1 Korintiërs 12:12-14, 27-31 – Die Gees se gawes bring eenheid in die liggaam

18 Januarie
1 Korintiërs 12:12-14, 27-31 – Die Gees se gawes bring eenheid in die liggaam
12Want soos die liggaam ‘n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met Christus. 13En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. 14Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie … 27Julle is die liggaam van Christus, en elkeen individueel ‘n ledemaat. 28In die gemeente het God aangewys: eerstens apostels, tweedens profete, derdens leraars; daarna kragtige vermoëns, sowel as gawes van genesing, vermoëns om te kan help, om te lei, en verskillende soorte tale. 29Is almal dan apostels? Is almal dan profete, of almal leraars? Het almal miskien kragtige vermoëns? 30Het almal miskien gawes van genesing? Spreek almal dalk in tale? Kan almal dit dalk uitlê? 31Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.
Paulus brei hier uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, wat beteken dat daar nie verdeeldheid kan wees nie. Hy gebruik die beeld van ’n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon. ’n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.
Die Gees se bedoeling en belofte is dat as die gawes binne die eenheid van die liggaam gebruik word die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg kan dra vir mekaar en hulle roeping in die wêreld kan nakom. Onder andere deur mense wat spesifieke take ontvang het: apostels, profete en leraars – gawes wat veral met die Woordbediening te make het. En deur mense wat spesifieke gawes ontvang het: kragtige vermoëns (om wonderdade te kan doen), genesing, om te kan help (bystand te verleen), om te lei (in Grieks kubernesis wat dui op bestuur of administrasie), en verskillende soorte tale – gawes wat veral met praktiese getuienis en dienslewering te make het. Die lysie kom ooreen met dié in vers 7-11 (wat ons voorheen gelees het), behalwe dat daar hier twee ekstra gawes genoem word: hulpverlening en leiding. Dit wys dat die gawes (en take – dink ook aan die ampte in die kerk) nie ’n vaste aantal was nie, maar slegs as voorbeelde of as ‘n seleksie van die belangrikstes genoem word.
Paulus beklemtoon verder dat nie almal al die gawes het nie (almal het nie die gawe van verskillende tale nie), en dat daar beter gawes is (profesie is beter as die gawe van verskillende tale, soos hy in hoofstuk 14 sal aandui). Daarby is alle gawes en take ondergeskik aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is. Daaroor handel hoofstuk 13. Dink vandag na oor watter gawes die Gees vir jou gegee het, en hoe jy dit in jou gemeenskap van gelowiges kan gebruik.
Lees meer: https://bybelskool.com/1-korintiers-12-verskeidenheid-dien-die-eenheid/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar