Skip to main content

Tag: Bybel

Kies ‘n manier van Bybellees

Ek het al baie verskillende Bybelstudie metodes in die loop van die Bybelskool voorgestel, sommige meer informatief van aard en ander meer formatief van aard.

Die idee met alle metodes is om beide die breë lyne van boek of hoofstuk van die Bybel asook die fyner detail daarvan raak te lees en die betekenis en die impak daarvan vir ons lewe te oorweeg. Elke week sal ons dus die groeptyd gebruik om daaroor te gesels.  Dit is juis in die refleksie en nadenke oor die betekenis van die Bybel dat geestelike groei plaasvind.

Jy kan enige sisteem gebruik om vir jou aantekeninge te maak, selfs kort aantekeninge in die kantlyn van die Bybel.  Hier is ’n aantal metodes waaruit jy kan kies.

Drie simbole

Werk met drie simbole waaroor jy dan kan reflekteer:

! – IETS WAT JOU GETREF HET

? – IETS WAAROOR JY ‘N VRAAG HET

↓ – IETS VAN GROOT BETEKENIS

Eenvoudige luistersiklus

  • RUS
    • Raak bewus van jou diepste behoeftes.
    • Gee dit in gebed aan God.
  • HOOR
    • Lees die Skrifgedeelte hardop.
    • Dink na oor wat jou daarin tref.
  • LEEF
    • Wat lê die Here nou op jou hart?
    • Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af.

Lees soos ‘n Kunstenaar[1]

  • Wat tref my?
  • Watter nuwe gedagtes kry ek?
  • Wat moet ek daarmee doen?

Lees soos ‘n Speurder

  • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
  • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
  • Wat nou (aksie, met wie)?

Lees soos ‘n Skatkisjagter

  • Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
  • Wat moet ek hiermee doen?

Lees soos ‘n Vakleerling

  • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
  • Wat moet ek hiermee doen?

Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.  En elke week kom ons dan bymekaar om saam te gesels oor wat ons gehoor het, vrae wat ons miskien het uit te pluis, en ons eie verstaan te verdiep vir die reis wat ons saam met God in die lewe onderneem.


[1] Hierdie en die volgende 3 metodes kom van Adele Calhoun af (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief.

Bybelstudie metodiek

Ek het al baie verskillende Bybelstudie metodes in die loop van die Bybelskool voorgestel, sommige meer informatief van aard en ander meer formatief (Eenvoudige luistersiklus of Lectio Divina bv.) van aard.

Julle kan self kies hoe julle wil lees met enige van die vorige metodes.

Hier is egter nog vier metodes vir die avontuurlikes onder julle wat ek by Adele Calhoun raakgelees het.  Sy stel 4 metodes vir Bybelstudie voor (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief:

  • Lees soos ‘n Kunstenaar
    • Wat tref my?
    • Watter nuwe gedagtes kry ek?
    • Wat moet ek daarmee doen?
  • Lees soos ‘n Speurder
    • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
    • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
    • Wat nou (aksie, met wie)?
  • Lees soos ‘n Skatkisjagter
    • Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
    • Wat moet ek hiermee doen?
  • Lees soos ‘n Vakleerling
    • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
    • Wat moet ek hiermee doen?

Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.  En elke week kom ons dan bymekaar om saam te gesels oor wat ons gehoor het, vrae wat ons miskien het uit te pluis, en ons eie verstaan te verdiep vir die reis wat ons saam met Jesus in die lewe onderneem.

Leer hier ‘n paar interessante feite oor die Bybel.

Markus in vergelyking met die ander evangelies

Ek het gister geskryf oor die boodskap van Markus.

Net om dit te vergelyk met die ander sinoptiese evangelies:

  • Matteus (apostel?) vertel die storie van Jesus aan Joodse Christene wat ‘n verbintenis het aan die Groot Opdrag aan die heidene.  Heel moontlik is dit geskrywe in Antiochië in die 70’s n.C.  Die storie van Jesus van geboorte tot Groot Opdrag sluit groot blokke van sy leringe in en stel Jesus voor as die Seun van God, die Messiaanse Koning van die Jode, wie se boodskap vir alle mense bedoel is. Die kerk is vir hom die familie van God (broers en susters vir mekaar).
  • Lukas (‘n dokter wat Paulus soms vergesel het – Kol 4:14 – die enigste “heidense” outeur in die Bybel) vertel die storie van die redding van Israel wat Jesus (en die Gees in Handelinge) bring.  Dit is heel moontlik na die val van Jerusalem in 70 n.C. geskrywe aan Christene uit die heidense nasies. Dit word gerig aan Teofilus, andersins onbekend, wat heel moontlik die publikasie onderskryf het.  Lukas plaas die verhaal in die konteks van die wêreldgeskiedenis en sluit die voortgaande bediening van die Gees in die kerk van die begin af in.  Die kerk is vir hom die plek waar alle Jode welkom is, daarom word bv. spesifiek aandag gegee aan die stories van vroue.
  • En natuurlik moet ons nie vergeet dat Handelinge deel twee is van Lukas, wat die storie van redding deur Jesus vertel soos dit deur die Gees en die kerk voortgesit word van Jerusalem af tot in Rome.  Die kerk is vir Hom die plek waar mense uit alle kulture welkom is (akkulturasie), maar ook deur die evangelie verander word (inkarnasie).  Vergelyk bv. Paulus in gesprek met die Epikureërs en Stoïsyne in Atene (Hand 17 – kyk by punt 3.3.2).

Lees hier meer oor die wyse waarop die Bybel as kanon tot stand gekom het.

Die boodskap van Markus

Die evangelie van Markus is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13].  Dit is heel moontlik geskrywe in Rome aan die gemeente in Rome (volgens Papias, ‘n kerkvader).  Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is.

Hy vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Jesus vervul volgens Markus die Messiaanse verwagting deurdat God se koninkryk in Jesus aanbreek.  Die nuwe Uittog waarvan Jesaja praat begin met die bediening van Jesus wat sy lyding en plaasvervangende dood insluit.  Daardeur het Hy ‘n model van dissipelskap gegee wat opgesluit lê in selfverloëning, die opneem van ‘n kruis en Hom na te volg (8:34).

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

  1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God.  Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God.  In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
  2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
  3. Markus 8:22-10:45 – Jesus wat sy dissipels dieper inlei in die aard en betekenis van sy bediening, en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
  4. Markus 10:46-15:47 – Jesus wat Jerusalem binnegaan tot verrukking van die skares, maar uiteindelik deur hulle verwerp word en deur die leiers gekruisig word, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Interessant, die prentjie van die kerk wat ons in Markus kry, is dat dit die plek is waar grense oorgesteek word na gemarginaliseerdes.  Dit pas goed in die situasie van die vervolging in Rome in keiser Nero se tyd.

Ek steun hier onder andere op die uitstekende boek van Gordon D Fee en Douglas Stuart, How to Read the Bible Book by Book – A Guided Tour.  Uitgegee deur Zondervan, Grand Rapids, Michigan in 2002.

Die drie Sinoptiese evangelies

Vir ons leeswerk gee ek ook die volgende baie kort oorsig van die drie Sinoptiese evangelies.

Markus is een van die drie Sinoptici (sinopties = oorsigtelike, samevattende hantering [van die Griekse “saam-kyk”]).

Uit ‘n vergelyking van die drie sinoptiese evangelies, Markus, Matteus en Lukas, is dit opvallend dat bykans alle gedeeltes in Markus ook in die ander twee evangelies, Matteus en Lukas voorkom.  Slegs drie gedeeltes kom net in Markus voor: 1) 1:1 – die Inleiding tot sy evangelie; 2) 4:26-29 – Die gelykenis van die saad wat vanself groei en 3) 8:22-26 – Jesus wat ‘n blinde man in Betsaida genees.

Matteus en Lukas het egter verskeie gedeeltes wat nie by Markus voorkom nie, die Bergrede bv.  Dit dui volgens geleerdes daarop dat Matteus en Lukas die evangelie van Markus gebruik het as basis-dokument vir hulle eie evangelies.  Markus is dus die oudste evangelie wat ons het.

Matteus en Lukas het ook ‘n tweede bron gebruik, wat blyk uit dié gedeeltes waarin hulle met mekaar ooreenstem (en nie by Markus geleen het nie), ‘n totaal van 62 perikope, wat deur geleerdes die (hipotetiese) Q- bron genoem word (Q is die afkorting vir die Duitse woord Quelle wat bron beteken).  Dit bevat interessant genoeg meesal uitsprake van Jesus, en omtrent geen genesings en wonderdade van Jesus nie, sowel as niks van sy konfrontasie met die Joodse leiers en uiteindelike dood en opstanding nie (Wie was Jesus regtig?, p 56).  Dit is egter redelik sinloos om die bron op grond van aanhalings en weglatings in sekondêre bronne (Matteus en Lukas) nouer te probeer omskryf.  Omdat die ooreenstemmende gedeeltes in Matteus en Lukas egter byna woordeliks ooreenstem, en daarby in dieselfde volgorde in die twee evangelies geplaas is, word wel aanvaar dat dié bron skriftelik was.

Lees hier meer oor die ontstaan van die Bybel.

Onlangse kommentaar