Skip to main content

Psalm 19:8-15 – God bestaan en God praat met ons

17 Januarie

Psalm 19:8-15 – God bestaan en God praat met ons

8Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges. 9Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë. 10Ontsag vir die Here is rein, dit hou vir altyd stand; die beslissings van die Here is waar, dit is almal regverdig. 11Dit is begeerliker as goud, begeerliker as ‘n oormaat fyngoud; dit is soeter as heuning, as ‘n heuningkoek wat drup. 12Boonop, u dienskneg word daardeur gewaarsku; wanneer ‘n mens daarby hou, is die beloning groot. 13Wie het insig in sy onbewuste dwalings? Spreek my vry van verborge sondes! 14Weerhou u dienskneg ook van vermetelheid. Laat dit nie oor my heers nie; dan sal ek onskuldig wees en vry van ernstige oortredings. 15Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.

Psalm 19 is een van die skeppingspsalms (soos ook Psalms 29, 33, 65, 74, 104, 136, 147 en 148). Dit roep in die eerste deel (vers 1-7) die verloop van die skeppingsverhaal van Genesis 1-3 in herinnering. Die Psalmis wou mense in vervoering sou laat oor God, sodat hulle met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God sou lewe, sodat elke keer wat hulle weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, hulle van God bewus sou bly. Want, God bestaan!

Maar dié Psalm gaan nie net oor die heerlikheid van die skepping nie. Dit beweeg van ‘n loflied oor die skepping na ‘n loflied oor die wet van God wat vir die mens doen wat die son doen vir die skepping (vers 7-15). Die Wet bring lig en krag en die teenwoordigheid van God self tot in die dieptes van die menslike hart (NT Wright). En hierdie wet is natuurlik die spilpunt van die verbond wat Israel aan God verbind het, die hart van sy Woord aan hulle. Die Psalm belowe dat die wet van God, dws die Woord van God, die heerlikheid van God ook in ons hart en lewe sal indra, sodat dit waarlik ‘n lewensveranderende impak in ons kan hê. Nie as ‘n inperking nie, maar as ‘n inspirasie. Die Woord se waarde is meer as dié van goud en heuning. Dit verander ons van binne-af. Dit gee ons ‘n vastigheid wat die toets van die tyd sal deurstaan. Want, God praat!

Hierdie Psalm het artikel twee van die Nederlandse Geloofsbelydenis geïnspireer. Die middele waardeur ons God ken word só uitgespel: Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem. Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort. Skrifverwysings: Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:10; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1 Kor. 1. Vergelyk ook Kolossense 1:15-20 wat op hierdie Psalm begrond is en die boodskap verkondig dat die koms van Jesus – die Messias, die een deur wie beide die skepping en die verlossing te weeg gebring is – die boodskap van Psalm 19 voltooi.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-19-god-bestaan-en-god-praat-met-ons/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar