julle harte vertroos en julle sterk maak in elke goeie daad en woord. (NLV)

1. Wat leer Paulus jou hier van hoe God se werk en dié van gelowiges saamwerk om hulle standvastig te maak?

2. Hoekom is die oorgelewerde geloofswaarhede wat Paulus aan hulle geleer het, so belangrik? Hoe kan ons dit vandag nog handhaaf?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat God self jou troos en sterk maak in elke goeie daad en woord.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 2 Tessalonisense 2 sowel as my bydrae daaroor: 2 Tessalonisense 2:13-17 – God sterk ons in die goeie.

Moet jy nog goeie werke doen en God se Woord gehoorsaam? – 1 Petrus 2:11-12

Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra. (NLV)

1. Goeie werke is nie net belangrik ter wille van jou getuienis teenoor God in die oordeelsdag nie (Romeine 2), maar net so belangrik as getuienis teenoor nie-Christene (1 Petrus 2). Hoekom is dit só belangrik?

2. Wat bedoel Petrus as hy waarsku teen jou natuurlike neigings? Hoekom verwoes dit ‘n mens se lewe?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat God rekenskap van almal sal vra en dat jou voorbeeldige lewe ‘n verskil vir jou en vir ander kan maak.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 1 Petrus 2 en my bydrae daaroor: 1 Petrus 2 – Groei geestelik deur Jesus Christus se voorbeeld te volg.

Moet jy nog goeie werke doen en God se Woord gehoorsaam? – Romeine 2:2-11

Ons weet tog dat God ’n suiwer oordeel sal vel oor enigiemand wat met sulke praktyke besig is. Dink jy dan – jy wat ander veroordeel wat hierdie dinge doen, en tog ook self daarmee besig is – dat jy God se oordeel sal vryspring? God is so oorvloedig in sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld teenoor jou. Minag jy dit werklikwaar? Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie? Maar nee, omdat jy so verhard is en in jou hart weier om tot inkeer te kom, is jy besig om vir jou ’n verskriklike oordeel op die oordeelsdag op te bou – daardie dag wanneer God, die regverdige regter, almal sal oordeel volgens wat hulle gedoen het. Aan dié wat met volharding aanhou om goed te doen, en op hierdie manier streef na die toekomstige heerlikheid, eer en onsterflikheid wat Hy vir hulle weggebêre het, sal Hy die ewige lewe gee. Maar dié wat hardkoppig weier om die waarheid te gehoorsaam en toegee aan die ongeregtigheid, sal Hy in sy woede straf. Daar wag swaarkry en benoudheid vir elke mens wat aanhou kwaad doen. Maar daar wag heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat aan hou met goeddoen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie. (NLV)

1. Paulus verwys hier nie net na diegene wat die sondige praktyke van Romeine 1 doen en goedkeur nie. Sy argument is dat alle mense sondig is en voor die regterstoel van God sal verskyn. God sal almal oordeel volgens wat hulle gedoen het. Hoe laat hierdie oordeel jou voel?

2. Dit is duidelik dat dit net mense is wat tot inkeer kom wat by die oordeel die ewige lewe sal beërwe. Hoekom is goeie werke dan nog so belangrik?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die feit dat God jou hart verander het om te volhard in goeie werke.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Romeine 2 lees en my bydrae daaroor: Romeine 2 – Die innerlike lewe lei na goeddoen eerder as die wetsvoorskrifte.

Vraag 35: Moet jy nog goeie werke doen en God se Woord gehoorsaam?

1. Moet jy nog goeie werke doen en God se Woord gehoorsaam?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

 Ja, só wys ek vir almal dat God goed is. Hy maak my sterk in elke goeie woord en daad. Jesus Christus vernuwe my deur sy Heilige Gees om in liefde en dankbaarheid teenoor God te lewe sodat ek sekerheid kan kry deur die vrug van gehoorsaamheid in my lewe en om deur my goeie werke ander te wen vir Christus.

3. Lees Jesus se verduideliking waarom goeie werke nog steeds noodsaaklik is in Matteus 5:13-20. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

Julle is die sout van die aarde wat die aarde ’n beter plek moet maak

Jesus sê ons is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Ons is die lig wat die wêreld moet verlig. Ons voorbeeldige lewe moet soos ’n helder lig uitstraal. Dan sal die mense dit sien en ons hemelse Vader daarvoor prys! Jesus het nie gekom om ’n streep deur die wet te trek nie. Hy het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. Al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is.

5. Lees die Heidelbergse Kategismus 86-87,91. Dink na oor die betekenis en rol wat goeie werke speel.

86 Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?

Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d).

(a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).

(a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14.

91 Vraag: Wat is goeie werke?

Antwoord: Slegs die wat uit ‘n ware geloof (a), volgens die Wet van God (b), tot sy eer gedoen word (c), en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie (d).

(a) Rom 14:23. (b) Lev 18:4; 1 Sam 15:22; Ef 2:10. (c) 1 Kor 10:31. (d) Eseg 20:18, 19; Jes 29:13; Matt 15:7-9.

Laat jou gedrag deur die Gees bepaal word – Galasiërs 5:13-26

13 Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik sodat dit aanleiding gee vir ons sondige aard nie, maar dien mekaar deur liefde. 14 Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15 As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle mekaar nie verteer nie!  16 Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van ons sondige aard uitvoer nie, 17 want ons sondige aard begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen ons sondige aard; die twee opponeer mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle ook al wil nie. 18 As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die toesig van die wet nie.  19 Die praktyke van ons sondige aard is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, orgies en hierdie soort dinge —waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.  22 Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23 sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.  24 Almal wat aan Christus Jesus behoort, het ons sondige aard saam met sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Aangesien ons deur die Gees leef, moet ons ook volgens die Gees optree. 26 Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.  (BDV)

Die evangelie van genade

In die eerste deel van hoofstuk vyf beklemtoon Paulus dit dat die evangelie wat hy verkondig, die evangelie van genade is wat deur die Gees in hulle lewens aan die gang gesit is, ‘n genade wat hulle leer om hulle geloof deur die liefde in dade om te sit.  Hulle is vry om God te dien.  Sola gratia.

Paulus maak daarom ’n dringende appèl op hulle om nie hulle band met hierdie genade van de Here Jesus Christus te verloor deur die dwaasheid van die Joodse wetsdrywers nie.  En hy maak aanspraak op die persoonlike band wat hom met hulle verbind.  Om die waarheid te sê, hy vertrou dat hulle vas sal bly staan in wat hy hulle geleer het, en hoop dat die dwaalleraars liewer hulleself ernstig sal beseer …

Paulus gaan so ver as om te sê dat jy die genade van God verbeur as jy jou besny.  Jy verloor jou vryheid.  Want, dan moet jy die hele wet nakom.  Jy kan nie selektief wees en net een of twee goed kies wat jou pas om na te kom nie.  Daarom dat hy sê dat in die evangelie van genade: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Gal. 5:6).

Ons geloof in Christus moet deur die liefde in dade omgesit word

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.