Elifas: Jy was onregverdig en onbarmhartig, daarom gaan jy onder
Die derde gespreksrondte tussen Job en sy drie vriende word voortgesit met ‘n toespraak van Elifas (hfst. 22) waarop Job sal antwoord (hfst. 23-24). Bildad sal nog ‘n kort toespraak lewer (hfst. 25), met Job wat daarop antwoord (hfst. 26-27). Sofar kom egter nie weer aan die woord nie.
Elifas se argument is eintlik eenvoudig: 1) Job was onregverdig en onbarmhartig, en hy laat Job onder geen illusies daaroor nie, al gee hy geen konkrete voorbeeld nie, en verwys net na dinge wat hy dink moes gebeur het (22:1-20), en 2) Onderwerp jou aan God en jy sal weer vrede en voorspoed belewe (22:21-30).
Job reageer weereens skerp op die drie vriende se ontleding van wat die lot van die goddelose is. Hulle kommentaar op die lewe het nou sy volle aandag, want hy verskil wesenlik daarvan. Hy kom in die eerste plek in opstand daarteen dat hy – volgens hulle – nie ongeduldig mag raak nie, want sy klag is dan juis nie teenoor mense nie (21:1-5). Hulle moet dit tog kan sien en eerder stilbly van verbasing oor dít wat hom oorgekom het.
In sy eie perspektief op die goddeloses – let op die meervoud! – laat hy in die tweede plek sy direkte reaksie op Sofar se perspektief op die goddelose (in Sofar se oë is die goddelose natuurlik Job) sy fundamentele verskil daarmee hoor met ‘n reeks vrae wat om antwoorde vra (21:6-33). Hy sluit in die derde plek af met ‘n finale vraag wat sy beswaar teen hulle sinlose praatjies verwoord wat hom op geen manier troos nie (21:34).
Sofar: Terwyl jy jou nog so vol eet, laat God sy woede oor jou losbreek
Waar Job se oortuiginge oor God die verbeelding van ‘n verlossende toekoms van God vir skepsels en skepping begin oopmaak, bly Sofar by sy beperkende intellektuele argumentering oor die lot van die goddelose. Daar is by hom al hoe minder van ‘n moontlikheid te bespeur dat omkeer of inkeer moontlik is, soos hy weliswaar nog in sy vorige gesprek aan Job voorgehou het (Job 11).
Sofar beskou die goddelose al hoe meer as verdoem en sonder enige uitkoms: “Jy weet tog dat die vreugde van die goddelose (resjaîm – wicked – mense wat in opstand teen God lewe) van korte duur is, dat die blydskap van die godlose (ḥâneef – godless – mense wat sonder God lewe) net ‘n oomblik duur?” (20:5).
Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!
Dit is opmerklik dat Job in dié gesprek van hom nét met die drie vriende praat, en nie ook met die Here nie. Waar hy in elkeen van die vroeëre gesprekke eintlik meer op sy verlange om met die Here te praat, gefokus het, fokus hy hier direk op die drie vriende en lewer ‘n uitnemende getuienis van sy diepste oortuiging oor God: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (19:25 – vgl. 16:19 waar hy oor God as sy getuie in die hemel praat).
Let op hoe Job nie net oor sy eie persoonlike verlossing praat nie, soos ons baie keer met lidmate se belydenisaflegging dié teks gebruik. Dit gaan vir Job oor die breër prentjie van God se heerskappy nie net in sy persoonlik lewe nie, maar oor die hele aarde. Die droom van God se totale verlossing wat steeds in Job se hart brand, is dat alles wat moontlik afbreuk kan doen aan God se plan met die mensdom, onder sy heerskappy geplaas sal word, en dat God sal triomfeer in die lewe van mense op aarde.
Let ook op dat Job hieroor praat nie as ‘n vae wens wat moontlik gedwarsboom kan word nie. Dit is vir hom ‘n vaste werklikheid: “Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie.” En voeg hy daaraan by: “Ek smag daarna met my hele lewe.” (19:27).
Bildad: Die onheil wag jou gretig in, omdat jy God nie erken nie
Dit is duidelik dat die brutale Bildad ‘n onverbiddelike standpunt gaan handhaaf, presies soos hy dit in die eerste gespreksrondte gedoen het (Job 8). Teenspoed beteken vir hom God se afkeur en voorspoed sy goedkeuring. Dit is sy rigiede standpunt uit die tradisie wat hy ten alle koste gaan verdedig, kom wat wil. Job se worsteling laat hom dus koud. In sy teologie is daar geen plek vir kompleksiteite nie, vir uitsonderings op die reël nie. Job moet trouens volgens Bildad eers tot inkeer kom en dinge sien soos Bildad dit sien, vóór hulle verder kan praat (18:1).
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar