Skip to main content

Jesaja 62:1-7 – God se beloftes word in vervulling gebid

16 Januarie

Jesaja 62:1-7 – God se beloftes word in vervulling gebid

1Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem nie rus nie, totdat haar geregtigheid deurbreek soos ‘n helder lig, haar verlossing brand soos ‘n fakkel. 2Nasies sal jou geregtigheid sien, en al die konings jou roem. Aan jou sal ‘n nuwe naam gegee word; die mond van die Here self sal dit bepaal. 3Jy sal ‘n sierlike erekroon wees in die hand van die Here, ‘n kosbare koninklike hoofband in die handpalm van jou God. 4Mense sal nie meer vir jou sê “Verlatene” nie, en vir jou land nie meer sê “Woesteny” nie; maar jy sal genoem word “My Vreugde is in Haar”, en jou land “Getroude”. Want die Here vind vreugde in jou, en jou land sal getroud wees; 5ja, soos ‘n jong man trou met ‘n jong meisie, sal jou kinders met jou trou. Met die vreugde van ‘n bruidegom oor sy bruid, sal jou God Hom oor jou verheug. 6Op jou stadsmure, Jerusalem, het ek wagte uitgesit. Dwarsdeur die dag en nag sal hulle nie ‘n oomblik lank swyg nie. Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! 7Gun Hom ook geen rus nie, totdat Hy haar gevestig het, totdat Hy Jerusalem ‘n loflied op aarde gemaak het!

Dit bly een van die wonderlikste eienskappe van God, dat Hy iets so nuut kan maak, dat dit is asof daar nooit iets verkeerds was in die eerste plek nie. En die rede daarvoor lê opgesluit in sy liefde vir mense, meer spesifiek in hierdie gedeelte, vir die mense van Jerusalem en Sion.

Let op dat Jesaja hier die jubeling oor die redding van Jerusalem aan almal bekend maak vóórdat dit inderdaad ‘n werklikheid word. Dit is in die verkondiging van die toekoms, wat die toekoms ‘n werklikheid raak. Dit is hoe God in die eerste plek geskep het. Hierdie profesie het daarom dieselfde krag, omdat dit op God se beloftes geskoei is.

God se liefde vir sy mense is die rede vir sy redding. Hy maak alles nuut, sy verhouding met hulle inkluis. En weereens is die boodskap ook bedoel vir die nasies. Soos ‘n mens kan jubel oor die oorwinning wat kom, en daarmee letterlik die toekoms in aanskyn roep, só moet ‘n mens ook bid dat dit inderdaad sal kom. Daarom word die wagters op die mure opgeroep om saam te werk en die Here aan sy beloftes te herinner in hulle voorbidding. Die beklemtoning van gebed wys onteenseglik op die belangrike rol wat gebed speel in die verandering wat God belowe. Laat mens dink aan Jakobus 4 wat sê dat ons nie het nie, omdat ons nie bid nie! En Lukas 11:5–10 wat beklemtoon dat ons met volharding moet bid.

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-62-god-se-beloftes-word-in-vervulling-gebid/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar