LUKAS 1:46-56 – Maria is verheug oor die Magtige wat groot dinge aan haar gedoen het
“My siel prys die grootheid van die Here, 47en my gees is verheug oor God my Verlosser, 48omdat Hy ag geslaan het op die geringheid van sy slavin.
Want kyk, van nou af sal al die geslagte my gelukkig noem, 49omdat die Magtige groot dinge aan my gedoen het. En heilig is sy Naam, 50en sy barmhartigheid geld van geslag tot geslag vir dié wat Hom vrees.
51Hy het deur sy arm ’n magtige daad gedoen, Hy het hoogmoediges verstrooi in die denke van hulle hart;
52Hy het magtiges van trone afgeruk en geringes verhoog, 53hongeriges het Hy met goeie dinge gevul
en rykes het Hy met leë hande weggestuur.
54Hy het Israel sy kneg gehelp deur sy barmhartigheid te onthou – 55net soos Hy vir ons voorvaders gesê het – teenoor Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”
56Maria het ongeveer drie maande lank by haar gebly, en sy het teruggekeer na haar huis.
Teks en konteks
1:46-49 Dit tref my dat Maria se loflied, die Magnificat (“my siel prys die grootheid van die Here”) soos dit deur die eeue genoem is, aanhaak by wat Elisabeth oor Maria gesê het, dat sy gelukkig is. Sy brei dit aan die een kant verder uit deur te sê elke nuwe geslag sal haar, soos Elisabeth, gelukkig noem.
Maar aan die ander kant gebruik sy ‘n ander woord vir gelukkig, makarios (salig), wat die betekenis van ‘n toesegging het, dws iets wat God oor haar uitspreek, soos Jesus dit inderdaad in die Bergrede sou gebruik (teenoor Elisabet se woord eulogêmenos – letterlik goedpraat). En sy lê klem daarop dat die geluk nie is omdat sy gehoorsaam was nie, maar omdat God groot dinge aan haar gedoen het. Wat my leer, selfs gehoorsaamheid ‘n aanleiding tot hoogmoed kan wees. Dit bots met God se heiligheid.
1:50-52 En Maria brei uit op die groot dinge wat God in die verlede deur die geslagte gedoen het.
Hy bewys barmhartigheid, ‘n tema regdeur haar loflied, aan dié wat Hom vrees. Hy jaag hoogmoediges uitmekaar en verwar hulle denke. Hy ruk magtiges van hulle trone en verhoog geringes in hulle plek. God duld eenvoudig nie hoogmoed of aanstellerigheid nie.
1:53 Daar is geen ander manier om voor God te wees nie, as om bewus te wees van jou afhanklikheid van Hom nie. Dit is behoeftiges (grondteks praat van peinoontas, hongeriges) wat Hy oorlaai (grondteks praat van volmaak met goeie dinge) nie rykes en hoogmoediges nie. Hy stuur rykes en hoogmoediges leeg weg!
1:54-56 Let op hoe dit die herinnering aan God se beloftes van barmhartigheid is, wat Hom laat optree om uitkoms te gee vir Sy volk, sy dienaar Israel. Dit is wat Moses in die woestyn talle kere gedoen het (Eks 34; Num 14). Dieselfde gaan nou gebeur met die koms van haar kind, die Verlosser van die wêreld.
Maria se blydskap is dus dieper as Elisabet s’n. Sy sien nie net die belofte raak van twee ongebore kinders nie. Maria sien ‘n voller prentjie. Sy sien dat God in haar swangerskap sy barmhartigheid kom ten toon stel. Nie net vir haar as vrou met die geboorte van ‘n kind nie. Maar vir ‘n wêreld wat smag na verlossing.
Die God van Abraham is die God van sy nageslag tot in ewigheid. Hy is die Barmhartige. Hy is die een wat Hom ontferm.
Ook die verhaal van Hanna gee vir ons ‘n verdere perspektief op wat hier met Maria gebeur. Soos God sy barmhartigheid eenmaal getoon het aan Hanna met die geboorte van Samuel (1 Samuel 2:8; Psalm 113:7) – en daarmee die woord van die Here in ere herstel het (1 Sam 3:21) – só doen God dit hier met die geboorte van Jesus – die Woord van die Here (Joh 1:1-18).
In die proses verstrooi God mense wat hoogmoedig is. Verwar Hy hulle gedagtes. Stuur Hy rykes met leë hande weg. Maar sy mense geniet sy guns, sy omgee, sy barmhartigheid.
Meer nog. Dit is waar vir alle mense. Elkeen wat God vrees, elkeen wat God soek, elkeen wat hulle verwagting op God stel, sal God se barmhartigheid ervaar, sal sy ontferming beleef. Reg oor die aarde. In alle nasies op die aarde. So haal Paulus dit in Romeine10 aan uit die boodskap van die OT, uit Jesaja en Joël:
11Want die Skrif sê: Elkeen “wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie” (Rom 10:11 – ASV)
Paulus haal hier uit Jes 28:16 aan, ‘n gedeelte wat verwys na die hoekklip van God se gebou, die Messias.
12Want daar is nie verskil tussen Jood en Griek nie, want dieselfde Here is Here van almal en is ryk teenoor almal wat Hom aanroep; 13want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word”. (Rom 10:12-13 – ASV)
Paulus haal die frase direk uit Joël 2:32 aan wat verder belowe dat dié wat deur die Here geroep is, uit al die nasies, gevoeg sal word by dié wat gered is, die dag wanneer God die lot van Juda en Jerusalem sal verander, dié tyd wat nou met Jesus aangebreek het.
Betekenis en boodskap
- Hierdie gedeelte leer ‘n mens die verskil tussen gelukkig wees – mense wat goed praat oor jou of iets goeds wat met jou gebeur – en salig wees – God wat jou seën. Albei is van waarde, maar laasgenoemde is goddelik. Dink na hoe God dit al vir jou in jou eie lewe gewys het.
- Dink ook na oor die feit dat die impak van beloftes aan gelowiges nooit hulle krag verloor nie, want God bly altyd getrou aan sy beloftes. En sy barmhartigheid word hier geteken as ‘n primêre belofte wat ons kan aangryp in ons gebede. Dit is waar vir alle mense. Elkeen wat sy verwagting op God stel, in watter situasie ‘n mens jou ook al mag bevind, sal God se barmhartigheid en sorg, sy ontferming en redding beleef. Maria sê: dit “geld van geslag tot geslag vir dié wat Hom vrees.”
- Dink ook na oor die feit dat hierdie vrees nie is om “bang te wees” vir God nie, maar om Hom “in ontsag te gehoorsaam.” Want, Hy is heilig, soos Maria dit tereg uitspel. Hierdie tipe ontsag is waar die wysheid in jou keuses begin, want, “Ontsag vir die Here is die beginpunt van die kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit.” (Spr 1:7 – eie vertaling).
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jesus se geboorte en kinderjare

Onlangse kommentaar