Skip to main content

Tag: Psalms

Psalm 119:113-120 – SAMEK – Ontsag vir God se woord bring ondersteuning en onderskraging

Psalm119-samekDie vyftiende deel van hierdie Psalm onderstreep die krag van God beide om te ondersteun en onderskraag sowel as om te verwerp en verwyder. God se openbaring struktureer die werklikheid op ‘n omvattende manier.  Hy bepaal wat gebeur.  Hy doen wat Hy openbaar.  Hy self is getrou aan wat Hy sê, soos die Psalmis dit hier uitdruk met die woorde wet, woord, bevele/gebooie, voorskrifte, bepalings/verordeninge en beslissings/bepalings – ses van die woorde wat in die Psalm daarvoor gebruik word.

Om die openbaring van God met alles wat in jou is, na te volg, is dus nie net die beste pad nie.  Dit is die enigste pad wat jy kan volg.  Jou liefde vir God se openbaring, moet opgevolg word, en word verdiep deur, jou uitvoering en nakoming daarvan in die fynste detail.  Hy is ‘n skuilplek en ‘n skild, ‘n plek van veiligheid en beskerming. Sy woorde is ‘n huis om in te woon.

Dit is daarom dat die kontras tussen die gelowiges en die goddeloses geteken word in vers 117-118 deur te wys op die plek wat hulle aan God se openbaring in hulle lewe gee. Die Psalmis verklaar onomwonde dat hy voortdurend aan God se voorskrifte wil aandag gee.  Die teenoorgestelde is waar van die goddeloses van die aarde wat van God se voorskrifte afdwaal.

Nog erger is mense wat dubbelhartig is, d.w.s. huigel.  Mense wat op die oog af instemming betuig met die woord van God, maar hulle lewens nie daardeur laat bepaal nie. Mense wat hoor, maar nie doen nie, soos Jesus en Jakobus lank hierna uitspel.

  • Jesus som die Bergrede op met die voorbeeld van die onverstandige man wat sy huis op die sand gebou het en nie kan standhou in die reën nie versus die verstandige met sy huis op die rots wat Jesus se woorde navolg (Matt. 7:24-27 – vgl. my bydrae Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid).
  • Jakobus spel die gevolge uit van mense wat hoor en nie doen nie met die voorbeeld van die man wat in ‘n spieël na homself kyk, maar dan vergeet hoe hy gelyk het (Jak.1:19-27). Trouens, Jakobus gaan aan om hierdie ongelooflike belangrike seën uit te spreek – en let op dat hy steeds van God se wet praat wat vrymaak: “Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daarby bly, sal geseënd wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener wat sy werk doen.” (Jak. 1:25 –vgl. my bydrae Jakobus 1:19-2:26 – Doen wat die woord sê).

Sulke mense staar verwerping en verwydering in die oë, sê Psalm 119: “soos metaalskuim verwyder U al die goddelose van die aarde.” (119:119).  Jy kan nie na God se woorde luister en dit nie doen nie.  Dit is die dood in die pot vir jou lewe.  En, sê die Psalmis, jy moet jou afskei van mense wat kwaaddoen, sodat jy die openbaring van God kan nakom.

Die Psalm ontlok in my dieselfde ontsag vir God se woord as wat ek in die Psalmis raaksien: “My lyf bewe omdat U vrees inboesem;” (119:120).  Dit ontlok ook in my dieselfde gebed: “Ondersteun my, soos U beloof het, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie.  Onderskraag my, sodat ek verlos kan word” (119:116-117).  Ondersteuning en onderskraging.  My gebed vir dié dag terwyl ek die wil van die Here soek en doen.

Psalm 119:105-112 – NUN – Ek gehoorsaam U ten spyte van gevaar

Psalm119-noenDie eerste vers van die veertiende deel van hierdie Psalm is seker een van die meer bekende verse in die hele Psalm 119: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.” (119:105).  Omdat God se woord vir hom insig bring en rigting gee in die lewe werp hy daarom alles in die stryd om daaraan gehoorsaam te wees.  Hy bevestig dit met ‘n eed en hou hom daarby.

Selfs al kry hy swaar in sy gehoorsaamheid aan die woord van God, kom hy dit na, terwyl hy hom ook verlaat op God se belofte en Hom smeek: “maak my lewend volgens u woord!” (119:107). In sy smeekgebed om uitkoms, bly hy egter steeds getrou om die Here te loof: “Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees.” (119:108).

Vers 109 is ‘n besondere getuienis van sy onwrikbare keuse om gehoorsaam te wees. Dit lui letterlik: “My siel/lewe (is) in my hande/handpalms voortdurend/gedurig, en/maar u wet vergeet ek nie.”  Die NAV vertaal pragtig op dinamiese wyse: “My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie.”  Die NIV vertaal dit selfs vir my nog beter: “Though I constantly take my life in my hands, I will not forget your law.” Die vers dra dus die betekenis dat die Psalmis op berekende wyse aan God se wet getrou bly, ten spyte van die feit dat dit hom in gevaar bring.

Dié gevaar is veral van die goddelose wat vir hom strikke stel, maar hulle versteur nie die verbintenis aan God wat hy gemaak het nie.  Die Here se openbaring is sy “blywende erfporsie” waarop hy altyd fokus om dit sy eie te maak.  Dit is die vreugde van sy hart.  Hy sal altyd daaraan getrou bly: “vir altyd, tot die einde toe.

Dmitri

Ek het onlangs kennis gemaak met Dmitri se verhaal van getrouheid ten spyte van gevaar en ek deel dit graag vandag omdat dit só goed pas by hierdie deel van die Psalm.  Dit is ‘n roerende verhaal soos vertel deur Nik Ripken (luister na die verhaal by hierdie skakel).

Continue reading

Psalm 119:97-104 – MEM – Insig in God se openbaring kom deur gehoorsaamheid

Psalm119-memIn die dertiende deel van hierdie Psalm verklaar die Psalmis sy liefde vir die hele openbaring van God – wet, gebod, bepalings, opdragte, woord (dâbâr), beslissings, woorde (‘imrâh) – sewe van die woorde wat daarvoor in die Psalm gebruik word.

Let op dat die Psalmis hier niks vra van die Here nie, net fokus op sy eie besig wees met God se openbaring.

In die eerste vier verse wissel hy telkens sy eie fokus op die openbaring van God af met die effek wat dit in sy lewe het:

  • Sy liefde vir die wet – die hele dag dink hy daaroor na, dit bly hom elke oomblik by.
  • Die wysheid van God se gebod – dit is altyd daar vir hom.
  • Die verstandigheid van God se bepalings – dit is beter as al sy leermeesters en bly vir hom stof tot nadenke; hy munt selfs uit bó sy leermeesters weens die krag van God se bepalings.
  • Sy gehoorsaamheid aan God se opdragte gee hom selfs meer insig as oumense.

In die laaste vier verse verklaar hy sy gehoorsaamheid aan God se openbaring en die wederkerige effek wat dit nie net op sy lewe het nie, maar veral op sy begrip en insig in wat God wil.

  • Sy gehoorsaamheid sluit in dat hy sy voete van verkeerde paaie weerhou, sodat hy God se woord kan onderhou.
  • Hy wyk nie af van God se beslissings nie, want dit is na alles dié beslissings wat hom onderrig.
  • God se woorde en beloftes is vir hom soeter as heuning, soos die BDV vertaal: “Hoe strelend is u woorde teen my verhemelte, selfs strelender as heuning vir my mond.
  • Hy haat elke bedrieglike verkeerde pad, want dit kan God se opdragte waardeur hy insig kry, verduister.

Die Psalmis help ons hier om te verstaan dat insig nie net kom deur verklaring nie, maar veral deur God se wil te begin doen.  Insig kom wanneer ‘n mens gehoorsaamheid aan God se wil begin beoefen.  Soos ek baie keer sê, die Bybel moet ons lewe vorm. Daarvoor is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees.  Dit is dán wat ons God regtig leer ken en ons die pad wat Hy vir ons het, kan onderskei.

Bydraes hervat Maandag 12 Oktober

Psalm119-alefEk herinner almal net aan die feit dat die bydraes oor Psalm 119 volgende week Maandag 12 Oktober sal hervat.  Ek is dié week by die Algemene Sinode betrokke.  Hieronder is ‘n skakel na ‘n seleksie van verse uit die Psalm waarna jy op die webtuiste kan kyk.

 

Continue reading

Psalm 119:89-96 – LAMED – Vir ewig staan u woord vas

Psalm119-lamedDie Psalmis verwonder hom in die twaalfde deel van die Psalm oor die blywende waarde van die openbaring van God: “Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel.”  Daar is ‘n permanensie en betroubaarheid aan God se woorde wat nie net in die geskape werklikheid van die hemel en die aarde raakgesien kan word nie (119:89), maar ook in die durende en blywende effek wat sy woord – geskrewe en ongeskrewe – in die geskiedenis het, van geslag tot geslag (119:91).  God se skeppingswoord bevestig die blywende waarde van sy openbaringswoord.

God se woorde gaan daarom nooit uit die mode nie, die vreugde daarvan bly van krag selfs in die grootste ellende en swaarkry wat ons kan beleef.  Dit hoef nooit opgedateer te word nie.  Dit is genoeg vir elke situasie wat mag ontstaan.  Daarom kan ‘n mens daarop staatmaak.  Dit maak jou nie net lewend nie (119:93), maar dit hou jou in die lewe, anders sou ‘n mens se ellende vir jou te veel geword het.  Soos Peterson vertaal: “If your revelation hadn’t delighted me so, I would have given up when the hard times came.” (The Message)

Daarom is dit só belangrik om jou hele lewe om God se woorde te laat draai.  Trouens, die Psalmis sê: “Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie.” Hy weet sy eie voortbestaan hang van dié woorde van God af.  In die permanensie van God se woorde vind die Psalmis sy eie permanensie!

Want dit is die realiteit van God se openbaring.  Soos die laaste reël van vers 96 sê: “u gebod is sonder grense”.  Dit bedoel dat die diepte en wydte van God se openbaring nooit volledig ondersoek en begryp kan word nie.  Dit is dieselfde as wat van sy liefde gesê word, dat dit onbegrens is.  Daar is altyd nóg ‘n kant daarvan wat vir die Psalmis oopgaan en sy vreugde in en verbintenis aan God se woorde verdiep.

Jeremia het dieselfde gedagtes in sy Klaagliedere opgeteken oor God se liefde.  Juis toe hy in die ballingskap gedink het dit is klaar met hulle en met hulle hoop op die Here, het die besef gekom: “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.” God se gramskap het hulle nie totaal vernietig nie.  Daar het ’n oorblyfsel gebly.

Wat vir Jeremia beteken het: “daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.”  Dié woorde het Robert Davidson geïnspireer tot die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases.  His mercies never come to an end.  They are new every morning, new every morning.  Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.”

Daarteenoor staan al die ander dinge op aarde, selfs waar dié dinge wonderlik is, selfs volmaak is.  Alles het ‘n grens, net God se openbaring nie.  Trouens, al dié dinge in hemel en op aarde is God se diensknegte.  Hulle voer sy besluite en bepalings uit, bring sy openbaring tot hulle volle verwerkliking. Daarom kan ‘n mens op God se woorde staatmaak, al kan ons nie dieselfde sê van enige ander ding wat bestaan nie, hoe volmaak ook al.

Onlangse kommentaar

  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן