Skip to main content

1 Samuel 2:1-10 – God is ‘n rots vir almal wat Hom vertrou

2 Desember

1 Samuel 2:1-10 – God is ‘n rots vir almal wat Hom vertrou

1Hanna het gebid en gesê: “My hart juig in die Here, ek is sterk in die Here. Ek maak my mond wyd oop teenoor my vyande, want ek verheug my in u verlossing. 2“Niemand is heilig soos die Here nie, ja, daar is niemand buiten U nie; daar is geen rots soos ons God nie. 3Julle moet nie verwaand bly praat nie, nie vermetele woorde oor julle lippe laat kom nie; want ‘n God van kennis is die Here; deur Hom word dade geweeg. 4“Die boë van helde is verpletter, maar dié wat struikel, omgord hulleself met krag. 5Hulle wat versadig was, verhuur hulleself vir brood, maar hulle wat honger was, het oorvloed. Selfs die onvrugbare gee geboorte aan sewe, maar die vrou met baie seuns kwyn weg. 6“Die Here maak dood en Hy maak lewend; Hy laat na die doderyk afdaal en Hy laat daaruit opkom. 7Die Here maak arm en Hy maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy. 8Hy laat armes uit die stof opstaan, van die ashoop af hef Hy behoeftiges op om hulle by vooraanstaandes te laat sit en ‘n ereplek hulle erfdeel te maak. Ja, aan die Here behoort die fondamente van die aarde, Hy het die wêreld daarop geplaas. 9“Die voete van sy troue volgelinge beskerm Hy, maar goddeloses – in duisternis word hulle vernietig. “Ja, dit is nie deur krag dat iemand seëvier nie. 10Die Here – wie teen Hom te staan kom, word verpletter; oor hulle laat Hy dit dreun uit die hemel. Die Here spreek reg tot by die uithoeke van die aarde. Hy gee krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”

Ek wou die gedeelte korter afbaken, maar die beloftes hierin is só verweef met mekaar dat ek die hele gedeelte plaas. Let veral op na die verbeeldingryke metafore waarmee God en sy werke beskryf word. Elkeen van dié metafore is beloftes wat ons kan omarm. God is ‘n rots vir almal wat op Hom vertrou. Hy is die een wat die normale orde omkeer, van wie belangrik is en wie nie. Hy gee aan dié wat struikel, nuwe krag. Hy bepaal die lewe en die dood. Hy bevestig die aarde en beveilig dié daarop wat Hom volg: “Die voete van sy troue volgelinge beskerm Hy.” (vers 9a).

Hierdie loflied van Hanna was daarom die basis vir die loflied van Maria oor die Seun wat God haar in die NT gegee het (Luk 1:46-56). Want Jesus vertoon al die kenmerke van dié God wat Hanna die begeertes van haar hart – ‘n seun – gegee het. Hy beskerm en beveilig. Hy gee krag en sterkte, soos God dit vir Hom as die “Gesalfde” (die Christus) gedoen het.

Hierdie beloftes is ‘n groot troos en aanmoediging vir jou om te volhard op die pad wat die Here met jou loop – en om dit met Hom te loop, en nie volgens jou eie goeddunke nie. Dit is nie deur krag wat jy sal seëvier nie, maar deur die Here (vers 9b).

Lees meer: https://bybelskool.com/1-samuel-2-hy-beskerm-sy-troue-dienaars-op-hulle-pad/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar