LUKAS 1:67-80 – Sagaria profeteer dat Johannes voor die Here sal uitgaan om sy paaie gereed te maak
67En Sagaria, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en hy het geprofeteer en gesê:
68“Die Here, die God van Israel, moet geprys word, omdat Hy sy volk opgesoek en vir hulle bevryding bewerkstellig het, 69en ’n reddende krag vir ons voorsien het in die huis van sy kneg Dawid, 70net soos Hy gesê het by monde van sy heilige profete van die vroegste tye af, 71redding van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat, 72deur barmhartigheid te bewys aan ons vaders en sy heilige verbond te onthou, 73die eed wat Hy gesweer het aan Abraham ons voorvader, om te gee dat ons, 74nadat ons gered is uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien 75met toewyding en opregtheid voor Hom al ons dae.
76En jy, kind, ’n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitgaan om sy paaie vir Hom gereed te maak, 77om kennis van redding vir sy volk te gee deur die vergifnis van hulle sondes
78op grond van die innige barmhartigheid van ons God, waarmee die Môreson uit die hoogte ons sal besoek,
79om te skyn op dié wat sit in duisternis en in die skaduwee van die dood, om ons voete te lei na die pad van vrede.”
80En die kind het gegroei en sterk geword deur die Gees, en hy het in die woestyngebiede geleef tot op die dag van sy openbare verskyning aan Israel.
Teks en konteks
1:67 Die profesie van Sagaria word deur die eeue die Benedictus genoem. Dit kom van die eerste woord van sy loflied in die Latynse vertaling: “Blessed be the Lord”.
Sagaria profeteer onder leiding van die Heilige Gees:
- oor die Verlosser wat volgens die belofte die volk weer toegewy (heilig) en opreg (regverdig) en sonder vrees vir hulle vyande sal laat lewe (1:68-75), en
- oor die Voorloper, Johannes (die naam beteken God is genadig), wat die pad vir Hom sal voorberei, interessant genoeg om hulle deur vergifnis en die lig wat Hy gee op die pad van vrede te laat loop (1:76-79).
1:68-75 Sagaria se loflied het ‘n aantal aanhalings of toespelings uit die Psalms (18:2; 105:8-9; 106:9-10; 148:4) en die profete, veral Jesaja (9:1-2; 11:1-10; 40:3). God kom hulle van hulle vyande verlos deur hierdie Verlosser. Hy sal hulle kom bevry van almal wat hulle haat, wat hulle verbintenis aan God wil verbreek. God kom hulle deur hierdie Verlosser bevry dat hulle Hom “sonder vrees kan dien met toewyding en opregtheid voor Hom.” “Al ons dae”! (vers 74-75)
En hierdie toesegging gaan terug op die verbond met Abraham (Luk 1:73 – Gen 12:1-3; 17:1-27) en die belofte aan Dawid (Luk 1:69 – 2 Sam 22:3). Want aan hulle het God belowe dat Hy ‘n ruimte sal gee waar hulle God kan dien, sonder om bang te wees vir hulle vyande, waar hulle geseënd kan wees, en tot ‘n seën vir ander sal wees. God het belowe dat Hy sal afreken met die sonde, die vyand van binne.
Heilig en opreg – “met toewyding en opregtheid voor Hom” – dit is God se doel met sy volk. In ‘n noue verhouding met Hom, so heilig soos Hy is, en onberispelik na buite in die gemeenskap.
Die feit dat Sagaria profeteer dat dié Verlosser uit die huis van Dawid sou kom, is betekenisvol, want dit versterk die idee dat Maria ‘n verbintenis met die stam van Juda gehad het. Dit beïnvloed die interpretasie van Jesus se geslagsregister, soos ons later gaan hanteer.
1:76-79 Daarvoor, sê Sagaria, het God hulle ook van hulle sonde kom verlos. Om hulle te leer hoe om uit die duisternis van die sonde, “die skaduwee van die dood” te beweeg na die pad van vrede, waarin hulle sonde vergewe is, en hulle die lig van die Môreson, ‘n beskrywing van die Here Jesus (Mal 4:2; 2 Pet 1:19), kan lewe (vers 76-79).
Vrede beskryf hier die kalmte van hart wat God bring, en die krag van oortuiging om sy wil te doen in die lewe.
En Johannes sal die voorloper wees, die een wat die volk sal voorberei om die verlossing te ontvang wat die Messias sal bring.
1:80 Johannes het grootgeword en is geestelik versterk (bekragtig deur/in die g[G]ees). Dit kan geestelik of Geestelik verstaan word. Maar let op, dat sy openbare bediening eers gebeur op die tyd wat God bepaal. Daar is vir hierdie voorloper ’n tyd van voorbereiding nodig soos dit ook was met heelwat ander Godsfigure, Moses en Dawid in die OT, en in die NT Jesus en Paulus.
Betekenis en boodskap
- Die oorheersende indruk van die eerste hoofstuk van Lukas, wat ons nou klaar gelees het, is vir my die leidende rol wat God deur sy Heilige Gees speel in die praktyk en roeping van elkeen van die gelowiges wat hier genoem word se lewens. Hy bring vernuwing en verandering.
- Wat ook tref, is dat Jesus voor sy geboorte al die Lig genoem. Die lig wat die pad wat ons loop, sal bepaal. Jesus is die anatolê, die hemelse lig, wat – soos Johannes ook in sy evangelie se proloog, hfst1, sal skryf – alles verander. Jesus is ons Leidsman. Niemand anders nie.
- Die leidende motief in die verhale van die gelowiges wie se verhale hier vertel word, laat my ook besef dat daar ‘n unieke pad is wat Jesus vir elkeen van ons het, waar ons in die lig lewe wat Hy oor ons pad gooi. En dat dit ons strewe moet wees om alles wat ons doen doelbewus in Sy lig te bring. Vrede het nie in die eerste plek te make met die afwesigheid van stryd nie, maar het te make met die bewussyn dat ons in God se wil (lig) lewe. God se lig rig ons voete na die pad van vrede. Om heilig en opreg voor Hom te lewe.
- Dink vandag ná oor die unieke pad waarop die Here jou gelei het van jou geboorte regdeur al die verskillende stasies op jou lewensreis, hoe lank of hoe kort jy ook al van sy hand in jou lewe bewus is. Vrede lê in die aanvaarding van jou rol as voorloper of verlosser, by wyse van spreke: soos Johannes, die Doper en soos Jesus, die Christus. Uiteraard net in die voorbeeld daarvan in hulle lewens, nie in die detail daarvan nie.
Wat ruk jou van jou eie verhaal? Wat troos jou daarvan? Waarheen is die Here tans besig om jou te lei?
- Dink ook na oor die vrede waarvan Sagaria hier praat. Dit is beide ‘n kalmte van hart wat God bring, en die krag van oortuiging om sy wil te doen in die lewe. Bid daarvoor, soos Paulus in Filippense 4:4-7 aanbeveel. Laat dit jou begelei in die besluite wat jy op jou lewenspad neem.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jesus se geboorte en kinderjare

runawayjoyous2427b27b07
Lukas 1:67-80. Chris, jy stel 3 vrae in die gedeelte. Wat ruk my in my eie verhaal? Dat ek as kind gemolesteer is en as gevolg daarvan soveel verkeerde keuses gemaak het. Wat troos my? Dat God my nooit laat gaan het nie , my met geduld en liefde op Sy pad van verlossing gelei het. Wat is Sy plan met my? Ek moet die verlede laat gaan en almal vergewe wat my seergemaak het. En ek moes ook myself vergewe. En lewe in Sy lig. Dankie vir hierdie boodskap. Erna.
Chris van Wyk
Dankie dat jy dit met ons deel.