Lukas 1:39-45 – Gelukkig is dié wat glo dat die Here se beloftes aan hulle vervul sal word

13 Desember
Ons is nou drie weke besig met die beloftes. Jy sou agter gekom het dat die meeste van die beloftes tot dusver deel is van profesieë en verhale, omdat die beloftes gekies is uit tekste wat met Advent en die Kersverhaal verband hou.
Jy sou ook agter gekom het dat ‘n mens dieper moet delf om die beloftes daarin raak te sien. Dit is omdat hierdie beloftes hulle vervulling vind in die Persoon van Jesus Christus. Hy is ten diepste die Belofte van God: “The Promised Person & The Person Promised” (Herbert Lockyer). In Hom word al die beloftes van die profesieë en verhale en hulle vervulling soos boeke in ‘n boekrak ten toon gestel. Maar, jy moet ‘n bietjie werk insit om dit jou eie te maak – die onderskeie boeke uithaal, en deeglik deurlees – veral omdat jy rekening moet hou met die verskille en ooreenkomste tussen die Bybelse konteks en jou eie.
Die beloftes in die Psalms (en ander wysheidsliteratuur soos Spreuke en Prediker) daarenteen is ‘n bietjie makliker om raak te sien. Dit is soos ‘n string pêrels waarvan elke pêrel blink gevryf en in ‘n halssnoer ingeryg is om een vir een te waardeer en in ons lewens van toepassing te maak. Gelukkig is daar elke week ‘n Psalm om hierdie tipe beloftes te kan waardeer!
My gebed is dat julle begrip van die betekenis van al hierdie verskillende soorte beloftes sal groei sodat julle nie net die maklik toeganklike pêrels van God se beloftes in die Psalms sal waardeer nie, maar ook die sentrale Belofte van God wat in die evangelie van Jesus vervul is. In Hom hang al die beloftes saam – verlede, hede en toekoms – en in verhouding met Hom kan ons op die vervulling van al die beloftes van God staatmaak.
Lukas 1:39-45 – Gelukkig is dié wat glo dat die Here se beloftes aan hulle vervul sal word
39In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na ‘n dorp in Juda. 40Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet. 41Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hardop uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot! 43Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom? 44Kyk, net toe ek jou groet hoor, het die kindjie in my moederskoot van uitbundige blydskap opgespring. 45En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.”
Maria reageer onmiddellik op die inligting wat die engel haar oor Elisabet gee. Waarskynlik omdat sy só die boodskap aan haar verder sou kon bevestig, maar ook omdat sy so in die ander wonder sou kon deel. En Maria kry nog ‘n dieper bevestiging as net dat die engel se woorde vervul sou word. Elisabet kry woorde van die Heilige Gees, en noem Maria “moeder van my Here” voordat Maria nog enigsins begin vertel het van wat die engel gesê het. En sy noem Maria eers in vers 42 geseënd (eulogêmenos – letterlik: [mense sal] goedpraat [oor jou]) en daarna in vers 45 gelukkig (makarios – letterlik salig), omdat sy die boodskap aan haar geglo het. Haar loflied word daarom soms die Beautitude genoem.
Let op dat die Een wat die belofte gegee het, en die Een wat gebore sou word, met dieselfde naam, Here, genoem word. Dit bevestig nie net die belofte nie, maar ook die Godheid van Jesus. Wat verder wonderlik is van Elisabet se lofsang is die blydskap wat dit uitstraal oor die belofte wat twee ongebore kinders vir die wêreld inhou. Die Heilige Gees het Elisabet vervul sodat sy verder kon sien, soos ‘n Maleagi van ouds, as maar net die wonder van hulle onderskeie swangerskappe.
Ja, Elisabet was bly dat Maria geseënd is as vrou. Sy sou aan ‘n kind geboorte skenk. Selfs die ongebore Johannes was bly oor die gawe aan Maria. Hy het in Elisabet se skoot van vreugde opgespring. Elisabet was ook bly dat Maria gehoorsaam was, dat sy die dinge geglo het wat die Here vir haar gesê het. Dit onderstreep die fokus op vreugde wat ons regdeur Lukas en Handelinge gaan sien. Die vier lofsange van Elisabet, Maria, Sagaria en die engele sowel as die reaksie van die herders bevestig dit. Later kom ook die lied van Simeon. Die goeie nuus van die evangelie laat mense gereeld in vreugde reageer – Lukas sluit bv sy evangelie daarmee af. Maar die diepste blydskap was dat die Here self in die ongebore kind van Maria na haar toe gekom het. Twee verwagtende Godsvroue wat twee ongebore Godsmanne dra. Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie deur die belofte van twee ongebore kinders. Dink net weer aan wat hierdie twee kinders sou regkry ná hulle geboorte!
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-11-56-twee-godsmanne-word-vir-twee-godsvroue-belowe/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar