Skip to main content

Tag: Kronologiese Bybelleesplan

Job 1

Die tyd van die verhaal van Job

Die verhaal van Job vind waarskynlik plaas in die tyd van die patriarge, Abraham, Isak en Jakob, soos uit die plekname en gebruike in die boek afgelei kan word.  Die boek het waarskynlik egter eers later tot stand gekom.

Job was egter nie ‘n Israeliet nie, maar van die land Us, ‘n gebied wat óf met die Arameërs in die Noord-ooste (Gen. 10:23; 22:21) óf met die Edomiete (Gen. 36:28) in die Ooste langs Israel verbind word.

Job se vriende was ook nie Israeliete nie.  Elifas was van Teman, ‘n naam wat ook met die Edomiete geassosieer word (Gen. 36:11).  Teman was bekend vir wysheid (Jer. 49:7).  Bildad was van Suag, ‘n naam wat ook met een van Abraham se seuns geassosieer word (Gen. 25:2).  Sofar was van Naäma, ‘n naam wat met die nageslag van Kain geassosieer word (Gen. 4:22) sowel as met ‘n stad in Kanaän (Jos. 15:41).  Dit is ook die naam van Rehabeam se ma, ‘n Ammonitiese vrou (1 Kon. 14:21).

Omdat die plekke nie verder geïdentifiseer word nie, is dit egter moeilik om enige afleidings daaruit te maak, behalwe dat dit waarskynlik met die geskiedenis vóór die totstandkoming van Israel as nasie geïdentifiseer word.

Dit word bevestig deur die vertelling van die mense uit Skeba (waarskynlik Arabiere) wat sy kinders oorval en hulle beroof het (Job 1:15) en die drie groepe Galdeërs (waarskynlik die voorloper stamme wat uiteindelik deel van die Galdeërryk van Nebukadnesar gevorm het) wat die kamele geroof het (Job 1:17 – die Griekse LXX vertaling vertaal dit net met “perderuiters”).

Dieselfde geld die feit dat Job aan die einde van die boek die offers van sy drie vriende ontvang en vir hulle bid (Job 42:8).  Hy tree dus as priester op waarskynlik vóór die kultus van Israel met die tabernakel en tempel tot stand gekom het.

Dieselfde geld ook sy ouderdom.  Soos die patriarge – hulle het tussen ‘n 100 en 175 jaar oud geword – het hy ook lank gelewe, meer as ‘n 140 jaar, waarin hy die voorreg gehad het om sy latere kinders en kleinkinders tot in hulle vierde geslag te gesien het (Job. 42:16).

Job was aanvanklik baie ryk en ook invloedryk: “Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man”! (Job 1:3).  Ná sy lyding het dié rykdom en invloed egter nog verder toegeneem: “Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste.” (Job 42:12).

Veral sy drie dogters wat ná sy worsteling met God gebore is, was merkwaardig.  Nie net word hulle name genoem nie, Jemima, Kesia, Keren-Puk (die seuns se name word verswyg!), en was hulle besonder mooi nie, maar hulle het ook saam met hulle broers geërf, soos die geval later ook was met die dogters van Selofgad, as gevolg waarvan hierdie reëling in die wet ingeskryf is (Num. 27; 36).

Continue reading

Genesis 11

God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek

Genesis 11 handel oor drie onderwerpe.  In die eerste plek word die verhaal van die toring van Babel en die taalverwarring vertel – 11:1-9.  In die tweede plek word die geslagsregister van Sem waaruit Abraham gebore is aan die orde gestel met ‘n duidelike datering aan die hand van die sondvloed – 11:10-26.  In die derde plek word die familiegeskiedenis van Tera vertel, die vader van Abram en patriarg van die res van die aartsvaders wie se verhale in die res van Genesis 12-50 vertel sal word – 11:27-32.

Dit is duidelik dat die Here sy plan om die mens te gebruik om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar nie laat vaar nie.  Hy keer met die taalverwarring dat ‘n sekulêre en godlose beskawing in Babel tot stand kom wat sy planne met die mens sou fnuik.  Agter die skerms is Hy ook besig in die lewe van Tera om die trek na Kanaän te begin.  Selfs toe Tera nie die trek voltooi nie, word God nie daardeur gestuit nie, maar gaan voort met sy roeping van Abram, die vader van die gelowiges, soos ons in Genesis 12 gaan agterkom.

Watter wonderlike getuienis van God se werk agter en deur alles wat ‘n impak het regdeur die geskiedenis.  Dit herinner my aan Richard Niebuhr se stelling dat ons altyd met dié God moet rekening hou in alles wat ons doen: “God is acting in all actions upon you.  So respond to all action upon you as to respond to his action.” (The Responsible Self)

Continue reading

Genesis 10

Uit Noag en sy nageslag versprei die nasies oor die aarde

Dit is duidelik uit Bybelse perspektief dat Noag en sy nageslag die nuwe begin van God met die hele aarde is.  In die name van die nageslag van dié drie seuns, Sem, Gam en Jafet, kan die hele ontplooiing van die bekende nasies van daardie tyd gesien word: “Uit húlle het die nasies oor die aarde versprei ná die oorstroming.” (Gen. 10:32).

Die geslagsregister is duidelik hier geplaas om dit aan Noag se verhaal te koppel, maar kronologies kom dit ná die verhaal van Babel, soos ‘n mens ook aflei uit die verhaal van Peleg, nageslag van Sem, waarvan gesê word: “in sy tyd is die land/aarde verdeel”.  Kronologies kom hoofstuk 11 dus eintlik vóór hoofstuk 10.

Die hoofstuk is uiteraard opgebou rondom die nageslagte van dié drie seuns van Noag:

  1. Die nageslag van Jafet – 10:2-5
  2. Die nageslag van Gam, in baie meer besonderhede – 10:6-20
  3. Die nageslag van Sem, waaruit die Hebreërs, onder andere Abraham en Israel gebore is – 10:21-31

Continue reading

Genesis 9

God sluit ‘n verbond met alle lewende wesens

Genesis 9 sluit die verhaal van Noag af in twee dele: ‘n gesprek van God met Noag (9:1-17) en ‘n gesprek van Noag met sy kinders (9:18-29).

  • In God se gesprek met Noag seën Hy vir hom en sy nageslag en beveel hulle om vrugbaar te wees. Hy belowe ook om nie weer alle lewende wesens deur ‘n wêreldwye vloed uit te wis nie, en gee die reënboog as teken om Homself daaraan te herinner.
  • In Noag se gesprek met sy kinders vervloek hy Gam se seun, Kanaän, tot ‘n slaaf vir sy seksuele oortreding, en seën Sem en Jafet om die opdrag van God om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar uit te voer.

Albei gesprekke het verreikende gevolge vir die wêreld sowel as vir die nasies wat uit Noag voortgespruit het.  In hoofstuk 10 sal daar ook ‘n geslagsregister geplaas word wat as getuienis van die verspreiding en ontwikkeling van die nasies na die sondvloed sal dien (vgl. 1 Kron. 1:4-23 waarmee dit ooreenkom).

Continue reading

Genesis 8

Toe het God gedink aan Noag en al die diere in die ark

“Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was …”  Dit is die evangelie in dié teks.  Dit hang saam met sy vroeëre besluit om ‘n verbond met Noag  te sluit (Gen. 6:18) wat in die volgende hoofstuk in ‘n omvattende verbond nie net met Noag nie, maar ook met sy nageslag beskryf sal word, trouens met “mens en dier” dat Hy nie weer die vloedwaters sal stuur om die aarde te oorweldig nie waarvan die reënboog die teken sou wees (Gen. 9:8-19).

Continue reading

Onlangse kommentaar