Titus 1:1-4 – die hoop op die ewige lewe bring ware godvresenheid

4 Desember
Titus 1:1-4 – die hoop op die ewige lewe bring ware godvresenheid
1Paulus, ‘n dienskneg van God en apostel van Jesus Christus, ter bevordering van die geloof van die uitverkorenes van God, en hulle kennis van die waarheid, wat ooreenstem met godvresendheid, 2in die hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, reeds voor alle tye beloof het, 3en wat sy woord op sy eie tyd bekend gemaak het deur die verkondiging, wat in opdrag van God, ons Verlosser, aan my toevertrou is – 4aan Titus, my egte seun op grond van ons gemeenskaplike geloof: Genade en vrede van God, ons Vader, en Christus Jesus ons Verlosser.
Paulus rig hierdie brief aan Titus om die onderskeie dorpsgemeentes in Kreta (vers 5) te help met die ontwikkeling van hulle bediening. Hy skryf oor gesonde leierskap (hoofstuk 1), die handhawing van die gesonde leer (hoofstuk 2), en hoe hulle ‘n gesonde gemeenskap kan bou (hoofstuk 3). Hy roep hulle in die proses op tot goeie werke (Tit 1:16; 2:7,14; 3:1,8,14). Dit is die enigste manier waarop God se genade ruimte kry in ons lewe.
Maar Paulus begin nie sy brief daar nie. Hy begin by die hoop op die ewige lewe wat hulle geloof en gehoorsaamheid tot ware godvresenheid sal laat groei. Dit is hierdie belofte, die belofte van die ewige lewe, wat God reeds voor alle tye beloof het, wat die dryfkrag agter ons bediening en goeie werke is.
Let op hoe geloof en kennis van die waarheid eintlik as sinonieme gebruik word. Geloof is nie ‘n sprong in die donker nie. Dit is om die waarheid te erken van wat God oor Jesus as Verlosser bekend gemaak het, sowel as die belofte van die ewige lewe wat daaraan verbind is, en daarop te vertrou. Geen wonder dat die Heidelbergse Kategismus (vr & antw 21) eeue later geloof as volg gedefinieer het: “’n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.”
Lees meer: https://bybelskool.com/titus-11-16-gesonde-geloof/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar