Skip to main content

Tag: Deuteronomium

Deuteronomium 4:1-43 – Moet niks byvoeg of wegvat van God se wet nie; gehoorsaam Hom

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses kom in hoofstuk 4 by die punt wat hy met hierdie herinneringe wil maak in sy eerste preek.  Hy wil helder die boodskap onderstreep dat hulle na die Here moet luister in beide die wyse waarop God Homself aan hulle geopenbaar het in hulle eie lewe en geskiedenis tot hier, sowel as in die wet, voorskrifte en bepalings wat Moses die afgelope paar dekades aan hulle deurgegee het.

Die hoofstuk is in wese ‘n “preek binne ‘n preek”, soos ‘n mens uit die inhoud agterkom.  Moses fokus op die sleutelbelang van die wet sowel as die verbond in hulle luister na God.  Dit is in die gehoorsaamheid aan God se voorskrifte (Deut. 4:1-8), hulle nougesette lewe in die verbondsverhouding met God (Deut. 4:9-20) in onverdeelde trou aan Hom wat God se beloftes van seën en beskerming in ontvangs geneem sal word (Deut. 4:21-40).

Moses sal dit alles weer saamvat vir hulle in die herhaling van die Tien Gebooie in hoofstuk 5 waarmee hy sy tweede preek sal inlui.  Die Tien Gebooie en die voorskrifte wat daarmee saamhang, sal ook verder tot by hoofstuk 11 uitgelê sal word.  En meer spesifieke bepalings sal in die tweede helfte van daardie preek aan die orde kom word van hoofstuk 12 tot 26.

Continue reading

Deuteronomium 3 – Suksesse en ooreenkomste uit die verlede gee moed in die hede

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses sit sy motivering vir die Intog voort deur drie verdere herinneringe.  Hy herinner die volk eerstens aan die verdere suksesvolle oorlog teen die ander Amoritiese koning Og van Basan wat die laaste van die antieke reuse was (Deut. 3:1-11).  Hy  vervolg met die herinnering aan die grondgebied wat só vir Ruben, Gad en die helfte van die stam van Manasse verower is (Deut. 3:12-20).  Hy sluit derdens af met die herinnering aan die aanwysing van Josua as die leier wat die volk sal lei van hierdie punt af (Deut. 3:21-29).  Die suksesse en ooreenkomste uit die verlede gee moed in die hede.

Sukses in oorlog motiveer Israel vir die uitdaging van die stryd wat voorlê – Deut. 3:1-11

Moses se herinnering aan die tweede suksesvolle oorlog wat hulle gevoer het teen die Amoriete was bedoel om hulle te staal teen die uitdagings wat vir hulle voorlê op grond van die suksesse wat hulle reeds behaal het.  Dit was ‘n tipiese geval van: “finding a usable future in your past”, soos die Lutherse sistematikus Pat Kiefert lief was om te sê.  Jy kan meer gaan lees oor die oorlog in Numeri 21:33-35 sowel as in my bydrae: Numeri 21 – God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou.

Boonop was die oorlog teen koning Og van Basan, die ander Amoritiese koning, wat net soos koning Sihon van Gesbon verslaan is.  Dit was ‘n belangrike oorwinning teen juis die reuse waarvoor hulle ouers só bang was (Num. 13:33).  Koning Og was die laaste van die Refaïete, die reuse van daardie tyd, soos ook die Enakiete dit was, afstammelinge van Enak, bekend as besondere lang mense, die “reuse” (Griekse vertaling van Nefilîm).  Jy kan meer daaroor lees in my bydrae: Numeri 13 – Ons was soos sprinkane in ons eie oë.

Let op die redaksionele kommentaar aan die einde van die perikoop dat koning Og se groot bed van yster nou nog in Rabba van die Ammoniete te siene is.  Die opmerking kom duidelik uit ‘n latere tyd.  Lesers word dus daarmee uitgenooi om die bewyse self te gaan verifieer.  Die woord vir bed kan ook met ‘n sarkofaag verbind word wat bedoel dat dit eintlik oor sy graf gaan eerder as oor sy bed.

Let op dat die Here se rol in die oorlog reg aan die begin beklemtoon word.  Dit is Hy wat hulle die opdrag gee.  Dit is ook Hy wat hulle die oorwinning gee.  Daarom was die oorwinning ook totaal, selfs al was dit versterkte stede en al was dit groot mense waarteen hulle geveg het.

Onthou ook dat die grondgebied van die Amoriete nie in die eerste plek aan Israel gegee is nie, en dat die oorlog deur die Amoriete begin is. Israel wou vreedsaam deur hulle gebied trek, maar is wederregtelik deur die Amoriete aangeval (Num. 21:21).

Die Amoritiese gebied Basan (‘n gebied net oos van die Golan hoogtes in hedendaagse Sirië net suid van Damaskus) was interessant genoeg nie net ‘n ryk en vrugbare gebied nie, maar mitologies in die Ugaritiese tekste met die deurgang na die onderwêreld verbind.  Die oorwinning oor hulle het waarskynlik ook die Here se mag gedemonstreer oor alles wat bestaan, sienlik en onsienlik.

Vorige ooreenkomste dien as motivering vir volle deelname aan die Intog – Deut. 3:12-20

Hierdie onbeplande stuk grondgebied wat ingeneem is, is op die versoek van die stamme van Ruben, Gad en die helfte van die stam van Manasse aan hulle gegee.  Daarmee verwys Moses na die geskiedenis wat in Numeri 32 opgeteken is.  Lees meer daaroor in my bydrae: Numeri 32 – Ruben, Gad en die helfte van Manasse kry grondgebied oos van die Jordaan.

Die enigste voorwaarde was dat hierdie drie stamme nie hulle volksgenote in die steek moet laat nie.  Daarom was die reëling dat hulle saam met hulle volksgenote sou trek totdat die Here aan almal ’n veilige woonplek gegee het.  Moses herinner hulle dus ook in hierdie preek aan hulle ooreenkoms in die verwagting dat hulle dit sal nakom.  Alle land, ook hulle land, het immers aan die Here behoort en was ‘n gawe uit sy hand.

Die vermelding van Gilead wat aan Makir gegee is, die voorvader van Selofgad se dogters, herinner die volk ook aan die hele geskiedenis van die erfreg wat op die dogters se versoek verander is om vroue in te sluit.  Jy kan meer oor Selofgad se dogters lees in my twee bydraes: Numeri 27 – God handhaaf die erfreg van vroue en stel Josua as leier aan en Numeri 36 – Elke Israeliet moes vashou aan sy deel van die stam se grond.

Moses praat Josua moed in ten spyte van sy wroeging met God se besluit – Deut. 3:21-29

Moses sluit sy motivering vir die Intog af met sy verwysing na God se aanwysing van Josua as die leier wat die volk sal lei van hierdie punt af.  Jy kan by die boonste skakel na Numeri 27 ook meer daaroor lees.

Interessant genoeg gebruik Moses weereens die oorwinnings oor Sihon en Og, maar hierdie keer as direkte motivering vir Josua om hom moed in te praat vir die uitdagings van sy leierskap.  Soos die Here dit aanvanklik in die oorlog teen die Amalekiete gedoen het deur Moses te beveel om die sukses in oorlog vir Josua op te skryf (Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie?), só doen Moses dit nou hier steeds mondelings vir Josua.

Die belofte aan Josua is dat die Here self in die oorlog vir hulle sal veg.  Daarom hoef hy nie bang te wees nie.  Hy het immers proefondervindelik die Here se oorwinning oor dié twee konings ervaar.  So sal die Here ook doen met die ander konings wat hulle teëstaan.  Josua se oë moet dus wees op die Onsienlike wat in die konkrete geskiedenis van wat Josua kan waarneem, optree.

Moses sluit af met ‘n persoonlike woord oor sy wroeging om só naby die beloofde land te kom, maar tog nie die voorreg van die Intog te kan beleef nie.  Só naby, maar tog ook só ver.  Sy smeking word uiters goed gemotiveer.  Die Here het dan nog net “begin” om Moses sy grootheid en mag te laat ondervind.  Daar is niemand soos God nie.  En Moses verkwalik die volk dat hulle die eintlik rede was vir dié besluit van die Here.

Maar, tevergeefs.  Net soos die vorige kere wat hy met die Here daaroor gepraat het.  Die Here was weereens duidelik, sê Moses: “Jy het nou al genoeg daaroor gepraat. Moenie weer met My oor hierdie saak praat nie.” Hy gee Moses wel ‘n visie van die Pisgaberg af van die beloofde land, maar laat hom nie toe om die Jordaan oor te steek nie.

Josua moes sy opdragte kry. Moses moes hom moed in praat.  Moses moes hom raad gee, soos hy inderdaad hier gedoen het.  Maar die mantel het nou op Josua geval om die volk deur die Jordaan te lei en die beloofde land in besit te laat neem.

Deuteronomium 2 – God gee die land vir sy volk soos Hy eeue lank al vir ander nasies doen

Ek herhaal die opdrag van gister.  Gebruik die leesmetodiek wat ek voorstel: lees, luister, en leef. Ná jy dus die teks self gelees en die Here toegelaat het om jou aandag vas te vang deur gedagtes uit die teks wat jou tref, lees dan eers my bydrae om uiteindelik by die boodskap vir jou eie lewe te kom.

Moses gee ‘n oorsig oor God se geskiedenis met hulle – Deut. 2:1-19

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses sit sy oorsig van God se geskiedenis met die volk voort in hoofstuk 2 tot 3.  Hy begin by die onlangse geskiedenis waar hulle van Seïrberg noordwaarts getrek het in opdrag van die Here om die beloofde land in te neem, ingebed in sy verwysings na God se sorg in die vroeëre geskiedenis van die omswerwinge deur die woestyn (Deut. 2:1-19).

Dit val op dat Moses beklemtoon dat Israel nie in oorlog moet tree met dié nasies wat steeds op sy beskerming in terme van hulle grondgebied kan staatmaak nie.  Israel mag net dít in besit neem wat deur die Here self aan hulle gegee is in belofte.  Hulle moet selfs konflik oor kos en water vermy ter wille van goeie verhoudinge.  Die Here was in staat om vir hulle te sorg soos Hy onomwonde in hulle geskiedenis bewys het.  Hy het immers sy oog oor hulle gehou in die groot woestyn.

Moses vertoef nie op die detail van die reis nie.  Daarvoor moet Numeri geraadpleeg word.  Moses wil net sy punt maak dat Israel op God se sorg kan vertrou en Hom daarom moet gehoorsaam.  God se optrede teen die eerste geslag wat Hom nie vertrou het nie moet die tweede geslag motiveer om nie in dieselfde strik as hulle ouers te val deur hulle teen die Here te verset nie.

Jy kan Moses se beskrywing hier vergelyk met die geskiedenis wat opgeteken is in Numeri 20:14-21 en 21:10-20 aan die hand van my vroeë bydraes waarin meer inligting oor Edom, Moab, en Ammon verskaf is:

Moses motiveer die gawe van die land as deel van sy sorg vir alles en almal – Deut. 2:20-33

Continue reading

Deuteronomium 1 – Vertroue in en gehoorsaamheid aan die Here is onverhandelbaar

Ek herinner julle vandag eerstens aan die leesmetodiek soos ek dit gister geplaas het.  My bydraes sal baie meer waarde hê vir jou as jy dit navolg.  Begin dus met die eerste beweging, lees.

LEES

  • Raak stil voor die Here.
  • Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het.
  • Dank God vir die goeie.
  • Gee vir Hom die slegte.
  • Lees nou hoofstuk 1 deeglik deur.
  • Wat tref jou?
  • Let op vir temas in die gedeelte. Onderstreep dit as jy wil.
  • Wat sê dit van God?
  • Wat sê dit van mense?
  • Wat sê dit van die wêreld?
  • Soek vir een of meer sleutel gedagtes wat jou besonderlik tref.
  • Skryf dit in jou joernaal neer.
  • Lees dan wat ek hieronder geskryf het en dink na oor wat jou daarin tref.

Moses die profeet se woorde het Goddelike gesag – Deut. 1:1-5

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Moses tree as profeet op reg van die begin van die boek af.  Anders as in die Ou Nabye Oosterse verdrae se aanhef en historiese proloog is dit nie die woorde van die koning nie, maar dié van sy woordvoerder wat opgeteken word (Deut. 1-4).  Moses tree daarmee op as die woordvoerder van God wat sy wil op gesagvolle wyse bekend maak.

Abraham is natuurlik ook al ’n profeet genoem (Gen. 20:7), maar hier word Moses as die eerste van ’n reeks profete wat God se Woord aan die volk Israel bring aan ons voorgestel.

Moses verklaar die impak van die verlede as deel van God se voorskrifte vir die hede

Let op in vers 5 dat alles wat hy gaan sê as deel van die wet uitgespel word.  Moses het: “die wet begin verduidelik.”  Sy woorde in Deuteronomium, die verduideliking (die Hebreeuse woord bēʾēr beteken verklaring of uitleg) van die wet, dra dus dieselfde gewig as die voorskrifte wat God reeds gegee het in Eksodus tot Numeri, en het daarom Goddelike gesag.

Hiermee interpreteer Moses die verlede van God se handelinge met hulle van Sinaiberg af tot by die Jordaan en verklaar dit daarby as deel van sy voorskrifte aan hulle.  Alles wat met hulle gebeur het, die goed en die sleg, die wonders en die wroegings, het hulle geleer wat sy wil vir die lewe is. Moses se verklaring daarvan moes hulle die impak daarvan vir die volgende fase van God se plan met hulle laat begryp.

Continue reading

Hoe om Deuteronomium te lees

https://truthinmotion.wordpress.com /2013/06/20/word50/

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarvoor is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Ek stel voor dat jy die volgende metodiek gebruik:

  1. LEES – Raak stil voor die Here. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte.  Lees die teksgedeelte deeglik deur.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een of meer sleutel gedagtes wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte(s) wil sê. Waar raak hierdie gedagte(s) jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda