Skip to main content

Tag: Jesus se geboorte en kinderjare

LUKAS 2:8-20 – Die herders hoor die goeie nuus van die geboorte van Christus die Here

8En daar was herders in dieselfde omgewing wat buite gebly het en in die nag waggehou het oor hulle kudde.

9En ’n engel van die Here het skielik by hulle kom staan en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn, en hulle was vreeslik bang.

10En die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring goeie nuus vir julle van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,

11dat vandag vir julle in die stad van Dawid die Redder gebore is, wat Christus die Here is.

12En dit is vir julle die teken: julle sal ’n baba kry wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.”

13En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leër wat God prys en sê:

14“Eer aan God in die hoogste hemel,

en vrede op aarde onder die mense

in wie Hy ’n welbehae het.”

15En dit het gebeur dat toe die engele van hulle af weggegaan het na die hemel, die herders vir mekaar gesê het: “Kom ons gaan nou reguit na Betlehem en sien hierdie ding wat gebeur het wat die Here aan ons bekendgemaak het.”

16En hulle het haastig gegaan, en hulle het Maria en Josef gevind, en die baba wat in die krip lê.

17Toe hulle dit sien, het hulle vertel van die woord wat vir hulle gesê is oor hierdie Kind.

18En almal wat dit gehoor het, was verbaas oor die dinge wat deur die herders aan hulle vertel is.

19Maar Maria het al hierdie woorde bewaar en daaroor nagedink in haar hart.

20En die herders het teruggekeer terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos dit aan hulle vertel is.

Continue reading

LUKAS 3:23-38 – Jesus se geslagsregister verbind hom aan Adam, die seun van God

23En Jesus self was omtrent dertig jaar toe Hy begin het, en was, soos gemeen is, die seun van Josef, seun van Eli,

24seun van Mattat, seun van Levi, seun van Melgi, seun van Jannai, seun van Josef,

25seun van Mattatias, seun van Amos, seun van Nahum, seun van Hesli, seun van Naggai,

26seun van Mahat, seun van Mattatias, seun van Semeïn, seun van Josek, seun van Joda,

27seun van Johanan, seun van Resa, seun van Serubbabel, seun van Sealtiël, seun van Neri,

28seun van Melgi, seun van Addi, seun van Kosam, seun van Elmadam, seun van Er,

29seun van Josua, seun van Eliëser, seun van Jorim, seun van Mattat, seun van Levi,

30seun van Simeon, seun van Juda, seun van Josef, seun van Jonam, seun van Eljakim,

31seun van Melea, seun van Menna, seun van Mattata, seun van Natan, seun van Dawid,

32seun van Isai, seun van Obed, seun van Boas, seun van Sala, seun van Nagson,

33seun van Amminadab, seun van Admin, seun van Arni, seun van Gesron, seun van Peres, seun van Juda,

34seun van Jakob, seun van Isak, seun van Abraham, seun van Tera, seun van Nahor,

35seun van Serug, seun van Rehu, seun van Peleg, seun van Heber, seun van Sala,

36seun van Kenan, seun van Arpagsad, seun van Sem, seun van Noag, seun van Lameg,

37seun van Metusalag, seun van Henog, seun van Jered, seun van Mahalalel, seun van Kenan,

38seun van Enos, seun van Set, seun van Adam, seun van God.

Continue reading

MATTEUS 1:1-17 – Jesus se geslagsregister verbind hom aan Abraham en die nageslag van Juda

Die evangelie volgens Matteus word nie om dowe neute aan die begin van die NT geplaas nie. Dit is die evangelie wat die verhaal van Jesus Christus op die mees direkte wyse aan die OT verbind. Daarom plaas Matteus Jesus se Joodse geslagsregister reg aan die begin van sy evangelie, anders as wat Lukas dit doen, en doen hy baie moeite regdeur sy evangelie om Jesus se lewe en bediening aan die vervulling van OT beloftes en profesieë te koppel (meer as 60 verwysings).

Jesus is volgens Matteus die hoogtepunt en vervulling van die Messiaanse verwagting van die hele OT verhaal. Jesus se lewensveranderende woorde (aangebied in vyf toesprake), sy magtige dade (geïllustreer onder andere deur agtien wonderwerke) en sy simboolryke optredes (bv die reiniging van die tempel en die vervloeking van die vyeboom) wys onomwonde dat Hy die langverwagte Messias van die profetiese tradisie is.

Jesus is ook beide die “Seun van Dawid” (Matt 1:1 en nog agt ander kere só genoem) as die “Seun van God” (Matt. 14:33 en nog sewe ander kere só genoem, onder andere deur die duiwel, die dissipels en die Romeinse offisier en sy soldate by die kruisiging). Dit is titels wat beide sy menslike as sy Goddelike kant beklemtoon. Dié Jesus, sê Matteus, Hý is Koning beide as nakomeling van Dawid sowel as nakomeling van God.

Geen wonder dus dat dié evangelie die mees-gebruikte evangelie van die vroeë kerk was nie, soos ons aflei uit die feit dat die vroeë kerkvaders twee keer meer keer uit dié evangelie aanhaal in hulle geskrifte as uit die ander drie evangelies saam.

1Register van die afstamming van Jesus Christus, Seun van Dawid, Seun van Abraham.

2Abraham het Isak verwek, Isak het Jakob verwek, Jakob het Juda en sy broers verwek,

3Juda het Peres en Serag by Tamar verwek, Peres het Gesron verwek, Gesron het Ram verwek,

4Ram het Amminadab verwek, Amminadab het Nagson verwek, Nagson het Salmon verwek,

5Salmon het Boas by Ragab verwek, Boas het Obed by Rut verwek, Obed het Isai verwek,

6Isai het Dawid, die koning, verwek. Dawid het Salomo by die vrou van Urija verwek,

7Salomo het Rehabeam verwek, Rehabeam het Abia verwek, Abia het Asa verwek,

8Asa het Josafat verwek, Josafat het Joram verwek, Joram het Ussia verwek,

9Ussia het Jotam verwek, Jotam het Agas verwek, Agas het Hiskia verwek,

10Hiskia het Manasse verwek, Manasse het Amon verwek, Amon het Josia verwek,

11Josia het Jojagin en sy broers verwek ten tye van die Babiloniese ballingskap.

12Ná die Babiloniese ballingskap het Jojagin Sealtiël verwek, Sealtiël het Serubbabel verwek,

13Serubbabel het Abihud verwek, Abihud het Eljakim verwek, Eljakim het Asor verwek,

14Asor het Sadok verwek, Sadok het Agim verwek, Agim het Elihud verwek,

15Elihud het Eleasar verwek, Eleasar het Mattan verwek, Mattan het Jakob verwek,

16Jakob het Josef verwek, die man van Maria, by wie Jesus wat Christus genoem word, verwek is.

17Al die geslagte vanaf Abraham tot Dawid was dus veertien geslagte, en van Dawid tot die Babiloniese ballingskap veertien geslagte, en vanaf die Babiloniese ballingskap tot Christus veertien geslagte.

Teks en konteks

1:1-17 Matteus begin sy evangelie met die geslagsregister van Jesus Christus en sy geboorte (Matt 1:18-25) waarin gefokus word op beide die rol van Josef, sy aardse pa en die vervulling van die profesieë en beloftes van die OT. Dit gee ons antwoorde op die wat en die hoe vrae oor Jesus se historisiteit en uiteraard die teologiese betekenis daarvan, soos hfst 2 ons antwoorde gaan gee op die verdere waar en hoekom vrae (Hagner: Matthew) as voorbereidende begronding van Jesus se bediening waaroor hfst 3-4 gaan handel.

Matteus werk met die geslagsregister in drie groepe van 14 geslagte elk van Abraham tot by Dawid, van Dawid tot by Jojagin en van Jojagin tot by Jesus.

Dit kan wees dat Matteus iets met die getalle van sy onderskeie groepe in die geslagsregister wil sê, hoewel geleerdes baie verskil oor wat dit sou kon wees. Sommige dink dat Matteus eintlik ses groepe van sewe elk in die oog het, sodat Jesus die sewende groep kan inlei, in navolging van Daniël se sewe weke. Dit is egter baie moeilik om by hierdie oorspronklike bedoeling uit te kom. Nie een van die verklarings deur die eeue bevredig my werklik nie.

Die betekenis van die drie-deling van die veertien geslagte elk is duideliker, omdat Matteus daarmee die waarde van Abraham as die vader van die verbond met die Jode, Dawid se familie as uitverkore koningshuis van die Jode en die paradigmatiese betekenis van die Ballingskap as getuienis van God se verlossende oordeel, uitlig.

Matteus se geslagsregister word ook heeltemal anders weergegee as Lukas s’n (Luk 3:23-38). Lukas s’n word in omgekeerde volgorde gegee en loop terug tot by Adam, die “seun van God”, nie net tot by Abraham nie.

Die grootste verskil lê egter in die feit dat Lukas die afstamming via Dawid se seun Natan (een van Dawid se 11 kinders wat in Jerusalem gebore is, net ouer as Salomo – 2 Sam. 5:14) weergee en Matteus via Dawid se seun Salomo (dié een wat hom as koning opgevolg het).

Dit lyk dus asof Lukas met biologiese afstamming werk (die direkte lyn via Natan) en Matteus met die wettige koninklike afstamming (via Salomo).

Daar is ook heelwat geleerdes (op voetspoor van Luther) wat gedink het dat die een geslagsregister eintlik Maria se geslagsregister weergee (gewoonlik word aan Lukas s’n gedink) en die ander Josef s’n. Dit is egter onwaarskynlik omdat Lukas self die geslagsregister aankondig as dat Jesus Josef se seun is (Luk. 3:23). Hy werk dus nie met die afstamming via Maria nie (Hagner: Matthew).

Die insluiting van Jojagin is verrassend. Sowel as die insluiting van 4 vroue. Ek gaan dus net daarop kommentaar lewer.

Jojagin

Matteus gee sterk prominensie aan Jojagin gee. Daarmee wil hy waarskynlik juis die geskiedenis van die jong koning positief waardeer, soos dit inderdaad deur die Kronis ná die Ballingskap neergepen is.

Jojagin word op die jonge ouderdom van 18 jaar koning in Juda. Eintlik staan daar in die grondteks van Kronieke dat hy 8 jaar oud was (2 Kron 36)! Hy regeer net 3 maande lank voor Nebukadnesar hulle weer inval, met die wisseling van die jaar dws 596 vC. Die boek Konings skets vir ons ook ’n positiewe prentjie van dié koning en noem dat Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadnesar en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen).

Hoewel Jeremia aanvanklik baie skerp is in die oordele wat hy oor Jojagin uitspreek (Jer 22) het hy uiteindelik ook sagter woorde oor hom (Jer 24). Jeremia verwys na die mense wat agtergebly het in Jerusalem as die slegte vye en die ballinge (waaronder Jojagin) as die goeie vye in die bekende gesig wat hy in die tempel gesien het van die twee mandjies vye.

Die boek Konings sluit hierby aan en vermeld dat na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, hy begenadig is, vrygelaat is en van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon 25:27-29; Jer 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het.

’n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie. Jojagin word dus uiteindelik positief bejeën in die OT. Matteus volg dus waarskynlik dié interpretasie lyn in sy eie beoordeling en insluiting van Jojagin in sy geslagsregister.

Vier vroue

Wat verder merkwaardig is van Matteus se weergawe van die geslagsregister is dat hy vier vroue daarin opneem – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija – anders as Lukas wat net die manlike voorvaders noem.

Soos in Kronieke vermy Matteus die naam van Batseba, die vrou van Urija, waarskynlik om ook aan Urija prominensie te verleen en sy beginselvastheid te beklemtoon, eerder as om noodwendig negatief oor haar te wees. Die Kronis noem haar Bat-Sua, dieselfde naam as een van Juda se vroue, dws ’n stammoeder, wat ook positief interpreteer kan word (1 Kron 3:3).

Al vier dié vroue het ’n interessante geskiedenis waarin 1) hulle afkoms van ander volkere, 2) hulle verstommende inisiatief en wysheid sowel as 3) God se genade om hulle te seën, uitstaan:

  • Tamar, waarskynlik ’n Kanaänitiese vrou, verlei haar skoonpa Juda deur haar te vermom as ’n prostituut, en hou hom dan op baie slim wyse aan sy beloftes ten spyte van die gevaar vir haarself (Gen 38);
  • Ragab, die prostituut en ’n vrou van Kanaän, red die twee verspieders in Jerigo met groot teenwoordigheid van gees ten spyte van die gevaar vir haar eie lewe (Jos 2);
  • Rut, die Moabiet, nader Boas as Losser ten spyte van die moontlikheid dat sy verwerp kan word (die boek Rut);
  • Batseba, moontlik ’n Hetitiese vrou (Urija was van Hetitiese afkoms), die een met wie Dawid owerspel gepleeg het, sorg dat Salomo die koningskap verkry wat Dawid belowe het, ten spyte van die moontlikheid dat dit kan boemerang op hulle; ons het geen ander getuienis as haar eie dat hy dit belowe het nie (2 Sam 12 en 1 Kon 1-2)!

Betekenis en boodskap

  1. Neem enige van die vier vroue óf Jojagin en dink na oor die bydrae wat hulle maak tot die geslagsregister van Jesus. Watter bydrae kan jou lewe maak in die voortgaan van hierdie geslagsregister waarin elke kind van God ‘n deel het? Laat hierdie belofte van Paulus aan elke gelowige wat in Jesus glo jou oortuig van die bydrae wat jou lewe kan maak:

“Want julle almal is kinders van God deur die geloof, in Christus Jesus, want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus geklee. Daar is nie Jood of Griek nie, daar is nie slaaf of vry mens nie, daar is nie man en vrou nie, want julle almal is een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham, en erfgename volgens die belofte.” (Gal 3:26-29).

LUKAS 2:1-7 – Jesus word gebore in Betlehem

1Dit het gebeur in daardie dae dat ’n dekreet van keiser Augustus uitgegaan het dat die hele wêreld geregistreer moes word.

2Hierdie eerste sensus het plaasgevind toe Sirenius oor Sirië goewerneur was.

3En almal het gegaan om geregistreer te word, elkeen na sy eie stad toe.

4En ook Josef het opgegaan vanaf Galilea uit die dorp Nasaret na Judea, na die stad van Dawid wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en nageslag van Dawid was,

5om geregistreer te word saam met Maria wat aan hom verloof was, wat swanger was.

6Dit het gebeur terwyl hulle daar was dat die tyd vir haar gekom het om geboorte te gee,

7en sy het geboorte gegee aan haar eersgebore Seun, en sy het Hom in doeke toegedraai en Hom neergelê in ’n krip, omdat daar nie vir hulle plek was in die herberg nie.

Continue reading

LUKAS 1:67-80 – Sagaria profeteer dat Johannes voor die Here sal uitgaan om sy paaie gereed te maak

67En Sagaria, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en hy het geprofeteer en gesê:

68“Die Here, die God van Israel, moet geprys word, omdat Hy sy volk opgesoek en vir hulle bevryding bewerkstellig het, 69en ’n reddende krag vir ons voorsien het in die huis van sy kneg Dawid, 70net soos Hy gesê het by monde van sy heilige profete van die vroegste tye af, 71redding van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat, 72deur barmhartigheid te bewys aan ons vaders en sy heilige verbond te onthou, 73die eed wat Hy gesweer het aan Abraham ons voorvader, om te gee dat ons, 74nadat ons gered is uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien 75met toewyding en opregtheid voor Hom al ons dae.

76En jy, kind, ’n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitgaan om sy paaie vir Hom gereed te maak, 77om kennis van redding vir sy volk te gee deur die vergifnis van hulle sondes

78op grond van die innige barmhartigheid van ons God, waarmee die Môreson uit die hoogte ons sal besoek,

79om te skyn op dié wat sit in duisternis en in die skaduwee van die dood, om ons voete te lei na die pad van vrede.”

80En die kind het gegroei en sterk geword deur die Gees, en hy het in die woestyngebiede geleef tot op die dag van sy openbare verskyning aan Israel.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda