Skip to main content

Tag: Kronologiese Bybelleesplan

Job 11

Sofar: As jy jou verstand reg gebruik, sal jy jou kop sonder skaamte kan oplig

Die arrogante en selfversekerde Sofar praat in die eerste rondte veral uit ‘n intellektuele deurskouing van die lewe: “As jy jou verstand reg wil gebruik … kan jy jou kop sonder skaamte oplig.” (Job 11:13,15).  Sofar het ‘n antwoord op alles, en hy spaar Job nie.  Job is volgens hom duidelik skuldig.  God het nog nie eers begin om hom vir al sy sondes te straf nie (11:1-6).  Job begryp nie werklik wie God is nie.  Hy tree soos ‘n idioot op as hy dink dat hy ‘n greep op die kennis van God het (11:7-12).  Job moet net sy hande in gebed na die Here toe uitsteek, sy sonde van hom af verwyder en nie toelaat dat onreg in hom woon nie.  Dan sal God sy lot verander en hy weer goeie vooruitsigte hê (11:13-20).

Continue reading

Job 10

Maak aan my bekend waarom U hierdie stryd teen my voer

Job se antwoord aan Bildad gaan spontaan oor in ‘n gebed tot die Here in hoofstuk 10 dat dié hom: “tog nie skuldig sou verklaar nie”, maar aan hom bekend sal maak: “waarom voer U hierdie stryd teen my.” (10:2).  Die Here het hom immers die lewe gegee en met liefde versorg en oor hom gewaak.  Waarom het die Here dít dan gedoen, as hy nou sonder rede versaak word?  Moes hy nie liewer nooit die lewe gesien het nie?  Dit sou tog beter gewees het as om hierdie lyding te moet deurstaan?

Job walg daarom aan sy lewe, nie net omdat hy ly nie, maar veral omdat hy in die duister is oor die redes vir sy lyding.  Hy smag daarna dat die Here die redes vir sy lyding sal bekendmaak.

Continue reading

Job 9

Waarom pynig die Here my sonder dat ek dit verdien?

Job antwoord die brutale Bildad in hoofstuk 9 met ‘n bevestiging: “Ek weet dit is soos jy sê: Wie kan sy saak teen God wen?” (9:2).  Maar brei dan in sy antwoord uit op sy beswaar dat dit God is: “wat my met ‘n stormwind pynig (sy kinders is immers dood in ‘n stormwind!), wat my (met) baie wonde slaan sonder dat ek dit verdien.” (9:17).  Sy lyding is onverdiend wat hom laat besef dat God se grootheid wel voordele het, maar ook nadele, die eerste deel van sy antwoord (9:1-19).

Daarom is Job beswaard: “Ek is onskuldig!” (9:21).  As daar maar net iemand was wat tussen hulle kon kom staan (9:33), want hy is bang dit gaan nog erger met hom (9:28), die tweede deel van sy antwoord (9:20-35).

Continue reading

Job 8

Bildad: Teenspoed beteken God se afkeur en voorspoed sy goedkeuring

Dit skok ‘n mens om die gebrek aan simpatie in die brutale Bildad se woorde te lees.  Hy wyt die kinders se dood aan God se straf vir hulle eie oortredings en Job se siekte aan die feit dat hy nie vlekkeloos is en reg het voor God nie (8:4-5).

Bildad sluit dus by Elifas se argumente aan, maar radikaliseer dit.  Hy handhaaf onomwonde die perspektief dat God regverdig is en dat alle rampe dus ‘n teken is van sy straf vir die onreg van mense (8:1-7).  Bildad baseer dit op die wysheid van die tradisie – die oorgelewerde insig wat van die voorgeslagte af kom – sowel as op die wette van die natuur, die sogenaamde algemene openbaring (8:8-10) en wys met uitdagende metafore aan hoe dit uitspeel in die lewe van die goddelose en die vrome (8:11-22).

Sy basiese vertrekpunt word aan die einde geformuleer dat wat met mense gebeur op sigself reeds hulle vroomheid en goedheid illustreer of dan hulle goddeloosheid en boosheid: “God verwerp nooit die opregte nie … en staan ook nie dié by wat onreg doen nie.” (8:20).

Continue reading

Job 7

In my bittere beproewing soek ek vergifnis

Dink daaraan, o God, dat my lewe maar net ‘n asempie is – 7:1-10

Dat dié beproewing van Job al ‘n geruime tyd voortduur, sien ‘n mens in die verwysing in vers 3 na die “maande” wat hy al deurbring met swaarkry.  Hy voel soos ‘n dagloner wat smag na ‘n stukkie koelte en verlang na betaaltyd, sodat hy verlossing kan kry van sy harde lewe.

Daarom wend hy hom tot die Here, want hy weet dit is al plek waar hy enige rus sal kan vind.  Sy smart is immers so groot dat hy nie eers rus kry in die nag nie.  Hy weet dit sal net in ‘n ontmoeting met God kan gebeur.

Hoe goed kan ‘n mens nie jouself indink in sy situasie waarin hy oortrek is van wurms, vol rowe en stof, met sy vel vol barste wat aanhoudend etter (7:5).  “Die nag sleep stadig verby en ek rol rusteloos rond tot dagbreek toe.” (7:4).

Daarom vra hy dat die Here aan hom sal dink.  Job is immers baie bewus van sy verganklikheid.  Sy dae loop vinnig uit.  Sy lewe is maar net ‘n asempie: “U sal nog so na my kyk, dan is ek nie meer daar nie.” My plek sal vir altyd leeg wees.

Continue reading

Onlangse kommentaar