LUKAS 1:39-45 – Elisabet word met die Heilige Gees vervul toe Maria haar besoek
Die volgende plek op ons reis is in die heuwelland van Judea waar Maria vir Elisabet gaan kuier.
39Maria het in daardie dae gereedgemaak en haastig na die heuwelland toe gegaan, na ’n dorp in Judea, 40en sy het ingegaan in die huis van Sagaria en Elisabet gegroet.
41En dit het gebeur toe Elisabet die groet van Maria hoor, dat die baba in haar skoot beweeg het van vreugde, en Elisabet is vervul met die Heilige Gees, 42en sy het met ’n groot kreet uitgeroep en gesê:
“Geseënd is jy onder vroue en geseënd is die vrug van jou skoot. 43En hoekom gebeur dit met my dat die moeder van my Here na my toe kom? 44Want kyk, toe die klank van jou groet my ore bereik, het die baba van vreugde in my skoot beweeg. 45En gelukkig is sy wat geglo het dat daar vervulling sal wees van die dinge wat vir haar deur die Here gesê is.”
Teks en konteks
1:39-40 Maria reageer onmiddellik op die inligting wat die engel haar oor Elisabet gee. Waarskynlik omdat sy só die boodskap aan haar verder sou kon bevestig, maar ook omdat sy so in die ander wonder sou kon deel.
1:41-45 En Maria kry nog ‘n dieper bevestiging as net dat die engel se woorde vervul sou word. Elisabet kry woorde van die Heilige Gees, en noem Maria “moeder van my Here” sonder dat Maria nog enigsins begin vertel het van wat die engel gesê het. En sy noem Maria gelukkig (eulogêmenos – letterlik: [mense sal] goedpraat [oor jou]) omdat sy die boodskap aan haar geglo het.
Let op dat die Een wat die belofte gegee het, en die Een wat gebore sou word, met dieselfde naam, Here, genoem word. Dit bevestig nie net die belofte nie, maar ook die Godheid van Jesus.
Dit is betekenisvol dat die eerste mens in die NT wat met die Heilige Gees vervul word, ‘n vrou is, die kinderlose Elisabet, en dat sy en haar man albei regverdig voor God geleef het, onberispelik was in die wet, die gebooie en voorskrifte van die Here.
Wat verder wonderlik is van Elisabet se lofsang is die blydskap wat dit uitstraal oor die belofte wat twee ongebore kinders vir die wêreld inhou. Die Heilige Gees het Elisabet vervul sodat sy verder kon sien, soos ‘n Maleagi van ouds, as maar net die wonder van hulle onderskeie swangerskappe.
Ja, Elisabet was bly dat Maria geseënd is as vrou. Sy sou aan ‘n kind geboorte skenk. Selfs die ongebore Johannes was bly oor die gawe aan Maria. Hy het in Elisabet se skoot van vreugde opgespring. Elisabet was ook bly dat Maria gehoorsaam was, dat sy die dinge geglo het wat die Here vir haar gesê het.
Dit onderstreep die fokus op vreugde wat ons regdeur Lukas en Handelinge gaan sien.
- Die vier lofsange van Elisabet, Maria, Sagaria en die engele sowel as die reaksie van die herders bevestig dit. Later kom ook die lied van Simeon.
- Die goeie nuus van die evangelie laat mense gereeld in vreugde reageer – Lukas sluit bv sy evangelie daarmee af.
Maar die diepste blydskap was dat die Here self in die ongebore kind van Maria na haar toe gekom het. Twee verwagtende Godsvroue wat twee ongebore Godsmanne dra.
Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie deur die belofte van twee ongebore kinders. Dink net wat hierdie twee kinders sou kon regkry ná hulle geboorte?
Betekenis en boodskap
- ‘n Mens kan die betekenis van hierdie gedeelte ontgin deur op Maria, Elisabet of selfs Johannes te fokus. Óf die rol van die Heilige Gees te oordink. Dit is in sy vervulling wat die groot dinge van God beleef word.
- Dink veral daaraan dat Jesus as ongebore kind hier deur Elisabet as “Here” erken word. Dit is wat ook met jou gebeur in die lees van hierdie gedeelte. Jesus wil as Here jou lewe vol blydskap maak, jou laat spring van vreugde – die Verlosser is hier!
- Verpersoonlik die loflied van Elisabet vandag vir jouself, skryf dit neer, en neem dit as gebed saam met jou. Bv:
“Geseënd is Maria onder die vroue. Geseënd is die vrug van haar skoot. Die Here het ook na my toe gekom. Dit beweeg my tot vreugde. Gelukkig is elkeen wat glo dat die Here sy beloftes vervul. Ook ek sal só gelukkig wees.”
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jesus se geboorte en kinderjare
Onlangse kommentaar