Skip to main content

Tag: Psalms

Psalm 119:1-8 – ALEF: God begelei en inspireer ons deur sy wet en getuienisse

Psalm119-alefSes van die woorde wat as sinonieme vir die wet funksioneer, word in hierdie eerste deel van die besondere Psalm 119 aangetref: woord/wet (torâh – 119:1 – “law”), verordeninge/bepalings (‘edût – 119:2 – “rules” of “testimonies”) – ek verkies eintlik die woord getuienisse as vertaling hier, soos dit in die OAV was, bevele/opdragte (piqqûdîm – 119:4 – “precepts”), voorskrifte (huqqîm – 119:5 – “statutes”), gebooie/bevele (mizwôt – 119:6 – “commandments”), bepalings/regverdige beslissings (mishpâtîm – 119:7 – “judgments”).

Die eerste gedeelte plaas dus onomwonde God se hele openbaring op die tafel.  God gee nie net sy wet met sy bepalings, bevele, opdragte en voorskrifte nie, die begeleidende kant van sy openbaring nie. Nee, Hy gee ook getuienisse van wat werk vir dié: “wat Hom met hulle hele hart soek.”  Hy gee ook regverdige beslissings wat bestudeer kan word, voorbeelde wat inspireer, sodat ‘n mens nie net gemotiveer word om Hom met ‘n opregte hart te loof nie, maar ook geïnspireer word om hulle na te kom … terwyl ‘n mens tog steeds ook bid: “moet my tog nooit in die steek laat nie”!

Watter wonderlike manier om dié Psalm te begin.  Dit is inderdaad die onfeilbare roete wat lei na geluk: “Hoe gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg.”  Dit is juis wanneer ‘n mens doen wat God vir ons almal wys deur sy openbaring dat ons gelukkig kan wees.

Soos Jesus veel later sy “wet van die koninkryk” in die Bergrede sou aankondig: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.Matt. 5:3).  Hy spreek ook die duiwel se versoeking in die eerste plek aan met die stellige vertroue op God se Woord: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Matt. 4:4 – aangehaal uit Deut. 8:3).

Dit beteken egter nie dat alles daarmee sonder enige probleme in die lewe gebeur nie.  Die Psalmis is in die res van die Psalm maar net te bewus van die teenstand en teëspoed wat ‘n mens op dié pad kan tref:

doodsgevaar – 119:25; kommer – 119:28; teleurstelling – 1119:31; nutteloosheid – 119:37; venyn – 119:39; vals beskuldigings – 119:42,78; onwaarhede – 119:43; ellende – 119:50,92,153; felle spot – 119:51; ontsteltenis – 119:53; strikke – 119:61,110; swaarkry – 119:67,71,75,107 – trouens, dit is ‘n “teken van u trou” – vernedering bring verandering, al is dit ook hoe moeilik om te aanvaar!; beswaddering – 119:69; oudword – 119:83; listige vervolging ook deur maghebbers – 119:84,86,150,157,161; vernietiging – 119:95; vyande – 119:98; gevaar – 119:109; huigelary – 119:113; ongenadigheid – 119:121; wetsoortreders – 119:126; kwaad wat dreig om die oorhand te kry – 119:133; trane en ontsteltenis oor wetsoortreders – 119:136,139; angs en benoudheid – 119:143; regsake teen hom – 119:154; teëstanders – 119:157; verraad van ontroues – 119:158; leuens – 119:163.  Dit is nogal ‘n mondvol!

Maar, waar ‘n mens die Here met jou hele hart soek (119:2), nie onreg doen nie (119:3), sy opdragte noukeurig nakom (119:4), dán is dit wat jou lewenspaaie standvastig raak, iets waarna die Psalmis verlang (119:5).  Uiteindelik sal Hy aan die einde van die Psalm bely dat sy hele lewe oop lê voor God (119:168) en dat Hy afhanklik is van die insig wat God bring om inderdaad te kan lewe op só ‘n manier dat sy lewe die Here kan loof (119:175).  Daarin sal God se openbaring sy grootste en belangrikste ondersteuning wees.

En selfs as hy sou wegdwaal, vra hy van die Here aan die einde van die Psalm: “As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie.”  (119:176).  Laat ‘n mens dink aan Jesus wat dié behoefte van die Psalmis in sy gelykenisse oor die verlore penning, skaap en seun ingewerk het in Lukas 15, nie waar nie!

Psalm 119 – Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here

Psalm119-alefPsalm 119 is ‘n letterkundige juweel.  In ‘n verstommende akrostiese kragtoer begin elke opeenvolgende groep van agt verse elke keer met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse konsonante alfabet. Dit gee 22 kleiner eenhede – hier aangedui met die Hebreeuse konsonante: ALEF, BET, GIMEL ens. – wat elkeen die wonder van God se woord aan sy mense beskrywe en besing.  Ons gaan dit daarom ook oor 22 dae lees om reg te laat geskied aan elke eenheid.

Hierdie uitnemende Psalm besing die openbaring van God in sy wet soos vers 1 dit aandui.  Daarmee word egter nie net die wet as sodanig verheerlik nie, maar alles wat God van Homself aan die mensdom openbaar het.  Daarvan getuig die agt woorde wat Ps. 119 gebruik vir God se openbaring wat eintlik as sinonieme vir mekaar optree.  Ek gee dit weer met die keuse van die NAV en BDV vertaling (met die Hebreeuse woord en ‘n Engelse vertaling daarvan in hakies):

  • woord/wet (torâh – 119:1,29 – “law”),
  • verordeninge/bepalings (‘edût – 119:2,14,22,24,31 – “rules” of “testimonies”) – ek verkies eintlik die woord getuienisse as vertaling hier, soos dit in die OAV was.
  • bevele/opdragte (piqqûdîm – 119:4,15,27 – “precepts”),
  • voorskrifte (huqqîm – 119:5,12,8,16,23,26 – “statutes”),
  • gebooie/bevele (mizwôt – 119:6,10,18,21,32 – “commandments”),
  • bepalings/regverdige beslissings (mishpâtîm – 119:7,13,30 – “judgments”),
  • woord (dâbâr – 119:9,16,17,25,28 (BDV het belofte) – “word”),
  • beloftes/woord (‘imrâh – 119:11 – “utterance”).

Hiermee bevestig die Psalmis wat alreeds in Psalm 1 gesê is: God se woord is die sentrum van die lewe, dié ding wat jou nie net soos ‘n boom geplant langs watervore maak en laat gedy nie, maar sorg dat jy die pad (dêrêg – ‘n woord wat ook gereeld in Psalm 119 voorkom!) van die regverdiges kan bewandel.

God se woord bring GELUK: Dit is God se openbaring wat geluk bring as ‘n mens met jou hele hart daarna soek (119:2), onberispelik daarvolgens lewe (119:1) en: “net sy paaie” volg (119:3).  Dan is God se woorde: “strelender as heuning vir my mond” (119:103) en regtig beter as enige voordeel wat rykdom ‘n mens kan bring (119:14).

God se woord geld vir ALMAL: God se openbaring geld vir oud (119:83 – “Ek het verskrompel soos ‘n velsak in die rook, maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie.” – NAV) en vir jonk (119:9 – “Hoe sal ‘n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woorde.”).  Immers: “U het self u opdragte gegee, sodat mense dit noukeurig kan nakom.” (119:4).  Daarom kan die Psalmis sê: “Ek is ‘n vriend van almal wat vir U ontsag het en u opdragte nakom.” (119:63).  Trouens, hy verlang daarna dat daar ‘n gemeenskap van getroue volgelinge van God se openbaring sal wees: “Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken.” (119:79).

God se woord is  DIÉ LEWENSREËL om na te volg: God se openbaring moet reg deur ‘n mens se lewe nagevolg word, sodat dit jou lewensreël word: “Ek het u wet onderhou … Dit was vir my ‘n gewoonte, ja, u opdragte het ek nagekom.” (119:55-56).  Hierdie gewoonte word gekweek deur ‘n verskeidenheid van dinge: die insig wat God self gee (119:18 – vgl. Paulus wat ‘n soortgelyke gebed bid in Ef. 3:14-21), sy voortdurende begeleiding (die hele 5de deel druk dit uit, HE – 119:33-40), eie studie (119:7), nadenke met die verstand (119:15), koestering met die hart (119:11), gebed (119:27), oorpeinsing (119:148), en volhardende keuses aan die hand van God se openbaring (119:39: “Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë.”). “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.” (119:105).

Ek het 22 skyfies van ‘n seleksie van verse uit elkeen van die 22 dele van dié Psalm gemaak wat jy kan gebruik om jou ‘n oorsig te gee van die omvattende betekenis van dié Psalm:

[widgetkit id=7155]

Psalm 118 – Aan sy liefde is daar geen einde nie

Psalm118Ons kom aan die einde van die tweede reeks Psalms – 110-118 – in die vyfde Psalmboek wat die geloofsgemeenskap gehelp het om te fokus op God se beloftes.  Dit is beloftes soos:

  • die vestiging van sy Messiaanse koninkryk waarvoor God instaan (Ps. 110);
  • dat God se werk groots en betroubaar is vir sy mense (Ps. 111);
  • dat ontsag vir God se gebooie vreugde bring en dat vertroue op Hom die vrees vir slegte tyding verdryf (Ps. 112);
  • dat die lewe betekenisvol raak wanneer die Here geprys word van waar die son opkom tot waar dit ondergaan (Ps. 113);
  • dat hulle jubeling oor die Uittog uit Egipte vir hulle ‘n model gee om nie net te dink aan die nuwe Uittog uit Babel nie, maar ook aan God se belofte van redding uit elke vasgevalde situasie waar hulle hulle mag bevind (Ps. 114);
  • dat hulle mag weet dat God sy eer daarin stel om hulle vertroue op Hom en sy beloftes te beantwoord (Ps. 115);
  • dat hulle die Here mag liefhê, want Hy verhoor hulle smeekgebede (Ps. 116);
  • dat hulle mag weet en vertrou daarop dat God oneindig betroubaar is in sy onmeetlike liefde vir hulle (Ps. 117).

Dít is die pakket van beloftes wat hulle met hulle mag saamdra op hulle lewenspad.

Hierby kom Psalm 118 nou om dié inleidende fokus op God se beloftes af te rond met die gedagte dat daar aan God se liefde geen einde is nie, soos Hy dit oor en oor in die geskiedenis bewys het.  Daarvan moet Israel getuig.  Daarvoor moet Israel God loof.

Continue reading

Psalm 117 – God is oneindig betroubaar in sy onmeetlike liefde vir ons

Psalm117Hierdie Psalm het twee besondere dinge wat dit laat uitstaan.  Dit is die kortste Psalm, trouens die kortste hoofstuk in die Bybel.  Dit is ook die middelste hoofstuk in die Protestantse Bybel.  Daar is 594 hoofstukke daarvoor en 594 hoofstukke daarna, in totaal 1189 hoofstukke met Psalm 117 ingesluit.

Die Psalm is eintlik net een lang sin.  Dit roep alle nasies saam met die Godsvolk op om God te prys en wel om twee redes.

Continue reading

Psalm 116 – Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede

Psalm116‘n Mens kan die Psalm in twee dele indeel op grond van die belangrike klem van die liefde vir God in vers 1-8 en die verdere klem op sy geloof in God wat tot verlossing gelei het en waarvoor hy die Here dank in die geloofsgemeenskap: vers 9-19.  Die Psalm is ook verder belangrik weens die belangrike wyse waarop die Psalmis se getuienis fokus op God as die Verlosser en nie op homself as die verloste nie.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן