LUKAS 2:8-20 – Die herders hoor die goeie nuus van die geboorte van Christus die Here
8En daar was herders in dieselfde omgewing wat buite gebly het en in die nag waggehou het oor hulle kudde.
9En ’n engel van die Here het skielik by hulle kom staan en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn, en hulle was vreeslik bang.
10En die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring goeie nuus vir julle van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,
11dat vandag vir julle in die stad van Dawid die Redder gebore is, wat Christus die Here is.
12En dit is vir julle die teken: julle sal ’n baba kry wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.”
13En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leër wat God prys en sê:
14“Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde onder die mense
in wie Hy ’n welbehae het.”
15En dit het gebeur dat toe die engele van hulle af weggegaan het na die hemel, die herders vir mekaar gesê het: “Kom ons gaan nou reguit na Betlehem en sien hierdie ding wat gebeur het wat die Here aan ons bekendgemaak het.”
16En hulle het haastig gegaan, en hulle het Maria en Josef gevind, en die baba wat in die krip lê.
17Toe hulle dit sien, het hulle vertel van die woord wat vir hulle gesê is oor hierdie Kind.
18En almal wat dit gehoor het, was verbaas oor die dinge wat deur die herders aan hulle vertel is.
19Maar Maria het al hierdie woorde bewaar en daaroor nagedink in haar hart.
20En die herders het teruggekeer terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos dit aan hulle vertel is.
Teks en konteks
2:8 Die boodskap van Jesus kring uit na die herders wat met die boodskap van die engele hulle na Maria en Josef haas.
Dit is betekenisvol dat die eerste Jode wat die boodskap van Jesus hoor juis die herders is, nie die elite in Jerusalem nie. Trouens, ‘n maand en ‘n half (41 dae) ná die geboorte sal Jesus in Jerusalem wees waar Hy aan die Here gewy sal word, sonder dat Herodes of die priesterhoofde en skrifkenners iets agterkom. Net Anna en Simeon sal die toewydingsgeleentheid van die Verlosser van die wêreld saam met sy ouers vier. Die wyse manne is nog op pad …
2:9-12 Die engele bring ‘n boodskap van groot blydskap wat nie net vir die hele volk sal wees nie (2:10), maar vir al die mense van die aarde in wie God ‘n welbehae het (2:14). Lukas beklemtoon van die begin af die genade wat vir alle mense betekenis inhou.
“Goeie tyding” vertaal die Griekse woord “evangelie”. Dit is wat die geboorte van Jesus vir die wêreld gaan inhou. Die teken dat dit só is, is die baba wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip in die stad van Dawid lê.
Die engel noem Jesus met drie name wat sy hele bediening stempel:
- Verlosser – dit is ’n sinoniem vir die naam Jesus wat ook Verlosser of Redder beteken en wat dui op die doel van sy koms. Hy het gekom om mense van hulle sondes te verlos en hulle te heilig deur die werk van die Heilige Gees.
- Christus – Gesalfde of Messias waarmee by die verwagting van Israel soos deur die profete aangekondig, aangesluit word. Hy het gekom om namens ons ons sondes voor God te versoen sodat ons in die vergifnis en genade kan floreer wat Hy vir ons deur sy kruisdood verwerf.
- Here – kurios – die Griekse woord wat Jode gebruik het om die Hebreeuse naam vir God in die OT, JAHWE, te vertaal, en waarmee Jesus se Goddelike status aangedui word. Here is ‘n persoonsnaam vir Jesus wat sy Goddelike status aandui sowel as ‘n titel wat sy Goddelike gesag aandui. Hy is God en Hy word gehoorsaam as God.
2:13-14 ‘n Magtige leërskare engele verskyn om God te prys en sy Naam te eer, want Hy het met hierdie geboorte vrede kom bring onder die mense in wie Hy ‘n welbehae het. Vers 14 is talle kere deur die eeue getoonset in van die mooiste van ons liedereskat.
2:15-20 Die herders laat nie gras onder hulle voete groei nie, en vertrek na Betlehem om die boodskap te bevestig. En inderdaad, die boodskap was eg. Let op hoe hulle vertel van “die woord” wat vir hulle gesê is oor die Kind. Hierdie Kind sou die Woord van God wees.
Die nuus bring verwondering by almal wat dit gehoor het met Maria wat nog meer spesifiek die woorde in haar hart gebêre het en telkens weer daaroor nagedink het.
Dit is hoe dit telkens met ‘n “woord” van die Here werk. Daar is altyd verdere en voortdurende nadenke nodig om die betekenis daarvan te kan begryp. Die Here werk ook daarin mee deur verdere bevestigings wat Hy gee op die pad wat ‘n mens met Hom loop.
Dit is duidelik dat die herders onmiddellik ingespan word as getuies vir God se boodskap wat ‘n beweging in die platteland begin vóór Jerusalem en die elite bewus word hiervan.
Betekenis en boodskap
- Die evangelie word menigmaal die beste voortgeplant deur eenvoudige getuies. Die elite is baie keer juis ‘n bron van weerstand teen die evangelie soos ons net hierna van Herodes-hulle al kennis neem. Hoe dit ook al sy, jy is ook ‘n getuie van hierdie verhaal. Jy het ook die “woorde” van God. Wie in jou omgewing moet dit nog hoor? Wat kan jy doen om die nuus ook verder te laat versprei?
- Die name van God in die Bybel het ‘n besondere betekenis. Dit beskryf wie Hy is, en wat Hy doen. Oordink die betekenis wat hierdie drie name of titels van Jesus vir jou het: Verlosser, Christus, en Here. Soos die engele en herders beweeg hierdie name ons tot aanbidding en lofprysing, tot gebed en getuienis.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jesus se geboorte en kinderjare

Louisa Meyer
Die wyse manne is nog op pad … verduidelik asb, het hulle nie ook na die stal gekom nie?
Chris van Wyk
Hulle besoek vind duidelik ‘n tyd ná die geboorte van Jesus plaas. Die sterrekundiges gaan “in die huis” in (Matt. 2) om voor Jesus neer te kniel en Hom te aanbid. Josef-hulle het dus ‘n geruime tyd in Betlehem gebly vóór hulle eers na Egipte toe uitgewyk het, en daarna in Nasaret gaan bly het. Ons lees dit binnekort.
Barry Taylor
Waarom is die geboortedatum van jesus nie bekend maar wel van ander mense van sy tyd
Daar word ook gepraat dat hy broers en susters gehad het
Wat het van hulle geword en waar is hulle nageslagte.
Van watter land het die drie wyse manne gekom later gekom en waar het hulle die woord versprei
Waarom verskyn die engele niemeer om te bewys daar is wel engele.
Waaraan het die mense wie voor die geboorte van die beweerde jesus
Waarom glo die Jode nie in sy beweerde lewe en sterwe in Palestina
Die vrae pla my al van 1960 af
Chris van Wyk
Hi, die jaartelling waarvolgens ons datums meet, is eers lank ná Jesus se geboorte vasgestel, so dit is ‘n komplekse berekening wat met baie aannames werk. Jesus se broers en susters se verhale is nie opgeteken nie, behalwe ‘n bietjie detail oor Judas en Jakobus, wat ook twee van die briewe in die NT geskryf het. Die drie wyse manne het van die ooste af gekom, en daar is legendes oor hulle opgeteken, maar nie veel vaste historiese detail nie. Engele hoef nie te verskyn om hulle bestaan te regverdig nie. Hulle tree wel op soos ons uit Hebreërs 13 onder andere kan agterkom. Die Jode kan nie met die historiese gegewens van Jesus se lewe, dood en opstanding stry nie, maar die ongelowiges Jode glo uiteraard nie in Hom nie.