Job sit sy gebed voort, maar rig dit hierdie keer direk aan God. Job vra dat God nie net vir hom ‘n getuie sal wees in die saak tussen hulle nie, maar dat Hy nog meer sal doen. Hy vra dat God vir hom sal instaan as borg, want dit is sy enigste hoop: “Wie anders kan vir my instaan?”
Die diepte en kompleksiteit van Job se worsteling met sy lot begin al hoe meer duidelik blyk in kontras met die oppervlakkige en eenvoudige raad van sy drie vriende. In ses gedeeltes praat hy afwisselend met sy vriende, met homself, asook met God:
Met sy vriende: Hy soek simpatieke vertroosting by sy vriende eerder as simplistiese veroordeling (16:1-6).
Met homself: Hy ervaar God as ‘n meedoënlose Teëstander wat hom deurboor met sy oë, al is hy self nie skuldig aan geweld nie (16:7-17).
Met God: Daarom pleit hy met trane by God dat Hy vir hom sal getuig sodat daar klaarheid kom in die stryd wat Job beleef (16:18-22).
Met God: Hy vra dat God vir hom sal instaan as borg: “Wie anders kan vir my instaan?” (17:1-5).
Met sy vriende: Onder sy vriende kry hy nie een wat verstandig is nie (17:6-10).
Met homself: Die hoop op ‘n uitkoms dreig om saam met hom na die doderyk toe af te gaan (17:11-16).
Elifas: Jou swaarkry en lyding bewys dat jy goddeloos is
Elifas gaan verder om vanuit sy eie ervaring (15:17), gerugsteun deur die woorde van die wyse mense (15:18), Job die leviete voor te lees. In die eerste deel – 15:1-16 – fokus hy op die feit dat Job vanselfsprekend sondig moet wees. In die tweede deel – 15:17-35 – fokus hy op die feit dat die goddelose deur angs geteister word (15:20) – en let op dat hy ‘n direkte verband tussen Job en die goddelose trek – en die dood nie sal vryspring nie (15:30). Dít moet Job tot inkeer bring, sodat hy sy sonde voor God kan bely en hy nie sy woede só op God moet rig nie (15:13).
Wat Job in die gesprek met God wil hoor, is wat die misdade en sondes is wat hy begaan het. Die Here moet hom net ‘n blaaskans gee van die straf wat hy verduur, en die skrik vir God wat dreig om hom te oorval, sodat hy en God die saak van sy skuld al dan nie kan uitmaak.
Hy is immers soos ‘n verwaaide blaar, ‘n droë stoppel, ‘n stuk klere wat deur motte gevreet is, nie die moeite werd om met soveel aandag uit te sonder vir hierdie bitter lyding nie. Die Here se merk is op hom – daar staan letterlik in 13:27: “U plaas merke op die wortels van my voete (voetsole)” – sodat Job nêrens kan vlug waar die Here nie sy voetspore kan volg nie.
Dié manier van doen sou tot troos kon wees – onthou die speelgoed in die Toy Story reeks wat met trots Andy se naam op hulle voetsole vertroetel het, omdat dit hulle spesiale status om aan hom te behoort, verkondig het – maar is vir hom ‘n werklikheid wat hom verskrik.
Job reageer baie skerp sarkasties op sy drie vriende se raad aan hom: “Werklik, julle is die enigste mense wat iets weet!” Hy het ook verstand, net soos hulle, en staan nie vir hulle terug nie. Trouens, wie weet nie dié dinge wat hulle nou onder sy neus kom vryf nie!
Hy hanteer die verskillende gedagtes wat hulle het min of meer met minagting en raai hulle in die eerste deel aan om liewer stil te bly – hy het immers ‘n baie beter en meer omvattende idee as hulle van God se wysheid en betrokkenheid by die lewe (13:13-25) – sodat hy met die Here kan praat, iets wat hy dan inderdaad doen in die tweede deel van hfst. 13:20 af. Sy gesprek met hulle (12:1-13:19) gaan dus oor in gebed tot die Here (13:20-14:22).
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar