Skip to main content

LUKAS 2:1-7 – Jesus word gebore in Betlehem

1Dit het gebeur in daardie dae dat ’n dekreet van keiser Augustus uitgegaan het dat die hele wêreld geregistreer moes word.

2Hierdie eerste sensus het plaasgevind toe Sirenius oor Sirië goewerneur was.

3En almal het gegaan om geregistreer te word, elkeen na sy eie stad toe.

4En ook Josef het opgegaan vanaf Galilea uit die dorp Nasaret na Judea, na die stad van Dawid wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en nageslag van Dawid was,

5om geregistreer te word saam met Maria wat aan hom verloof was, wat swanger was.

6Dit het gebeur terwyl hulle daar was dat die tyd vir haar gekom het om geboorte te gee,

7en sy het geboorte gegee aan haar eersgebore Seun, en sy het Hom in doeke toegedraai en Hom neergelê in ’n krip, omdat daar nie vir hulle plek was in die herberg nie.

Teks en konteks

Nadat Lukas in hoofstuk 1 verhale vertel het wat nie in die ander evangelies voorkom nie – verhale wat sentreer om die aankondigings rondom Johannes en Jesus en die reaksies wat dit by Maria, Elisabet en Sagaria uitlok – sluit hy in hoofstuk 2 dieselfde verhaal as Matteus (1:18-25) oor die geboorte van Jesus in. Die res van die hoofstuk is daarna weer eie verhale, wat nie in die ander evangelies voorkom nie.

2:1-3 Lukas verbind die verhale van die Verlosser aan die gebeure op die wêreldfront ter wille van die konteks daarvan. Hy noem keiser Augustus (regeer van 27 vC tot 14 nC) en goewerneur Sirenius van Sirië. Eersgenoemde omdat Palestina deel van die Romeinse ryk was, en laasgenoemde omdat hy waarskynlik die hele Palestynse gebied se volkstelling gereël het (volgens sommige historici was Quirenius Varus toe goewerneur, met Sirenius waarskynlik ’n militêre veldheer wat Varus bygestaan het).

Die volkstelling het in 8-6 vC plaasgevind, wat min of meer die tyd is toe Jesus gebore is. Hierdie volkstelling, sê Lukas, was die eerste van sy soort. Daar was ook ‘n tweede volkstelling (Hand 5:37) toe daar ‘n volksopstand was deur Judas, die sogenaamde Galileër.

2:4-5 Bethlehem – 85 km van Nasaret af en 8 km suid van Jerusalem – is die stad van Dawid. Die naam is nogal betekenisvol. Die naam beteken letterlik: “huis van brood” en is die plek waar Rut en Naomi (in die Rigterstyd) nie net fisiese brood gekry het nie, maar Rut, die Moabiet, ook met haar troue met Boas Jesus se voorouer geword het.

Gegewe dat Josef-hulle arm was – hulle kon net twee duiwe bekostig eerder as ‘n lam met hulle offer by die tempel – is dit heel waarskynlik dat dié reis te voet afgelê is. Die idee van ‘n donkie vir die reis kom uit die tradisie van hierdie gebeure, nie uit die Bybel self nie.

2:6-7 Let ook op dat Jesus gebore word in nederige omstandighede in ‘n krip. Ironies, gegewe die betekenis van dié geboorte! Daar was egter nie vir hulle plek in die normale akkommodasie nie.

Waarskynlik word hier verwys na ‘n gastekamer by familie – waar daar nie vir hulle plek was nie – eerder as na ‘n herberg. ‘n Ander Griekse woord (kataluma) word hier gebruik as dié vir herberg (pandocheion – vgl Luk 10:34 waar verblyf in ‘n herberg vir die man wat onder die rowers geval het, deur die barmhartige Samaritaan verskaf word).

Die geboorte vind waarskynlik ook plaas in ‘n grot wat aan die huis of langs die huis vir die diere gebruik is, nie ‘n stal per se nie, soos die kerkvader Justinus die Martelaar vroeg in die 2de eeu nC skryf.

Later sal hulle egter in ‘n huis in Betlehem bly.

Betekenis en boodskap

  1. Ons lewens vind altyd plaas teen die agtergrond van wat in die wêreld, ons land en gemeenskap gebeur. Dink na, soos Lukas, oor wat aan die gang is in hierdie drie sirkels van jou lewe. Lees daaroor, dink ná daaroor, en skryf in jou joernaal die dinge wat jou tref daarvan neer. Hou vol daarmee, want die betekenis van die gebeure kom in die herhaalde besig wees daarmee.
  2. Bid oor die impak van gebeure in die wêreld, ons land en jou gemeenskap op jou lewe. Bid oor die impak wat jy ook daarop kan hê. Oorweeg hoe die Here jou wil gebruik in dié dinge waarop jy ‘n invloed kan uitoefen. Moenie die effek van gehoorsaamheid onderskat in ‘n tyd van ontwrigting nie. Maria-hulle eindig in ‘n stal in baie moeilike omstandighede … en die Verlosser van die wêreld maak sy opwagting!

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jesus se geboorte en kinderjare


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda