Deuteronomium 29 – Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit

Die derde preek van Moses word voorafgegaan deur ‘n terugverwysing na sy preek van die vorige 25 hoofstukke. Daarmee onderstreep die redakteur van die boek die beslissende belang van Moses se woorde. Net soos die Tien Gebooie van God by die berg Horeb (Sinai) die basis van sy verbond met Israel gevorm het, só vorm Moses se uitleg van die Tien Gebooie, wat hy hier by Moab so voortreflik gedoen het, die basis van die verbond wat die Here hier deur Moses met Israel sluit.
Trouens, ‘n mens kan die verbond by Moab eintlik ‘n verbond van Moses noem, een wat hy met Israel sluit op grond van die Here se bevel. Vers 1 lui só in ’n meer direkte vertaling: “Dit is die woorde van die verbond wat die Here Moses beveel het om met die Israeliete te sluit in die land van Moab, afgesien van die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het.” (Deut. 29:1).
Moses begin met sy derde preek om hulle geskiedenis tot by die Jordaan in perspektief te stel (Deut. 29:2-8) as begronding van sy oproep aan hulle om te sorg dat hulle alles uitvoer wat die verbond vir hulle as volk van God bepaal (Deut. 29:9-21). Anders sal die toorn van die Here teen hulle ontvlam (Deut. 29:22-29).
Hy voltooi die preek in hoofstuk 30 deur die gevolge van hulle gehoorsaamheid al dan nie uit te spel in terme van die vloek en die seën van die Here (Deut. 30:1-10) en volg dit op met ‘n bemoedigende woord dat gehoorsaamheid moontlik is. Dit is nie moeilik nie. Dit is nie buite bereik nie (Deut. 30:11-14). Al wat hulle moet doen, is om te kies vir die lewe saam met God, om Hom nougeset te gehoorsaam. Die hemele en die aarde is getuies daarvan, sê Moses, dat hy niks teruggehou het van dít wat God wou hê dat hy vir hulle moes deurgee nie (Deut. 30:15-20; vgl. Jesus wat ‘n soortgelyke uitspraak maak in Joh. 15:15).
Die res van die boek is ‘n epiloog wat sal aandag gee aan die aanwys van Josua as die nuwe leier van die volk (Deut. 31; 34) sowel as aan twee liedere wat Moses: “tot die laaste woord toe” aan die volk voorgehou het. Die een is ‘n loflied op die karakter van God in sy ewewigtige hantering van Israel ten spyte van hulle wispelturigheid (Deut. 32). Die ander ‘n seënbede (Deut. 33).
Onlangse kommentaar