Skip to main content

Tag: Psalms

Psalm 119:81-88 – KAF – Op u woord wag ek sodat ek dit kan nakom

Psalm119-kafDie elfde deel van die Psalm fokus op die dilemma van gelowiges wat in ‘n situasie van vervolging wag op ‘n woord van die Here of die vervulling daarvan.  Hy beskryf die inhoud van die verlange op verskillende wyses: ‘n woord van verlossing (119:81), ‘n woord van troos (119:82), ‘n woord van regstelling (119:84), ‘n woord van hulp (119:86 –“Help my!”), en ‘n woord van lewe (119:88).

‘n Mens kan sy verlange met een woord opsom: “Wanneer?!” Sy hele wese smag na die verlossende en vertroostende woord van die Here.  “Hoeveel dae moet u dienskneg nog wag?”  (BDV).  Hy druk sy stryd uit met die ongelooflike sprekende metafoor van ‘n velsak in die rook.  Dit het verskrompel van die lang blootstelling aan rook.  Dit kan selfs wees dat hy hier eintlik van ‘n skoorsteen van dierevel praat wat amper onbruikbaar begin raak van al die blootstelling aan die rook en hitte van die vuur.

Tóg het hy die voorskrifte van die Here nie vergeet nie.  Tóg het hy die Here se opdragte nie verontagsaam nie.  Daarom het hy die vrymoedigheid om met verwagting die Here te smeek om uitkoms, want dit is uiteindelik al wat hy met sy lewe wil doen: om die getuienisse (‘edût­ onderwysing in NAV; bepalings in BDV) uit God se mond na te kom.

Let op hoe sy verwagting en verlange na verlossing nie soseer gemik is op die een of ander voordeel wat hyself daaruit sal put nie, maar om in staat gestel te word om al meer te kan beantwoord aan sy lewensdoel, om absoluut nougeset te doen wat die Here hom wys.

Dit is na alles wat Psalm 119 in hoofsaak sê die doel van die lewe is: “Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here.”  En ek kan nie anders as om te dink aan Jesus wat hierdie ongelooflike ding gesê het van sy eie lewensbegeerte: “Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.” (Joh. 5:19 – lees meer in my bydrae: Johannes 4:43–5:47 – Lewe kom deur vertroue op God en ’n gehoorsame luister na sy woorde).

Hierdie gedeelte van die Psalm laat my diep dink oor my eie gehegtheid aan die woord van die Here.  Nie net om my gedrag daardeur te laat bepaal in die algemeen nie (bv. die dubbele liefdesgebod, en die vrug van die Gees), maar om baie meer te fokus op die daaglikse woorde van die Here in my stiltetyd, en dit met alles in my na te kom.

Psalm 119:73-80 – JOD – U hande het my gemaak en aan my ‘n plek gegee

Psalm119-jodDie tiende deel van die Psalm is ryk aan betekenis.  Om die waarheid te sê, daar is verskillende vertalings moontlik by ‘n hele paar woorde wat verskillende dimensies van die betekenis van die Psalm na vore bring.

Die eerste interessante veelvlakkige betekenis is in vers 73 waar die Psalmis sê: “Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm.” (NAV – “toeberei” in OAV).  Die laaste woord (kûn in Hebreeus) kan egter ook vertaal word in die betekenis van: “aan my ‘n plek gee” (BDV) of in die sin van “vestig” of “bevestig” (“establish” – LEB).  Dit beteken dat die eerste deel van dié vers God se skeppende werk in ons geboorte bevestig, sowel as sy voortgaande werk in terme van ons “vorming”, “bevestiging” en selfs die “plek” wat Hy vir ons in die lewe gee.

Maar, dit is nie al nie.  Ná dié belydenis van God se skeppende en vormende werk in sy lewe, bid die Psalmis dan in die tweede plek: “maak my verstandig, dat ek u bevele kan leer.” (BDV).  Hy wil as’t ware voltooi word, meer insig in God se wil bekom, sodat sy lewe op alle vlakke aan God se visie vir hom kan beantwoord.  Soos die NAV vertaal: “Gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan.”  En soos Peterson dit effens anders vertaal: “now breathe your wisdom over me so I can understand you.” (The Message).

God se kreatiewe werk in ons word dus voortgesit deur ‘n al hoe beter begrip en bemeestering van sy wil, soos uitgedruk in sy bevele (mizwôt – “commandments”).  En die effek daarvan is nie net ‘n al hoe meer volwasse moreel-etiese persoonlike lewe vir die Psalmis nie, maar ook ‘n publieke getuienis aan die geloofsgemeenskap: “Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek.” (BDV).

Elkeen wat die Here dien, kan moed skep uit die feit dat ook die Psalmis se insig deur God self gevorm word, dat dit sigbaar is, en dat dit van groei getuig.  Die sigbare groei steek die hoop by hulle aan dat dit ook vir hulle waar kan wees.  Soos Paulus veel later vir Timoteus sou sê: “Lê jou toe op hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vordering vir almal duidelik kan wees … Want sodoende sal jy jouself red en ook hulle wat na jou luister.” (1 Tim. 4:15-16).

Die getuieniskrag van sy lewe laat die Psalmis dus anders kyk na die Here se beslissings.  Dit hou vier aspekte in:

  1. Hy erken God se beslissings omdat dit sy getuienis vorm. Hy weet God is regverdig, en as daar vir hom vernedering langs die pad is, gebeur dit nie buite-om God se getrouheid nie.  Om die waarheid te sê, swaarkry is deel van God se getrouheid.  Nie net bewaar Hy ons daarin nie – of dit nou weens ons eie skuld of die skuld van ander is.  God gebruik dit as deel van ons getuienis aan die geloofsgemeenskap wat ander laat moed skep om hulle eie pad na volwassenheid met die Here te loop.  Dié erkenning is lewensnoodsaaklik vir groei in jou lewe.
  2. Hy bid vir konkrete bewyse van God se troue liefde. Hy bid dat die troue liefde van die Here steeds vir hom tot ‘n troos sal wees, in antwoord op die beloftes van die Here in dié verband. Trouens hy wil God se ontferming konkreet in sy lewe ervaar, sodat sy vreugde in die wet geëggo kan word in sy lewensvreugde, veral omdat die vermeteles en hovaardiges hom veronreg met leuens terwyl hy probeer om sy lewe in te rig volgens sy verdieping in God se woorde.  Ons mag dus hiervoor vra.
  3. Hy bid ook dat die Here vir hom mense sal gee om hom te ondersteun.Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken.”  Die geloofsgemeenskap is van onskatbare waarde in ‘n volhardende geestelike lewe.
  4. Hy bid dat die Here self in sy lewe, veral sy hart, sal werk. Dit is die belangrikste van alles.  Hy bid dat die Here self sal keer dat hy beskaam word in sy lojaliteit aan God: “Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou.

Inderdaad – my gebed ook vir myself vir hierdie dag.

Psalm 119:65-72 – TET – U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte

Psalm119-tetDie negende deel van dié Psalm fokus op God se goedheid (tôv).  Nie net IS God goed nie, maar DOEN Hy goed.  En dit is van dié God wat die Psalmis onderrig wil ontvang, omdat God se woorde, bevele, voorskrifte, opdragte, wet, en onderrig soortgelyk goed sal wees – weereens ses van die agt woorde vir God se openbaring in die Psalm.  Na alles, dit is dinge wat van God self af kom: “Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.

Die Psalmis fokus op twee funksies van God se onderrig.  Die een is te vinde in God se woorde, die ander in ervarings in die lewe wat deur God gebruik word.

Aan die een kant prys hy die Here vir die positiewe funksie van God se “goeie woorde”.  Dit leer hom onderskei wat die pad van die Here is, en wat nie.  Die frase in vers 66: “Goeie oordeel” (BDV) of: “goeie insig” (NAV) vertaal die letterlike Hebreeuse frase: “goeie smaak” wat hier figuurlik gebruik word in ‘n moreel-etiese sin.  In Engels word dit weergegee as “proper discernment” (NET Bible) of “good judgement” (NIV).  Dit is wat God se woord hom leer, om goeie moreel-etiese besluite te kan neem.

Maar daar is aan die ander kant ook ‘n tweede funksie van God se onderrig in sy lewe, ‘n negatiewe dissiplinêre funksie wat in ervarings van: “vernedering, swaarkry of verdrukking” geleer word.  Die Palmis gebruik die Hebreeuse woord ânâh (119:67,71) om sy ervaring te beskryf.  Dié woord kan op verskillende wyses vertaal word, soos ‘n vergelyking in net ‘n paar van die Afrikaanse vertalings wys: “verdruk” (OAV), “swaarkry” (NAV), en “verneder” (BDV).  In Engels word dit gewoonlik vertaal met: “afflicted” (NET Bible, NIV, KJV), asook ‘n keer of wat met “humbled” (NRSV) wat ooreenkom met die BDV.

Wat die negatiewe ervaring presies in die Psalmis se geval beteken het, word nie uitgespel nie.  Dit is egter duidelik dat die ervaring van vernedering, swaarkry of verdrukking hom van sy dwaalweë teruggebring het om God se woorde en beloftes na waarde te skat.  Hy kan daarom sê: “Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer.”  Die pynlike situasie waaraan hy blootgestel is, het dus die funksie van ‘n dissiplinêre aksie in sy lewe gehad.  Hy kon daaruit leer, en tot inkeer kom.

Dit laat ‘n mens besef dat elke woord uit God se mond belangrik is in ons onderskeiding van wat goed is en wat nie.  Netso is elke ervaring waaraan ons blootgestel is belangrik om in die praktyk van die lewe te leer hoe ons die pad met God moet loop.  En dit lyk asof dit veral die negatiewe en swaarkry ervarings is wat die Here in ons lewe gebruik.

Wat ons motiveer en inspireer op dié pad is die feit dat God goed is en goed doen!  Paulus sê nie verniet in Rom. 8:28: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.” Lees gerus die verdere verse in Romeine 8 wat die implikasies hiervan uitspel.

Psalm 119:68 is daarom vandag vir my ‘n helder woord wat ‘n nuwe Bybelse begronding gee vir een van my lewensmotto’s.  Dit is Richard Niebuhr (The Responsible Self) se stelling: “God is acting in all actions upon you.  So respond to all actions as a response to his action.”  En ek besef nou, ek kan daarvolgens lewe, ómdat God goed is en goed doen.  Daarom kan ek, soos die Psalmis, hom vra om my sy voorskrifte te leer, en kan ek dit van harte navolg.

Psalm 119:57-64 – GET – U, Here, is my deel; U troue liefde vul die aarde

Psalm119-getDie agtste deel van die Psalm fokus soos die vorige deel steeds op die krag van God se belofte om hom genadig te wees in die aanvegting wat hy ervaar van goddelose mense.  Hulle impak op hom is soos vangtoue of strikke wat hom omstrengel, sodat hy die gevaar loop om in sy gehoorsaamheid aan God se wet ontkrag te word.  Hy bid dus dat niks hom sal keer of verhinder in sy voorneme om God se openbaring in alle opsigte na te kom.

Let op hoe hy sewe van die agt woorde vir God se openbaring gebruik: gebooie, bepalings, bevele, wet, regverdige beslissings, opdragte, voorskrifte na te kom.  Dit illustreer sy vaste voorneme om in alle opsigte aan God gehoorsaam te wees.  Hy wil hê dat die Here hom self sy voorskrifte sal leer.

Hoekom fokus hy só sterk op gehoorsaamheid, selfs al kos dit hom so baie?  Omdat, soos die NAV dit dinamies vertaal: “Dit is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.”  Letterlik staan daar: “U, Here, is my deel.” (BDV).

Daarmee verwys die Psalmis na die uitsprake in die wet dat die priesters nie ‘n stuk grond ontvang het met die Intog nie, maar dat die Here self hulle deel is: “Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” (Num. 18:20 – OAV).  En dié deel kan net in ontvangs geneem word, en in stand gehou word, as die Here aan die een kant sy belofte waarmaak – waarvoor die Psalmis hier bid – en ons aan die ander kant ons heelhartig op gehoorsaamheid toelê – waaraan die Psalmis hom hier toewy.

Die idee dat God ons deel is, is ‘n tema wat in die Psalms van toepassing gemaak word nie net op priesters nie, maar op alle mense wat die Here die totale fokus van hulle lewe maak.  Vgl. Dawid in Ps. 16:5: “Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot.  Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”  (Vgl. my bydrae: Psalm 16 – Daar is niks goeds behalwe by God nie).  Hy kan dit selfs sê in die grootste gevaar toe hy in die grot vir Saul geskuil het: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.” (Ps. 142:6).

Een van die Asaf Psalms uit die derde Psalmboek het dit ook van toepassing gemaak op mense – soos in Ps. 119:57-64 – waar hulle geloof in God in ‘n krisis kom weens die effek van goddeloses, in daardie geval weens die impak van hulle voorspoed.  Asaf bely dan: “My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd.  Want kyk, dié wat ver van U af is, gaan te gronde.” (Ps. 73:26 – vgl. my bydrae: Psalm 73 – God is my krag en erfenis).

Daarom lees ons dat die Psalmis bid en worstel met die Here: “Ek het met my hele hart u guns gesoek … Wees my tog genadig volgens u belofte.”  Hy het sy paaie (koers) oordink en dit teruggebring na God se bepalings.  Hy het hom gehaas: “en nie getalm nie” om God se bevele te gehoorsaam.  Hy het God se wet nie vergeet nie, selfs in die middel van die nag die Here geloof.

Hy sorg ook dat hy hom omring met mense wat soos hy ontsag het vir die Here, en sy opdragte nakom. Want, hy weet, dit is dán wat hy die belydenis dat die Here sy deel is, sal kan volhou, en die ervaring kan hê dat sy troue liefde die aarde vul.

Psalm 119:49-56 – ZAJIN – Onthou tog u woord aan u dienskneg

Psalm119-zajinDie sewende deel van die Psalm tref my op ‘n besondere diep manier.  Dit wentel om die krag van God se belofte – sy woord aan sy dienskneg – wat nie net hoop in die verlede gegee het nie, maar altyd sy vertroosting in enige teenswoordige ellende is.  God se belofte hou hom letterlik aan die lewe wanneer dit swaar gaan. Dit gee hom die moed om aan te gaan en die toekoms op grond van God se beloftes aan te pak.

En die Psalmis draai nie doekies om oor hoe swaar dit gaan nie.  Vermetelde en arrogante mense spot hom tot die uiterste toe oor sy gehegtheid aan God se wet.  Tóg het hy nie van God se wet – sy openbaring, sy woord aan die Psalmis – weggedraai nie. In die proses het ‘n groot woede oor goddelose mense hom beetgepak – dié mense wat God se wet verlaat.

Meer nog, die Psalmis stel homself nog meer daarop in om God se beslissings te onthou, dié dinge wat hy van van lank gelede af al weet, en word daardeur getroos.  Dit is die liedere wat hom in die vreemde aan die gang gehou het, elke keer wanneer hy in die nag daaroor nagedink het (ietwat anders as die ballinge in die roerende Ps. 137 met wie dit só swaar gegaan het, dat hulle dit nie kon regkry om Sionsliedere in die vreemde te sing nie).  En die Psalmis het nie net oor God se wet gesing nie, dit was sy gewoonte om hulle na te kom, elkeen van hulle.

Vanuit hierdie onthou en vashou, skeur daar dan uit hom hierdie kreet: “Onthou tog u woord aan u dienskneg waarmee U aan my hoop gegee het.” (119:49).  Want sy troos lê uiteindelik nie in sy eie onthou, óf sy eie woede oor goddeloses, óf sy eie gewoonte om God se woord te onderhou nie.

Sy troos lê in God wat sy beloftes onthou en daarom nakom.

Dít is ook my eie troos.  Ek dink vandag ver terug na woorde wat die Here my gegee het as opdragte en beloftes vir my lewe en bediening – woorde wat reeds op baie maniere vervul is, maar ander wat nog tot volle verwerkliking moet kom.  Vertroetel dié woorde in jou eie lewe, en bid soos die Psalmis dat God sy woorde aan jou altyd sal onthou.

Onlangse kommentaar

  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן