Skip to main content

LUKAS 1:26-38 – Gabriël kondig Jesus se geboorte vir Maria aan

Dit is vanselfsprekend dat die volgende aankondiging dié van die Here Jesus Christus se geboorte sal wees. Dit vind plaas so ses maande ná die aankondiging van Johannes die Doper se geboorte, gedurende die loop van ongeveer 6 vC.

26In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ’n dorp in Galilea met die naam Nasaret, 27na ’n maagd wat verloof was aan ’n man met die naam Josef, uit die huis van Dawid, en die naam van die maagd was Maria.

28En toe hy aankom by haar het hy gesê: “Wees gegroet, begenadigde, die Here is met jou.” 29Sy was uit die veld geslaan oor die woorde en het gewonder watter soort groet hierdie kon wees.

30En die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade gevind by God. 31En kyk, jy sal swanger word en jy sal geboorte gee aan ’n seun en jy moet sy naam Jesus noem. 32Hy sal groot wees en Seun van die Allerhoogste genoem word, en die Here God sal vir Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar nie ’n einde wees nie.”

34En Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan dit wees, aangesien ek nie gemeenskap met ’n man het nie?” 35En die engel het geantwoord en vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou soos ’n skaduwee bedek; en daarom ook sal die Een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36En kyk: Elisabet, jou familielid, is self ook in haar ouderdom swanger met ’n seun en hierdie is haar sesde maand, sy wat onvrugbaar genoem is; 37omdat geen ding by God onmoontlik is nie.”

38Maria het gesê: “Hier is die slavin van die Here. Laat met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.

Teks en konteks

1:26-27 Lukas begin dus sy evangelie met die belofte van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus die Verlosser. ‘n Belofte wat binne ‘n jaar vervul is vir twee Godsvroue, Elisabet en Maria.

Dit is hoe God werk. Hy gee ‘n belofte. Hy vertel vir ons vooraf hoe dinge gaan werk; wat Hy gaan doen. En dan vervul Hy die belofte; gee Hy wat Hy belowe. Soms vat dit eeue vir die vervulling. Soms net nege maande.

Jesaja het reeds in die 8ste eeu vC die belofte gegee: “Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem. (Jes 7:14 – OAV)

Hierdie belofte het deur die eeue die verwagting na ‘n Messias verhoog en gedra. Dit het die vroeëre belofte aan Dawid, in die tiende eeu vC, dat die Here vir hom ‘n huis sou bou, ‘n koninkryk, versterk (2 Sam 7). Dit het die verwagting dat ‘n Koning op Dawid se troon sal sit, wat volkome vrede en voorspoed sal bring, lewend gehou (Jes 9:7).

Hierdie Koning sou beide die seun van Dawid wees en die Seun van God (vgl in die OT: Jes 4:2; Ps 2:7; 45:6; 110:1; vgl in die NT: Matt 22:41-45; Hand 2:22-36; 13:33; Rom 1:4; Hebr 1:5; 5:5). En Hy sou uit ‘n maagd gebore word.

1:28-29 Die engel noem Maria, “begenadigde, die Here is met jou.” Watter lewensveranderende woorde. Nie net word die groete van die hemel aan Maria oorgedra nie, maar sy word “begenadigde” genoem. Geen wonder Lukas skryf in vers 29 dat sy uit die veld geslaan was nie.

Dit is wat die beloftes van die Here telkens doen. Sy woorde verstom ons. Dat beloftes uit die tiende eeu vC aan Dawid – en uit die agste eeu vC aan Jesaja, en uit al die eeue daarna aan die ander profete, en ook uit die Psalms – aan ‘n jong maagd in 6 vC vervul kan word, dit is verbysterend.

1:30-33 Gabriël besweer Maria se vrees vir wat met haar gaan gebeur in die eerste plek met die feit dat sy genade gevind het by God. Dit moet al genoeg wees vir haar. God se belofte is sy genade. Dit maak van ons begenadigdes.

Maar die engel sê ook dat sy nie bang moet wees nie. ‘n Refrein regdeur die Bybel. ‘n Refrein wat Jesaja ook met die gee van die belofte in Jesaja 7:9 herhaal het. Letterlik staan daar in die Hebreeus: “Julle moenie vrees nie, net vertrou.”

Dit is die reaksie wat God soek by ons as ons sy beloftes hoor, dat ons van vrees na vertroue sal beweeg. Die vrees is natuurlik. Die vertroue is noodsaaklik.

Gabriël help Maria met die vertroue in die tweede plek deur ‘n kort opsomming te gee van die Bybelse boodskap van die belofte van die Messias. Sy sal swanger word, soos Jesaja 7:14 voorspel het. Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word, soos 2 Samuel 7:14 voorspel het. God sal vir Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal vir altyd Koning wees, aan sy koninkryk sal daar nie ‘n einde wees nie, soos 2 Samuel 7:16 voorspel het.

Gabriël se woorde is deurspek van beloftes uit die OT wat die vrese van hierdie vrou in vertroue laat verander. Soos dit altyd vir die kinders van die Here is. Die Woord gee ons vaste grond om die Here te vertrou.

1:34 Let op hoe Maria in haar vraag aan die engel net oor die konkrete vervulling van die belofte praat. Anders as Sagaria wat die engele se woorde betwyfel het. Sy wil net: “Hoe kan dit wees …”

1:35-37 Gabriël se woorde het eggo’s van Psalm 91, die Psalm wat praat van die beskerming van die Allerhoogste in wie se skaduwee ons kan vernag, in wie ons ‘n toevlug het, op wie ons kan vertrou.

Terloops, dit is ook die Psalm wat die duiwel gebruik om Jesus mee te versoek … die toppunt van boosheid (Luk 4:10-11 wat Ps 91:11-12 aanhaal: “Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.”)

Hierdie God kom egter nader aan Maria as aan enige mens voor haar. Die Heilige Gees sal oor haar kom, die krag van die Allerhoogste sal haar soos ‘n skaduwee bedek … en dan sonder om verder uit te brei, word oor die geboorte van Jesus gepraat, die Heilige, die Seun van God.

Gabriël sluit sy boodskap af aan Maria deur van Elisabet se wonder-swangerskap te praat, as ‘n getuienis daarvan dat geen ding by God onmoontlik is nie. Geen ding. Niks!

Weereens, onthou dat hierdie aankondiging die tweede belangrike profesie is in die NT wat vervul is met die geboorte van Jesus. Dit is nie net die profesieë van die OT wat dus met Jesus se geboorte ‘n rol speel nie. Dit is ook hierdie aankondiging van Gabriël aan die jongvrou Maria.

1:38 Maria se gehoorsaamheid gee haar nie net die uitverkore posisie as moeder van Jesus nie, maar maak haar die eerste volgeling, trouens dissipel, wat gekenmerk word deur ‘n absolute verbintenis dat God se wil in hulle lewens sal geskied: “Laat met my gebeur volgens u woord.”

Betekenis en boodskap

  1. Dit is ‘n ongelooflike ryk gedeelte. Van belofte en vervulling. Van vrees na vertroue. Van die rus wat in die belofte van Psalm 91 gevind kan word. Van die feit dat niks by God onmoontlik is nie. Van ‘n dissipelskap wat niks terughou nie. Dink hieroor na en wy jou op dieselfde wyse aan God toe.
  2. God se beloftes is die basis vir ons dissipelskap. Die hele Skrif is vol van beloftes! Herbert Lockyer het 7 487 spesifieke beloftes van God aan mense in die Bybel gevind (All the Promises of the Bible). Paulus verklaar daaroor: “Want hoeveel beloftes van God daar is, in Hom is dit ja; daarom is dit ook deur Hom ‘Amen’ tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Kor 1:20). Watter beloftes van die Here spreek jou tans aan? Aan watter beloftes het jy tans behoefte? Bring jou lewe gedurig voor die Here in gebed en merk telkens die beloftes wat jy in die loop van die reis deur die evangelies gaan raak lees. Laat dié beloftes deel van jou gebede raak.

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jesus se geboorte en kinderjare


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.