Job bly vroom, al word hy sonder rede geruïneer
Die Satan bly skepties oor Job se vroomheid – 2:1-6 – Vierde toneel
Job se integriteit blyk intakt te bly. Tot die Here se vreugde. Tot die Satan se argwaan. Let op met hoeveel trots die Here oor Job se lojaliteit praat: “Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.”
Let op hoe die Here daarmee eintlik die Satan uitnooi om twee goed agter te kom. Een, dat dié eksperiment rondom Job se vroomheid in verlies eintlik verniet was, onnodig, redeloos. Twee, dat dié eksperiment geslaag het. Job het vroom gebly al is hy sonder rede geruïneer.
Die Satan bly egter skepties oor Job se vroomheid. Hy dink dat ‘n mens wel alles sal gee wat jy het, selfs die lewe van jou kinders, as jy maar net self in die lewe kan bly: “Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.”
In wese bly die Satan natuurlik eintlik skepties oor God self. Hy bevraagteken eintlik hiermee God se status op aarde. Hy sê hiermee op verskuilde wyse dat God nie genoeg is vir mense nie, dat God nie geëer word ómdat mense sy Naam eer en aan Hom verbind is – kom wat wil – nie, maar ómdat hulle sy seën wil bly geniet. God se invloed in mense se lewe word dus met die Satan se sinisme in twyfel getrek. Mense dien Hom ómdat Hy vir hulle goed is. Daarsonder sou hulle Hom die rug toekeer.
Wanneer God dus toestemming gee aan die Satan om nie net Job se goed nie, maar ook sy gesondheid te neem, is dit nie net Job se vroomheid wat op die spel is nie. God se invloed in mense se lewe is op die spel. Soos in die tuin van Eden wil die Satan ‘n wig indryf tussen God en sy mense. En hierdie keer is dit nie sonde wat die skeiding sou kon bring nie, maar lyding, die smart oor onverdiende, onskuldige verlies en pyn.
God self kom dus in die gedrang … soos dit veel later in die lewe van Jesus aan die kruis ook aan die orde sou kom. Die vraag aan die kruis was intens: Sal Jesus vroom bly al word Hy sonder rede geruïneer? En in sy geval was dit nie net sy gesondheid nie, maar sy lewe self, wat van Hom gevra is.
Die hele Skepping het dus hier asem opgehou… en ‘n sug van verligting laat hoor toe nie net hier Job nie, maar later ook Jesus aan God getrou gebly het. Want, met Jesus het daar boonop die vryheid van vryspraak gekom, ‘n nuwe manier om in geregtigheid die pad met God te bly stap op pad na die herstel van sy koninkryk.
Onlangse kommentaar