Lukas 1:67-80 – God red ons om Hom sonder vrees te dien
1 Desember

Lukas 1:67-80 – God red ons om Hom sonder vrees te dien
67Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê: 68“Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig. 69‘n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg, 70soos Hy reeds lank gelede by monde van sy heilige profete beloof het – 71verlossing van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat. 72Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys en sy heilige verbond in gedagte te hou, 73die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het, sodat ons, 74gered uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees sou dien, 75en al ons dae voor Hom in heiligheid en geregtigheid kan leef. 76En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitloop om sy paaie gereed te maak, 77en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word deur die vergewing van hulle sondes, 78danksy ons God se innige ontferming, waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom, 79om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skadu van die dood bevind, en om ons voete op die pad van vrede te plaas.” 80Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het.
Hierdie profesie van Sagaria word deur die eeue die Benedictus genoem. Dit kom van die eerste woord van sy loflied “Lofwaardig”. In die Latynse vertaling: “Blessed be the Lord”. Sagaria profeteer onder leiding van die Heilige Gees oor die Verlosser wat volgens die belofte die volk weer in heiligheid (toegewyd) en geregtigheid (opreg) en sonder vrees vir hulle vyande sal laat lewe. Sy loflied is daarom saamgestel uit ‘n aantal aanhalings of toespelings uit die Psalms (Ps 18:2; 105:8-9; 106:9-10; 148:4) en die profete, veral Jesaja (Jes 9:1-2; 11:1-10; 40:3).
Hy profeteer ook oor die voorloper, Johannes (die naam beteken God is genadig), sy seun, wat die pad vir die Verlosser sal voorberei, interessant genoeg om hulle deur vergifnis en die lig wat Hy gee op die pad van vrede te laat loop. Hy sal hulle leer hoe om uit die duisternis van die sonde, “die skadu van die dood” te beweeg na die pad van vrede, waarin hulle sonde vergewe is, en hulle die lig van die Môreson, ‘n beskrywing van die Here Jesus (Mal 4:2; 2 Pet 1:19), kan lewe.
Hierdie is beloftes wat ons weer kan vasgryp in Adventstyd. God het Johannes gebruik om die pad vir Jesus voor te berei. So kan ons dit ook doen. God het Jesus gebruik om sy kinders van hulle vyande te verlos. Om hulle te bevry van almal wat hulle haat, almal wat gelowiges se verbintenis aan God wil verbreek. Sodat hulle Hom “al hulle dae” sonder vrees kan dien. Dit wil Hy ook vir ons doen. God het dus nie net belowe dat Hy met die sonde in ons lewe – die vyand van binne – sal afreken nie. Die verlossing van die Here Jesus sluit ook verlossing van die vyande van buite af in. Heiligheid en geregtigheid voor Hom – dit is God se doel met sy volk. Saamgesnoer in ‘n noue verhouding met Hom. So heilig soos Hy is. So onberispelik soos Hy in hierdie wêreld. Gryp dié boodskap aan en leef uit die belofte daarvan.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-157-80-god-se-lig-rig-ons-voetstappe-op-die-pad-van-vrede/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar