Deuteronomium 19 – Eerbied vir die lewe, grenslyne en waaragtige getuienis word beveel

Na Moses se aandag aan die publieke – (regters, konings) en godsdienstige sisteme (priesters en profete) lê hy die tweede tafel van die wet verder uit. Die aandag aan die gesagstrukture van die publieke en godsdienstige dele van die samelewing in hoofstuk 17-18 was intiem verweef aan die vyfde gebod aan kinders om hulle ouers te eer, om hulle vaders en moeders “gewig” in die lewe te gee. Sonder ‘n gesonde onderwerping aan gesagstrukture by die huis, sou die onderwerping aan die gesagsfigure in die samelewing altyd op losse skroewe staan. Albei was gebaseer op dieselfde beginsel in die wet, die vyfde gebod.
Die wyse waarop oortredings van die sesde gebod hanteer word, jy mag nie moord pleeg nie, kom nou volgende in hoofstuk 19 aan die beurt waar Moses begin om oor die voorsiening van asielstede vir moord sonder opset te praat (Deut. 19:1-13). Hy sal in die volgende hoofstukke ook nog aan ander aspekte daarvan aandag gee, veral in terme van wat in oorlog en verwante sake moet gebeur.
Daaraan koppel Moses ook oortredings van die tiende, agste, en negende gebod, jy mag nie begeer of steel nie (grenslyne verskuif), of vals getuienis lewer nie (Deut. 19:14-21). Hy sal verder aan ook uitvoerig oor die sewende gebod (bv. Deut. 24) praat. Dit is regdeur duidelik dat die Tien Gebooie die basis is van alles wat hy aan die volk deurgee.
Onlangse kommentaar