Skip to main content

Tag: Jesus se geboorte en kinderjare

LUKAS 1:57-66 – Johannes die Doper word gebore tot ontsag van almal wat dit gehoor het

57Vir Elisabet het die tyd gekom om geboorte te gee, en sy het geboorte gegee aan ’n seun. 58En haar bure en familielede het gehoor dat die Here aan haar sy groot barmhartigheid bewys het, en hulle was saam met haar bly.

59En dit het gebeur op die agtste dag dat hulle gekom het om die kind te besny, en hulle wou hom Sagaria noem volgens die naam van sy vader. 60Maar sy moeder het geantwoord en gesê: “Nee, hy moet eerder Johannes genoem word.”

61En hulle het vir haar gesê: “Daar is niemand van jou familielede wat met hierdie naam genoem word nie.” 62Hulle het vir sy vader beduie wat hy wou hê hy genoem moes word. 63En hy het ’n skryftablet gevra en geskryf: “Johannes is sy naam.” En hulle was almal verbaas.

64Skielik is sy mond en sy tong geopen, en hy het gepraat en God geprys. 65En ontsag het oor almal gekom wat rondom hulle gewoon het, en in die hele heuwelland van Judea is al hierdie gebeure bespreek, 66en almal wat dit gehoor het, het dit in hulle hart gebêre en gesê: “Wat sal hierdie kind dan wees?” Want die hand van die Here was inderdaad met hom.

Continue reading

LUKAS 1:46-56 – Maria is verheug oor die Magtige wat groot dinge aan haar gedoen het

46En Maria het gesê:

“My siel prys die grootheid van die Here, 47en my gees is verheug oor God my Verlosser, 48omdat Hy ag geslaan het op die geringheid van sy slavin.

Want kyk, van nou af sal al die geslagte my gelukkig noem, 49omdat die Magtige groot dinge aan my gedoen het. En heilig is sy Naam, 50en sy barmhartigheid geld van geslag tot geslag vir dié wat Hom vrees.

51Hy het deur sy arm ’n magtige daad gedoen, Hy het hoogmoediges verstrooi in die denke van hulle hart;

52Hy het magtiges van trone afgeruk en geringes verhoog, 53hongeriges het Hy met goeie dinge gevul

en rykes het Hy met leë hande weggestuur.

54Hy het Israel sy kneg gehelp deur sy barmhartigheid te onthou – 55net soos Hy vir ons voorvaders gesê het – teenoor Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”

56Maria het ongeveer drie maande lank by haar gebly, en sy het teruggekeer na haar huis.

Continue reading

LUKAS 1:39-45 – Elisabet word met die Heilige Gees vervul toe Maria haar besoek

Die volgende plek op ons reis is in die heuwelland van Judea waar Maria vir Elisabet gaan kuier.

39Maria het in daardie dae gereedgemaak en haastig na die heuwelland toe gegaan, na ’n dorp in Judea, 40en sy het ingegaan in die huis van Sagaria en Elisabet gegroet.

41En dit het gebeur toe Elisabet die groet van Maria hoor, dat die baba in haar skoot beweeg het van vreugde, en Elisabet is vervul met die Heilige Gees, 42en sy het met ’n groot kreet uitgeroep en gesê:

“Geseënd is jy onder vroue en geseënd is die vrug van jou skoot. 43En hoekom gebeur dit met my dat die moeder van my Here na my toe kom? 44Want kyk, toe die klank van jou groet my ore bereik, het die baba van vreugde in my skoot beweeg. 45En gelukkig is sy wat geglo het dat daar vervulling sal wees van die dinge wat vir haar deur die Here gesê is.”

Continue reading

MATTEUS 1:18-25  – ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is

18Die geboorte van Jesus Christus was só: Toe Maria, sy moeder, aan Josef verloof was, voor hulle intiem verkeer het, het dit geblyk dat sy swanger is deur die Heilige Gees.

19Josef, haar man, was wetsgehoorsaam, maar wou haar nie in die openbaar verneder nie, en het besluit om in die geheim die verlowing met haar te verbreek.

20Terwyl hy dit oorweeg het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur die Heilige Gees.

21Sy sal geboorte gee aan ’n Seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.”

22Dit alles het gebeur sodat vervul sou word wat deur die Here deur middel van die profeet gesê is:

23“Kyk, die maagd sal swanger word

en geboorte gee aan ’n Seun,

en hulle sal Hom Immanuel noem,” (Jes 7:14)

wat vertaal word: “God is met ons.”

24Toe Josef uit sy slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het, en hy het haar by hom as vrou geneem.

25En hy het nie met haar intiem verkeer totdat sy geboorte gegee het aan ’n seun nie. En hy het Hom Jesus genoem.

Continue reading

LUKAS 1:26-38 – Gabriël kondig Jesus se geboorte vir Maria aan

Dit is vanselfsprekend dat die volgende aankondiging dié van die Here Jesus Christus se geboorte sal wees. Dit vind plaas so ses maande ná die aankondiging van Johannes die Doper se geboorte, gedurende die loop van ongeveer 6 vC.

26In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ’n dorp in Galilea met die naam Nasaret, 27na ’n maagd wat verloof was aan ’n man met die naam Josef, uit die huis van Dawid, en die naam van die maagd was Maria.

28En toe hy aankom by haar het hy gesê: “Wees gegroet, begenadigde, die Here is met jou.” 29Sy was uit die veld geslaan oor die woorde en het gewonder watter soort groet hierdie kon wees.

30En die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade gevind by God. 31En kyk, jy sal swanger word en jy sal geboorte gee aan ’n seun en jy moet sy naam Jesus noem. 32Hy sal groot wees en Seun van die Allerhoogste genoem word, en die Here God sal vir Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar nie ’n einde wees nie.”

34En Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan dit wees, aangesien ek nie gemeenskap met ’n man het nie?” 35En die engel het geantwoord en vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou soos ’n skaduwee bedek; en daarom ook sal die Een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36En kyk: Elisabet, jou familielid, is self ook in haar ouderdom swanger met ’n seun en hierdie is haar sesde maand, sy wat onvrugbaar genoem is; 37omdat geen ding by God onmoontlik is nie.”

38Maria het gesê: “Hier is die slavin van die Here. Laat met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.

Continue reading

Onlangse kommentaar