Lukas 3:1-6 – God bring verlossing

30 November
Lukas 3:1-6 – God bring verlossing
1In die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius was Pontius Pilatus prokurator van Judea. Herodes was tetrarg van Galilea, en Filippus, sy broer, was tetrarg van Iturea en Tragonitis, en Lisanias was tetrarg van Abilene. 2In die tyd toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het daar in die woestyn ‘n woord van God na Johannes, seun van Sagaria, gekom. 3Hierna het hy in die hele omgewing van die Jordaan rondbeweeg en ‘n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig, 4soos daar geskryf staan, in die boekrol met die woorde van die profeet Jesaja: “’n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit! 5Elke kloof sal opgevul en elke berg en heuwel sal platgemaak word. Maak die krom paaie reguit, en die hobbelrige paaie gelyk! 6Dan sal alle mense sien hoe God verlossing bring.’ ”
Lukas plaas die prediking van Johannes die Doper binne sy historiese konteks wat nie net die politieke bestel van die Romeine en Jode – Tiberius (14-37 nC), Pilatus (26-36 nC), Herodes Antipas (4 vC-39 nC), Filippus (4 vC-33 nC) en Lisanias – betrek nie, maar ook die godsdienstige – Annas en Kajafas as hoëpriesters. Johannes het in die vyftiende jaar van Tiberius begin optree, dws 28 nC.
Dit is ‘n merkwaardige visuele prentjie wat in vers 5-6 geteken word, vanuit die profesie van Jesaja 40:3-5. Johannes roep as Voorloper in die woestyn dat die pad van die Here gereed gemaak moet word, en dat die pad van die Jordaan af regdeur Jerigo wat reg oos lê reguit gemaak moet word tot by Jerusalem in afwagting vir die Messias wat moet kom.
Tegelykertyd is dit ‘n prentjie van die tipe bekering wat voorsien word, ‘n gehoorsaamheid aan die wet wat visueel geteken word as dat elke kloof opgevul word, elke berg en heuwel gelykgemaak moet word, al die krom paaie reguit en die ongelykes gelyk gemaak word. Bekering vervul die belofte van God dat Hy ons verlos. Dit geld alle mense. Iets wat ons hierdie Adventstyd nodig het om te hoor, want die beloftes van God is vir dié wat bereid is om die pad met Hom te loop.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-31-38-jesus-is-familie-van-alle-mense/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar