Skip to main content

Titus 3:1-7 – Die Heilige Gees wederbaar en vernuwe jou

11 Desember

Titus 3:1-7 – Die Heilige Gees wederbaar en vernuwe jou

1Herinner hulle daaraan om aan die owerheid en alle gesag onderdanig te wees, om gehoorsaam te wees en bereid tot elke goeie werk, 2niemand te belaster nie, om nie bakleierig te wees nie, maar vriendelik, en om ware sagmoedigheid te betoon aan alle mense. 3Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat. 4Maar toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, 5het Hy ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, 6wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser. 7So het ons, geregverdig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop.

Let op hoe Paulus met die gemeente se publieke verantwoordelikheid begin, voordat hy verder gesels oor die manier waarop die gemeente eenheid in sy geledere moet handhaaf. Aan die een kant is ‘n gesonde gemeenskapslewe afhanklik van instemming en gehoorsaamheid aan owerhede en gesagsinstansies. Daarsonder verval ‘n gemeenskap in anargie en wetteloosheid. Aan die ander kant moet die gemeenskapslewe ook nie net in stand gehou word soos wat dit bv in die verlede was nie, maar positief ontwikkel word deur gelowiges wat bereid is “tot elke goeie werk.”

Paulus motiveer hierdie opdrag deur te verwys na hulle eie geestelike geskiedenis, waar God hulle van hulle vroeëre haatlike bestaan verlos het deur sy liefde. Daarin moet hulle nou vasstaan en vanuit God se genade hulle toelê op elke goeie werk, werk wat goed en nuttig is vir die mense. Paulus gee daarby ‘n baie interessante perspektief op die wyse waarop die Triniteit saamwerk in ons verlossing: God die Vader het die Heilige Gees “ryklik oor ons uitgegiet” deur Jesus Christus ons Verlosser (vers 6).  God in sy totaliteit is dus betrokke by die innerlike vernuwing van haatlikheid na liefde wat in ons gebeur, en wat ons laat herleef het. 

Let op dit alles God se gawe aan ons is. Hy is die instrument van verandering, soos dit in vers 7 uitgespel word. So het ons, “geregverdig deur sy genade”, erfgename geword van die belofte van die ewige lewe waarop ons hoop. In ons gehoorsaamheid bevestig God vir ons hierdie belofte en gee Hy vir ons die krag om daaraan vas te hou.

Lees meer: https://bybelskool.com/titus-31-15-gesonde-lewe/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar