Jesaja 61:1-7 – God verbind dié met gebroke harte se wonde

15 Januarie
Jesaja 61:1-7 – God verbind dié met gebroke harte se wonde
1Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is, 2om die genadejaar van die Here aan te kondig, ons God se dag van wraak, om almal wat rou, te troos, 3om te voorsien vir hulle wat oor Sion rou, om vir hulle tulbande te gee in plaas van stof, vreugde-olie in plaas van rou, klere vir lofprysing in plaas van ‘n verslae gees. Hulle sal genoem word: terebinte van geregtigheid, geplant deur die Here om Hom te verheerlik. 4Hulle sal die oeroue puinhope herbou, die verwoeste plekke van vroeër weer oprig, dorpe wat in puin lê, wat geslagte lank verwoes is, sal hulle nuut maak. 5Vreemdes sal in julle diens wees en julle kleinvee laat wei, buitelanders sal julle plaaswerkers en julle wynbouers wees. 6Maar julle, priesters van die Here sal julle genoem word. As dienaars van ons God sal daar na julle verwys word. Die rykdom van nasies sal julle geniet, en met hulle luister sal julle spog. 7In plaas van julle skande word julle dubbeld vergoed. Ja, in plaas van vernedering sal hulle jubel oor hulle deel; daarom sal hulle ‘n dubbele deel in hulle land in besit neem. Daar sal vir hulle ewige vreugde wees.” (vgl Luk 4:16-21)
Soos die onderwerp van lig in Jesaja 60 (27 Desember) ‘n skakel na die belofte van ‘n Seun in Jesaja 9 gegee het, so gee die boodskap van “die Gees van die Here my God” wat oor die dienaar van die Here kom, ‘n skakel na die belofte in Jesaja 11 van die takkie uit die stomp van Isai waarop die Gees van wysheid en insig sal rus. Wat daar belowe is, word hier nou as die werklikheid beskryf.
Let op dat die dienaar van die Here se bediening beskryf word in ses beloftes wat vir hulle in vervulling gaan: 1) Hy bring ‘n blye boodskap aan mense in nood. Hy beur magteloses op, verbind dié met gebroke harte se wonde, en gee vrylating vir gevangenes en geboeides (vers 1); 2) Hy bring ‘n tyd van genade vir almal wat treur waarin hulle die voorsiening en sorg van die Here sal ervaar (vers 2-3 – vgl Ps 147:3: “Dit is Hy wat dié met gebroke harte genees, wat hulle wonde verbind”); Dit sal tot gevolg hê dat die volk ‘n tyd van transformasie sal beleef. Dit word beskryf as: 3) ‘n Tyd van heropbou (vers 4); 4) ‘n Tyd van herstel deurdat vreemdelinge vir hulle sal werk (vers 5); 5) ‘n Tyd van egte godsdiens waar almal as priesters van die Here sal optree (vers 6a); 6) ‘n Tyd van voorspoed waarin hulle die geskenke van die nasies sal geniet (vers 6b-7).
Jesus het waarskynlik dié hoofstuk as sy roepingsteks geneem, soos ‘n mens uit Lukas 4 aflei (wat ons binnekort sal lees). Na die versoeking in die woestyn kom Jesus in Nasaret, en lees Hy hierdie gedeelte uit die boek Jesaja vir die gemeente. Hy verklaar: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (Luk 4:21). Hierdie gedeelte uit Jesaja gee dus vir ons ‘n kernagtige sleutel om Jesus se bediening te verstaan. Die beloftes in Jesaja is ook op ons as dissipels van Jesus van toepassing.
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-61-n-blye-boodskap-vir-mense-in-nood/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar